Sleutelpunte: Ramaphosa dek álles in staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in die parlement (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagaand in sy eerste staatsrede in die parlement in Kaapstad gesê ʼn nuwe era het aangebreek vir Suid-Afrika – ʼn era waarin die “ongeregtighede van die verlede en die ongelykhede van die hede” ten sterkste aandag gaan kry.

Ramaphosa, wat vir langer as ʼn uur gepraat het, het geen steen in sy toespraak onaangeraak gelaat nie.

Hy is luidkeels toegejuig en is nie ʼn enkele keer oordonder of gehekel nie toe hy onder meer oor werkskepping, armoede, korrupsie, gratis hoër onderwys en die landwye droogte gepraat het.

Dit was egter nie nét wat Suid-Afrikaners wou hoor nie: Hy het wél bevestig dat die ANC-beleid van grondonteiening sonder vergoeding sal voortgaan, maar bygevoeg dat grondonteiening nie moet plaasvind op ʼn manier wat die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan benadeel nie.

Hy het ook verskoning gevra dat die staatsrede verlede week uitgestel is, maar gesê dit is gedoen in die belang van die land sodat daar oor die politieke oorgange in Suid-Afrika gepraat kan word.

Die enigste oomblik tydens die toespraak wat rumoer – hoewel nie noemenswaardig nie – veroorsaak het, was toe oudpres. Jacob Zuma uitgejou is nadat Ramaphosa hom vir sy twee termyne as president bedank het en ook vir die manier waarop hy ʼn “moeilike en sensitiewe proses” die afgelope tyd hanteer het.

Hier is sommige van die sleutelpunte waaraan Ramaphosa aandag gegee het:

Armoede
Ramaphosa het gesê hoewel armoede drasties afgeneem het sedert die land in 1994 ʼn demokrasie geword het, het armoede en werkloosheid veral sedert 2015 weer gestyg. Ongelykheid het ook sedertdien toegeneem.

Volgens hom het die ekonomie nie genoeg geroei om genoeg werk vir mense te skep om Suid-Afrika uit armoede te lig nie. Hoewel daar te midde van swak ekonomiese groei wel werkskepping was, was die pas nie vinnig genoeg om by te hou by die aantal jong mense wat jaarliks die arbeidsmark betree nie.

Ten spyte van dié situasie is daar volgens hom deur die huidige regering nietemin 3,2 miljoen werksgeleenthede geskep.

In ʼn poging om armoede in die land te verminder ondersteun die regering se basiesediensteprogram tans meer as 3,5 miljoen behoeftige huishoudings. Maatskaplike toelaes aan meer as 17 miljoen mense – een derde van die land se inwoners – word maandeliks betaal.

“Ons wil aan ʼn land bou waarin ʼn persoon se vooruitstigte deur sy eie inisiatiewe en harde werk bepaal word en nié volgens die kleur van sy vel, sy geboorteplek, sy geslag, taal of die inkomste van sy ouers nie,” het hy gesê.

Korrupsie
Ramaphosa het gesê die regstelsel het verskeie inisiatiewe ontwikkel wat sal verseker dat korrupsie ʼn nekslag toegedien word.

Hy het bevestig dat die kommissie van ondersoek na staatskaping, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, binnekort met sy werk sal begin. Volgens Ramaphosa is dit nodig dat die kommissie die omvang van staatskaping bepaal en eindelik ook weer die publiek se vertroue in openbare instellings herstel. Die belangrikste is volgens hom egter dat diegene wat verantwoordelik is vir misdrywe, aan die pen sal ry.

“Ons moet onthou dat daar altyd iemand is wat bereid is om te betaal wanneer iemand omkoopgeld ontvang,” het hy gesê. “Ons doen ʼn beroep op professionele liggame en regulerende owerhede om op te tree teen albei partye wat onbehoorlik en oneties opgetree het.”

Ramaphosa het gesê hy gaan op versoek van Malusi Gigaba, minister van finansies, ʼn kommissie van ondersoek na die belastingadministrasie en -beheer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) instel. Dit is volgens hom om te verseker dat die “geloofwaardigheid van die liggaam herstel word”.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in die parlement (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Staatsbeheerde organisasies
Ramaphosa het gesê baie van die staatsbeheerde organisasies ervaar ernstige finansiële, operasionele en bestuursprobleme wat ʼn impak op die prestasie van die ekonomie gehad het.

Hy het gesê die regering beoog om in te gryp – en dat die onlangse optrede by Eskom om korrupsie uit te wis maar net die begin is.

“Ons sal die werklikheid moet aanvaar dat sommige van hierdie organisasies nie genoeg inkomste het om hul bedryfskoste te finansier nie. Ons sal dus die finansieringsplan van die organisasies moet hersien. Dit is egter nie ʼn oplossing om onophoudelik lenings aan dié instansies toe te staan nie. Daarbenewens sal ons die manier verander waarop die direksies aangestel word, sodat slegs mense met kundigheid, ervaring en integriteit in hierdie belangrike posisies dien. Vanjaar is die jaar wat ons korrupsie in hierdie organisasies smoor.”

Werkskepping
Ramaphosa het gesê ʼn beraad sal binne die volgende paar maande gehou word om te besin oor werkskepping.

Hy het gesê die land se grootste en dringendste uitdaging is werkloosheid onder die jeug. Volgens hom is daar reeds planne om geleenthede vir jong mense te skep om blootgestel te word aan die arbeidswêreld deur internskappe, mentorskapsprogramme en entrepreneurskap.

Een van die projekte is ʼn jeug-indiensnemingsveldtog wat volgende maand momentum kry. “Tesame met ons vennote het ons ingestem om in die volgende drie jaar ʼn miljoen betaalde internskappe te skep in ondernemings reg oor die land,”  het hy gesê.

Daar is ook programme wat spesifiek gaan fokus op bemagtiging. Deur middel van maatreëls soos voorkeurverkryging en die swart industrialiste- program beoog die regering om ʼn “nuwe generasie swart vroue te leer” om groot ondernemings van die grond af te kry.

Verder sal die regering streng toesien dat swart professionele persone ondersteun moet word en dat maatskappye moet transformeer.

Grondonteiening
Ramaphosa het gesê landbou het die grootste bydrae gelewer tot die verbeterde groei van die land se ekonomie in die tweede en derde kwartaal van 2017.

“Ons sal ons grondonteieningsbeleid versnel, nie net om ʼn ernstige historiese onreg te herstel nie, maar ook om meer produsente in die landbousektor toe te laat en meer grond beskikbaar te stel vir verbouing. Grondonteiening sal ook sonder vergoeding plaasvind – soos daar tydens die 54ste nasionale konferensie van die regerende party besluit is,” het hy gesê.

Ramaphosa het gesê hy is egter vasbeslote dat onteiening sonder vergoeding geïmplementeer moet word op ʼn manier wat landbouproduksie verhoog, voedselveiligheid verseker en verder ook verseker dat die grond terugbesorg word aan diegene van wie dit tydens “ kolonialisme en apartheid geneem is”.

ʼn Nasionale minimum loon
Die nasionale minimum loon sal op 1 Mei ingestel word.

Ramaphosa het gesê dié nuwe minimum loon is in navolging van die vryheidshandves.

“Hierdie nuwe minimum loon sal na verwagting die verdienste van meer as ses miljoen werkende Suid-Afrikaners verhoog en die lewensomstandighede van huishoudings reg oor die land verbeter. Die instelling van ʼn nasionale minimum loon is daargestel om die ongelykheid in lone te probeer verminder – dit terwyl die ekonomie groei en werk geskep word.”

Die Kaapse droogte
Ramaphosa het gesê die verwoestende droogte in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap het die ekonomie, maatskaplike dienste en landbouproduksie ernstig beïnvloed.

Hy het gesê die droogetoestand in dié drie provinsies word tot ʼn nasionale ramptoestand verklaar.

“Ons is besig om die nodige buitengewone maatreëls wat ingevolge die wetgewing toegelaat word, in werking te stel. Ek moedig die inwoners van Kaapstad en die res van die Wes-Kaap aan om waterbesparende maatreëls noukeurig te gehoorsaam. Ons doen ʼn beroep op almal in die land om water spaarsaam te gebruik, aangesien ons ʼn water-skaars land is wat staat maak op dié belangrike hulpbron om ons ontwikkelingsaspirasies te verwesenlik.”

Gratis hoër onderwys
Ramaphosa het gesê amper een miljoen studente was verlede jaar ingeskryf vir tersiêre onderwys – volgens hom dubbel soveel as in 1994 voor die demokratiese verkiesing.

Hy het gesê gratis hoër onderwys en opleiding sal vanaf dié jaar vir eerstejaarstudente van huishoudings met ʼn bruto gekombineerde jaarlikse inkomste van tot R350 000 beskikbaar gestel word.

“Die minister van hoër onderwys en opleiding sal die implementering van hierdie beleid lei en later verduidelik, terwyl die minister van finansies alle aspekte van die finansiering van die projek tydens sy begrotingsrede volgende week sal verduidelik,” het hy gesê.

Pres. Ramaphosa en die presidentsvrou, dr Tshepo Motsepe (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Afrikatale by skole
Ramaphosa het gesê alle openbare skole is van die begin van die jaar af verplig om minstens een Afrika-taal aan te bied. Die eerste nasionale seniorsertifikaat -eksamen in gebaretaal sal aan die einde van 2018 vir dowe leerders aangebied word.

Universele gesondheidsdekking

Ramaphosa het gesê universele gesondheidsdekking sal binnekort geïmplementeer word.

“Die wetsontwerp is nou gereed om deur die regering verwerk te word en sal binne die volgende paar weke aan die parlement voorgelê word,” het hy gesê.

Misdaad
Ramaphosa het gesê ʼn gemeenskapspolisiëringstrategie sal deur die loop van die jaar geïmplementeer word. ʼn Sogenaamde jeugmisdaadvoorkomingstrategie gaan ook bekendgestel word om jong mense te bemagtig en te ondersteun om selfversorgend te wees en betrokke te raak by die misdaadbestrydingsinisiatiewe.

“ʼn Sleutelfokus vanjaar sal die verspreiding van hulpbronne wees na die polisiekantoorvlak. Om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter, moet ons ons pogings om misdaad te takel versterk en veiliger gemeenskappe bou,” het hy gesê.

Ramaphosa het ʼn verskeidenheid kwessies tydens sy staatsrede aangeroer. Lees sy volledige toespraak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
AP

Sou graag wou gehoor het van plaasmoorde, en ook beheer by doeane en ons grense, daar word nou juis 2500 (praat onder korreksie) zimbabwiers gedeporteer uit Engeland, waarheen gaan hulle SA toe? Ek voel net daar moet strenger beheer by ons grense wees. In elk geval sal ons maar positief bly en hoop vir ‘n beter SA dit kan tog net beter gaan noudat Zuma nie meer president is nie, en die Guptas aan die vlug is.

Casper Labuschagne

En hier begin ons nagmerries want nie die nasionale gesondheidsplan, basiese minimumloon of gratis onderwys is werkbaar nie. Daarby kan onteiening sonder vergoeding opgeen manier gedoen word sonder om ernstige ekomoniese onsekerheid asook skade te veroorsaak nie. Ten minsste was bestryding van misdaad en die stryd teen korrupsie positiewe punte. Dit alles beteken dat die middelklas wat reeds swaarkry net meer daarvoor sal moet opdok.

ANC

Uiteindelik weer n president wat ons nasie kan lei. Amandla!

Alida

Bravo CR hy kan praat dat mens verstaan wat hy se en is geleerd en volwasse. Ons moet positief bly.

rollie

‘n Uitstekende toespraak as jy ‘n swart Suid-Afrikaner is, kommerwekkend as jy wit is. Van grondonteiening sonder vergoeding (mens kan aanvaar grond wat tans in wit besit is) tot versnelling van transformasie, SEB en werksgeleenthede wat vir die swart jeug geskep gaan word. Nie juis iets om oor opgewonde te raak as jy ‘n wit werklose of wit jong skoolverlater is nie. Ek kry veral die wit, ouer, werklose persoon jammer wat nie hier of oorsee gaan werk kry nie.