Sleutelpunte: Ramaphosa dek álles in staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in die parlement (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagaand in sy eerste staatsrede in die parlement in Kaapstad gesê ʼn nuwe era het aangebreek vir Suid-Afrika – ʼn era waarin die “ongeregtighede van die verlede en die ongelykhede van die hede” ten sterkste aandag gaan kry.

Ramaphosa, wat vir langer as ʼn uur gepraat het, het geen steen in sy toespraak onaangeraak gelaat nie.

Hy is luidkeels toegejuig en is nie ʼn enkele keer oordonder of gehekel nie toe hy onder meer oor werkskepping, armoede, korrupsie, gratis hoër onderwys en die landwye droogte gepraat het.

Dit was egter nie nét wat Suid-Afrikaners wou hoor nie: Hy het wél bevestig dat die ANC-beleid van grondonteiening sonder vergoeding sal voortgaan, maar bygevoeg dat grondonteiening nie moet plaasvind op ʼn manier wat die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan benadeel nie.

Hy het ook verskoning gevra dat die staatsrede verlede week uitgestel is, maar gesê dit is gedoen in die belang van die land sodat daar oor die politieke oorgange in Suid-Afrika gepraat kan word.

Die enigste oomblik tydens die toespraak wat rumoer – hoewel nie noemenswaardig nie – veroorsaak het, was toe oudpres. Jacob Zuma uitgejou is nadat Ramaphosa hom vir sy twee termyne as president bedank het en ook vir die manier waarop hy ʼn “moeilike en sensitiewe proses” die afgelope tyd hanteer het.

Hier is sommige van die sleutelpunte waaraan Ramaphosa aandag gegee het:

Armoede
Ramaphosa het gesê hoewel armoede drasties afgeneem het sedert die land in 1994 ʼn demokrasie geword het, het armoede en werkloosheid veral sedert 2015 weer gestyg. Ongelykheid het ook sedertdien toegeneem.

Volgens hom het die ekonomie nie genoeg geroei om genoeg werk vir mense te skep om Suid-Afrika uit armoede te lig nie. Hoewel daar te midde van swak ekonomiese groei wel werkskepping was, was die pas nie vinnig genoeg om by te hou by die aantal jong mense wat jaarliks die arbeidsmark betree nie.

Ten spyte van dié situasie is daar volgens hom deur die huidige regering nietemin 3,2 miljoen werksgeleenthede geskep.

In ʼn poging om armoede in die land te verminder ondersteun die regering se basiesediensteprogram tans meer as 3,5 miljoen behoeftige huishoudings. Maatskaplike toelaes aan meer as 17 miljoen mense – een derde van die land se inwoners – word maandeliks betaal.

“Ons wil aan ʼn land bou waarin ʼn persoon se vooruitstigte deur sy eie inisiatiewe en harde werk bepaal word en nié volgens die kleur van sy vel, sy geboorteplek, sy geslag, taal of die inkomste van sy ouers nie,” het hy gesê.

Korrupsie
Ramaphosa het gesê die regstelsel het verskeie inisiatiewe ontwikkel wat sal verseker dat korrupsie ʼn nekslag toegedien word.

Hy het bevestig dat die kommissie van ondersoek na staatskaping, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, binnekort met sy werk sal begin. Volgens Ramaphosa is dit nodig dat die kommissie die omvang van staatskaping bepaal en eindelik ook weer die publiek se vertroue in openbare instellings herstel. Die belangrikste is volgens hom egter dat diegene wat verantwoordelik is vir misdrywe, aan die pen sal ry.

“Ons moet onthou dat daar altyd iemand is wat bereid is om te betaal wanneer iemand omkoopgeld ontvang,” het hy gesê. “Ons doen ʼn beroep op professionele liggame en regulerende owerhede om op te tree teen albei partye wat onbehoorlik en oneties opgetree het.”

Ramaphosa het gesê hy gaan op versoek van Malusi Gigaba, minister van finansies, ʼn kommissie van ondersoek na die belastingadministrasie en -beheer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) instel. Dit is volgens hom om te verseker dat die “geloofwaardigheid van die liggaam herstel word”.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede in die parlement (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Staatsbeheerde organisasies
Ramaphosa het gesê baie van die staatsbeheerde organisasies ervaar ernstige finansiële, operasionele en bestuursprobleme wat ʼn impak op die prestasie van die ekonomie gehad het.

Hy het gesê die regering beoog om in te gryp – en dat die onlangse optrede by Eskom om korrupsie uit te wis maar net die begin is.

“Ons sal die werklikheid moet aanvaar dat sommige van hierdie organisasies nie genoeg inkomste het om hul bedryfskoste te finansier nie. Ons sal dus die finansieringsplan van die organisasies moet hersien. Dit is egter nie ʼn oplossing om onophoudelik lenings aan dié instansies toe te staan nie. Daarbenewens sal ons die manier verander waarop die direksies aangestel word, sodat slegs mense met kundigheid, ervaring en integriteit in hierdie belangrike posisies dien. Vanjaar is die jaar wat ons korrupsie in hierdie organisasies smoor.”

Werkskepping
Ramaphosa het gesê ʼn beraad sal binne die volgende paar maande gehou word om te besin oor werkskepping.

Hy het gesê die land se grootste en dringendste uitdaging is werkloosheid onder die jeug. Volgens hom is daar reeds planne om geleenthede vir jong mense te skep om blootgestel te word aan die arbeidswêreld deur internskappe, mentorskapsprogramme en entrepreneurskap.

Een van die projekte is ʼn jeug-indiensnemingsveldtog wat volgende maand momentum kry. “Tesame met ons vennote het ons ingestem om in die volgende drie jaar ʼn miljoen betaalde internskappe te skep in ondernemings reg oor die land,”  het hy gesê.

Daar is ook programme wat spesifiek gaan fokus op bemagtiging. Deur middel van maatreëls soos voorkeurverkryging en die swart industrialiste- program beoog die regering om ʼn “nuwe generasie swart vroue te leer” om groot ondernemings van die grond af te kry.

Verder sal die regering streng toesien dat swart professionele persone ondersteun moet word en dat maatskappye moet transformeer.

Grondonteiening
Ramaphosa het gesê landbou het die grootste bydrae gelewer tot die verbeterde groei van die land se ekonomie in die tweede en derde kwartaal van 2017.

“Ons sal ons grondonteieningsbeleid versnel, nie net om ʼn ernstige historiese onreg te herstel nie, maar ook om meer produsente in die landbousektor toe te laat en meer grond beskikbaar te stel vir verbouing. Grondonteiening sal ook sonder vergoeding plaasvind – soos daar tydens die 54ste nasionale konferensie van die regerende party besluit is,” het hy gesê.

Ramaphosa het gesê hy is egter vasbeslote dat onteiening sonder vergoeding geïmplementeer moet word op ʼn manier wat landbouproduksie verhoog, voedselveiligheid verseker en verder ook verseker dat die grond terugbesorg word aan diegene van wie dit tydens “ kolonialisme en apartheid geneem is”.

ʼn Nasionale minimum loon
Die nasionale minimum loon sal op 1 Mei ingestel word.

Ramaphosa het gesê dié nuwe minimum loon is in navolging van die vryheidshandves.

“Hierdie nuwe minimum loon sal na verwagting die verdienste van meer as ses miljoen werkende Suid-Afrikaners verhoog en die lewensomstandighede van huishoudings reg oor die land verbeter. Die instelling van ʼn nasionale minimum loon is daargestel om die ongelykheid in lone te probeer verminder – dit terwyl die ekonomie groei en werk geskep word.”

Die Kaapse droogte
Ramaphosa het gesê die verwoestende droogte in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap het die ekonomie, maatskaplike dienste en landbouproduksie ernstig beïnvloed.

Hy het gesê die droogetoestand in dié drie provinsies word tot ʼn nasionale ramptoestand verklaar.

“Ons is besig om die nodige buitengewone maatreëls wat ingevolge die wetgewing toegelaat word, in werking te stel. Ek moedig die inwoners van Kaapstad en die res van die Wes-Kaap aan om waterbesparende maatreëls noukeurig te gehoorsaam. Ons doen ʼn beroep op almal in die land om water spaarsaam te gebruik, aangesien ons ʼn water-skaars land is wat staat maak op dié belangrike hulpbron om ons ontwikkelingsaspirasies te verwesenlik.”

Gratis hoër onderwys
Ramaphosa het gesê amper een miljoen studente was verlede jaar ingeskryf vir tersiêre onderwys – volgens hom dubbel soveel as in 1994 voor die demokratiese verkiesing.

Hy het gesê gratis hoër onderwys en opleiding sal vanaf dié jaar vir eerstejaarstudente van huishoudings met ʼn bruto gekombineerde jaarlikse inkomste van tot R350 000 beskikbaar gestel word.

“Die minister van hoër onderwys en opleiding sal die implementering van hierdie beleid lei en later verduidelik, terwyl die minister van finansies alle aspekte van die finansiering van die projek tydens sy begrotingsrede volgende week sal verduidelik,” het hy gesê.

Pres. Ramaphosa en die presidentsvrou, dr Tshepo Motsepe (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Afrikatale by skole
Ramaphosa het gesê alle openbare skole is van die begin van die jaar af verplig om minstens een Afrika-taal aan te bied. Die eerste nasionale seniorsertifikaat -eksamen in gebaretaal sal aan die einde van 2018 vir dowe leerders aangebied word.

Universele gesondheidsdekking

Ramaphosa het gesê universele gesondheidsdekking sal binnekort geïmplementeer word.

“Die wetsontwerp is nou gereed om deur die regering verwerk te word en sal binne die volgende paar weke aan die parlement voorgelê word,” het hy gesê.

Misdaad
Ramaphosa het gesê ʼn gemeenskapspolisiëringstrategie sal deur die loop van die jaar geïmplementeer word. ʼn Sogenaamde jeugmisdaadvoorkomingstrategie gaan ook bekendgestel word om jong mense te bemagtig en te ondersteun om selfversorgend te wees en betrokke te raak by die misdaadbestrydingsinisiatiewe.

“ʼn Sleutelfokus vanjaar sal die verspreiding van hulpbronne wees na die polisiekantoorvlak. Om die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter, moet ons ons pogings om misdaad te takel versterk en veiliger gemeenskappe bou,” het hy gesê.

Ramaphosa het ʼn verskeidenheid kwessies tydens sy staatsrede aangeroer. Lees sy volledige toespraak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

53 Kommentare

AP ·

Sou graag wou gehoor het van plaasmoorde, en ook beheer by doeane en ons grense, daar word nou juis 2500 (praat onder korreksie) zimbabwiers gedeporteer uit Engeland, waarheen gaan hulle SA toe? Ek voel net daar moet strenger beheer by ons grense wees. In elk geval sal ons maar positief bly en hoop vir ‘n beter SA dit kan tog net beter gaan noudat Zuma nie meer president is nie, en die Guptas aan die vlug is.

Joe Hall ·

Ek sou graag wil hoor waarom die voormalige Adjunk President wie nou die President van hierdie droewe land is, vir bykans 10 jaar so stil soos ‘n muis was terwyl die korrupte regime waarvan hy lid is, toegelaat het dat die vorige President met al die wandade en trieks weg gekom het.

Casper Labuschagne ·

En hier begin ons nagmerries want nie die nasionale gesondheidsplan, basiese minimumloon of gratis onderwys is werkbaar nie. Daarby kan onteiening sonder vergoeding opgeen manier gedoen word sonder om ernstige ekomoniese onsekerheid asook skade te veroorsaak nie. Ten minsste was bestryding van misdaad en die stryd teen korrupsie positiewe punte. Dit alles beteken dat die middelklas wat reeds swaarkry net meer daarvoor sal moet opdok.

Gerrit ·

Twee dinge het my gekwel van sy toespraak. Eerstens: die gebrek aan melding dat plaasmoorde en dus landelike veiligheid enige aandag sal geniet, en tweedens: die feit dat grondonteiening sonder vergoeding WEL genoem was.

Die grondkwessie is kommerwekkend om die minste te se. Ek weet van talle stukke grond wat die goewerment reeds oor die jare aan “voorheen benadeeldes” oorgedra het. Daardie einste plase staan vandag leeg, kaal gestroop en met geen produktiewe aktiwiteite daarop. Nugter alleen weet HOE hul rondom die kwessie gaan kom sonder om produksie (en die ekonomie) ‘n knou te gee. Ek kon tot dusver nog geen aanduiding sien wat die teendeel kan bewys.

Ek sien ook dat belastingbetalers aansienlik meer gaan opdok vorentoe – al daardie inisiatiewe en skemas waarvan gepraat is om werk te skep vir die massas gaan fondse benodig…

Boerseun ·

Onteiening sonder vergoeding gaan ly tot oorlog, hoor dit maar

Paul ·

“Amandla” is ‘n roep en versugting uit die verlede teen apartheid wat nie in die huidige tuis hoort nie. As jy weet wat die beteken sal jy nie roekeloos daarmee omgaan nie. Of klink dit maar vir jou mooi?

ANC ·

Amandla, beteken bloot power. En dis waty president aan ons wil gee. South Africa send me, South Africa use me… be part of the change (ai die woorde uit sy mond is soos heuning vir my) moenie so stuck up wees in jou eie weë nie. Sit die verlede agter jou en help bou aan ons môre saam!

Alida ·

Bravo CR hy kan praat dat mens verstaan wat hy se en is geleerd en volwasse. Ons moet positief bly.

Casper Labuschagne ·

@Alida, jy is reg, Cyril is dit alles. Maar daar is die gesegde van “lipstiffie op ‘n vark sit” en die vark in die verhaal is die ANC se beleid van herverdeling van eiendom, die minimumloon wat tot net meer werkloosheid sal lei en die nasionale gesondheidsplan wat wonderlik is mits jy van Kubaanse dokters en staatshospitale se swak diens hou. En al daardie dinge het Ramaphosa beaam in sy toespraak, so wat moet ek doen, positief bly of vir ons president glo dat hy presies sal doen wat hy gesê het?

rollie ·

‘n Uitstekende toespraak as jy ‘n swart Suid-Afrikaner is, kommerwekkend as jy wit is. Van grondonteiening sonder vergoeding (mens kan aanvaar grond wat tans in wit besit is) tot versnelling van transformasie, SEB en werksgeleenthede wat vir die swart jeug geskep gaan word. Nie juis iets om oor opgewonde te raak as jy ‘n wit werklose of wit jong skoolverlater is nie. Ek kry veral die wit, ouer, werklose persoon jammer wat nie hier of oorsee gaan werk kry nie.

Cornelia ·

Ramaphosa is die grootste enkele faktor wat Suid Afrika in ‘n burgeroorlog sal dompel met sy voornemende grondgryp propaganda. Waar Zuma se vergrype ophou sal Ramaphosa voortgryp om wettige eiendomsreg te skénd. ‘n Resep vir konflik. Hy sal dalk as die mees opportunistiese president naas Mugabe in die geskiedenis afgeskryf word. Nou ja, hierdie mens weet egter dat net soos met Mordegai, sal “Haman” tot sy eie skade planne smee.

Danie ·

Nuwe besems probeer altyd skoon vee. Dit sal naief wees om te dink dat `n engel uit die hemel op ons neergedaal het. Daar is al baie beloftes deur die ANC gemaak wat of as gevolg van die realisme daarvan of die swak en korrupte bestuur daarvan misluk het. Hierdie man kom uit dieselfde stal. Kom ons wag en kyk.

Yankee ·

Opgewonde!! Regtig. So n kleine landjie, so deurmekaar, so onseker.

Kerneels ·

BBBEE is ‘n erkening deur regering en.partye wat dit ondersteun dat daar mense is wat niks vir hulle self kan of wil doen nie. Vir 23 jaar sukkel die mense wat nie deur BBBEE bevoordeel nog voort. Nou moet dit wat ons bereik het ook gevat word oor die bevoordeeldes nog niks kom regkry nie.

Werner ·

Alle ongeregtighede van die verlede aanspreek beteken grond vat sonder vergoeding geen werk vir blankes dis wat hy al gesê het en julle is baie opgewonde daaroor daar is iets verkeerd

Pop ·

Gerhard, ek is nog steeds erg opgewonde dat Zuma weg is. En dat daar nou iemand in parlement staan wat ten minste praat sodat mense hom verstaan. Vir die res wag ek maar met ingehoue asem.

kla-kous ·

As grond dan geteiken MOET word, wat is die regverdiging om net landbougrond te teiken? Wat gebeur met al Cyril se eiendom wat deels deur blankes besit word (soos ‘n nabygeleë plaas)? Vat hy alles?

Boer ·

Afrikaners word wakker! Die onteiening van grond gaan nie die ekonomie beskadig nie….dit gaan SA vernietig. Hoe gouer julle klomp wat sò opgewonde is oor die “nuwe” toekoms dit besef, hoe beter! Ons is in die pot…nou gaan dit net stadig warmer word

Boeremeisie ·

Stem 100% met jou saam! Dat mense op so ligsinnige manier met hulle EIE toekoms kan aangaan, gaan my verstand te bowe!

Cherokee ·

Jy en julle met jul wakkerwordrympie… wat op aarde moet die Suid Afrikaners (waarvan ten minste die helfte al ontwaak het, doen as hulle ‘wakker geword het’? Antwoord my groot-asseblief op die vraag.

Bessie Buys ·

Kon maar verlede week voortgegaan het met staatsrede. Zuma se storie sou dieselfde gewees het.

WG ·

Jy is reg. Ek sien nie ‘n toekoms vir my kinders in die land nie!

gatiep ·

Nou gaan die Afrikaner se swaarkry regtig begin met die nuwe ou.
Ek het nou geen hoop meer vir ons nie.
Engelse het ons nou heeltemal in n blik.

Vasbyt ·

Dis jammer dat dit nou n gegewe is oor grondonteiening sonder vergoeding.Die skrif is teen die muur……
Dit is egter waaroor Siener geskryf het.Sodra alles verval en tot stilstand geruk het oor n paar jaar sal ons dan die wa deur die drif trek sonder enige bagasie.

Linda du plessis ·

Daar is nie een enkele ding gese wat ons blankes hoop op n beter toekoms kan gee nie! Inteendeel alles wat hy beplan is ten gunste van hulle! “Swartjeug”, ” swart vrouens”.. Ons praat nie eers van grondhervorming sonder vergoeding nie. Ons is in groter moeilikheid as ooit!

Nossop ·

Ek hoop die onteiening begin by die plase wat destyds aan opkomende boere gegee is wat tans leeg staan. Plase wat in die verlede met lande vol kos gestaan het se lande is onder bossies, besproeiings stelsels en pompe is gestroop en verkoop. Die huise op die plase is onleef baar geplunder. As dit is hoe hul wil kos produseer vir die land voorspel ek hongersnoot

Meer moedeloos as ooit ·

En so lui hulle die klok met mooi praatjies om n mooi klokkespel vir die wereld te laat lui maar weet nie waar die klepel hang nie………mooi praatjies oor die tafel maar nou moet jy sien wat onder die tafel gaan gebeur……tipies marksistiese instellinge….geen werklike demokrasie nie……net eenparty oorheersing weer van voor af…..die a..c moet uit gestem word….punt!

Vliegende Struisvogel ·

CR = verlosser? Ons moet aangaan met EIE plan. Territoriale selfbeskikking.. op basis van kantons-stelsel soos in Zwitserland. Ons aantalle wordt steeds minder.
Hulle praat ‘n ander taal, luister ander musiek, ander kultuur.
Ons moet ons eie ding doen.

Dink Reg ·

Jammer , maar mense dink asb tog net reg. Die grondonteiening gaan voort! Verder kan ek net nie verstaan hoe almal nie kan sien dis net n ander wolf in skaaps klere nie, hy behoort aan dieselfde trop. Ons het n hele verandering nodig soos Mmusi Aloysias Maimane van die DA. Hy het die regte insig en uitkyk.

ANC ·

Jammer om jou (en ander) se bubble te burst maar die land se president sal deur die ANC gekies word. Die party wat loshande meer as 50persent van die stemme in elke verkiesing gaan kry. So tensy hy nie ANC is nie, sal hy nooit president kan wees nie. Ons werk op demokrasie. Meerderheid stem, en meerderheid rule. Mos darem maklik on te verstaan…

Louis ·

Meeste goed is redelik maar die grondonteining sonder vergoeding? Hoekom word wil hulle dit wettig maak om dit van die mense wat dit van niks af opgebou, aftevat en vir hulle gee… beteken dit dat hulle plaasmoorde kan maak of dit nie bestaan nie deur hulle kop in die grond te druk? Seker hoekom dit nie as ‘n ernstige punt beskou word nie.
Hoekom kan daar nie eerder vir hulle onbewerkte grond gehuur word waar hulle van niks af self kan op bou nie? Die land het nog baie oop velde en grond wat benut kan word

DJ ·

Hy moet natuurlik seker maak die ANC bly aan bewind, dis dié dat hy sulke beloftes maak! Hou niks goeds in vir blankes of SA as geheel

Maria ·

Mense en vriende …. moenie bang wees nie asook opstandig word nie…moenie vergeet op die dag van beloftes dag… 16de Desember 1838 wat HERE vir ons gedoen nie (Numbers 23:19-20)

Dries ·

Ons moet nou na mekaar begin omsien. Daar is alreeds baie positiewe tekens in hierdie verband. Kom ons hou besigheid tussen ons, maak seker ons mense het werk en so doende groei ons uit hierdie gemors uit. Laer trek is nou die antwoord. Ons moet ook bereid wees om dit wat vir ons kosbaar is, te beskrem. Ons moet nie toelaat dat ons mense op die mees wreedaardigste wyse vermoor word nie.

maggies ·

Ek stem…laer trek. Ons is Afrikaners kyk hoe het ons voorgeslagte geveg. Murg in die pype. Ons moenie bang wees nie.

M'Lady ·

Mense, hierdie man is 100 maal gevaarliker as wat Zuma ooit was. Sy woord “pasop” was nie verniet in Afrikaans nie. Hy is beslis nie die beloofde messias nie, inteendeel. Skrik net n slag wakker.

Han ·

M’Lady, jou en ander se alewige kommentaar van “skrik net ‘n slag wakker.” Ek stem saam met Cherokee dat ás ons wakker geskrik het, wat dan?

LR ·

As ek kyk na bg kommentare sal CR bitter vinnig sy beleid van onteiening SONDER VERGOEDING (tans is dit teen die grondwet) volledig moet verduidelik sodat veral die wit boere (ons weet mos dis teen wit gemik) sekerheid hieroor kan hê sodat hulle hul eie strategie kan beplan.
Ek hoop van harte dat hierdie enkele ANC beleid nie hierdie land in n gemors dompel nie.

Jax ·

Mense lees tog seblief ook die derde paragraaf onder grondonteiening! Ramaphosa is n baie suksesvolle besigheidsman en gaan beslis nie sommer net grond gee vir die bergie om die hoek nie. Wanneer grond gegee word, sal hy beslis toesien dat dit produktief benut word!

Hy weet daar is baie oë en aandag op hom om SA om te draai en n positiewe toekoms na te streef.
Ons moet regtig leer om meer positief te leef en nie net die Bybel ( God se Woord) Sondae oop te maak en te lees nie. Ons moet ingebed tree vir Ons leiers van Ons land en vir elke inwoner! As jy nie glo dat God se werk groter is as al die probleme van die wêreld nie, dan moet jy regtig maar in die buiteland gaan bly. Hopelik tree die mense daar beter teenoor jou op en kan jy soos n koning leef sonder enige hick-ups.
Bid, glo, doen wat jou Vader jou vra om te doen! Om knaend negatief te wees oor allles, bring nilks tafel toe nie!

Waarheid ·

“wens” in jou een hand en DINGES in die ander een.
Nou ja ook daai “pasop” gehoor? hard en dúídelik.. Wat van die regverdigheid? (land RSA) DIT beteken NIKS ..”DINGES”vir volgende méńs ….. as jy op só ‘n manier enige IETS bekom SAL daar dadels? van kom in alle fasette. IN dié wêreld NIE van hom.! Halleluja.?

Niklaas ·

Ramaposa gaan die oorsaak wees van n Burgeroorlog.
Hier gaan een kom volgens Siener.
Ramaposa gaan dit dalk net bespoedig deur sy grondgryp taktiek.

Jurie ·

Sien my vorige notas rondom CR17 en EWC,hoekom het CR in die SONA verwys na FW as “Deputy President” ? Pasop !!!!

Petro ·

Ek wonder na watter land ek kan emmigreer? Waar ek weet my kinders sal ook eendag n werk kan kry. Mandela het gese daar moet GEEN deskrimenasie wees nie, maar daar word klaar gepraat net van SWART uplifting. Ek is al so moeg vir alles. CR het NIE alles aangespreek nie, want van al die plaasmoorde??

Zulu ·

Dek ALLES!!! My voet!! Wat van plaasmoorde?? Of gaan dit onder misdaad??? Nee toe nou nie! NIKS word omtrent dit gese nie, onskuldige, weerlose mense word uitgemoor!!!!

rollie ·

Die probleem gaan begin wanneer die EFF en die massas besef en sien dat die landbougrond wat onteien gaan word nie bloot aan die massas uitgedeel gaan word vir privaatgebruik om mee te maak wat hul wil nie. Hierdie grond gaan meestal in staatsbesit bly en gebruik word om kommersieel te boer (op ‘n SEB wyse).

Yankee ·

Ja, plaasmoorde is misdaad!! Niks met n President te doen. Of moet hy straatop en straaraf loop en soek vir die euwels?

sien-dit-donker-in ·

Ongeregtigheid van die verlede en ongelykheid van die hede?? Hoe lank gaan daar nog aan die stelling gesuig word? Die jongmense van vdag het geen deel aan die

“ongeregtigheid vd verlede gehad nie”. Tog is hulle deel vd sogenaamde “ongelykhede van die hede”. Gaan die gratis onderwys ook op arm blanke gesinne van toepassing wees? Of is dit net van toepassing op die “ongeregtigdes vd verlede”? Ek self dink dat al CR se blablabla is n verkiesingsfoefie. Onuitvoerbaar, maar kry tog weer alle verlore stemme terug.

Demokrasie ·

Aan ANC, kry dit nou eens en vir altyd in jou verstand dat meerderheid stem en meerderheid rule NIE DEMOKRASIE IS NIE – dis MARKSISTIES!!!!

Dewald du Plessis ·

Ek dink CR is beslis ‘n beter president, in terme wat ons in lang tyd nie gehad het nie. Met dit gesê is daar beslis dinge wat uitgelaat is in sy toespraak wat aandag moet kry en ook dinge van wat hy gesê het wat nog steeds nie goed is vir ons land en nasiebou nie. Plaasmoorde, as hul net verder dink sal hul besef plaasmoorde raak hul eie mense ook. Wat word van die werkers as daar nie meer ‘n boer is om voor te werk nie? Grondonteiening sonder vergoeding is diefstal. Ek het al verstaan dat daar baie ongebruikte grond is wat aan die staat behoort (dit kom al van voor 1994 af), hoekom word hierdie gronde nie uitgedeel aan die sogenaamde benadeeldes nie. Elke jaar word daar gespog oor hoeveel werkspekking daar was en dit klink goed maar dit klink ook net goed omdat dit nie langs die syfers gesit word van hoeveel hul werk verloor het as gevolg van ekonomiese druk nie oor dieselfde tydperk nie. En ook hoeveel is wat nuut toetree tot die werksmag (laasjaar matriek geskryf of studies voltooi het) of ‘n wyle werkloos was (paar jaar al sedert matriek sukkel om werk te kry of werk verloor het en nou weer werk gekry het)

Joe Hall ·

Steve Hofmeyr het ‘n uitstekende artikel in vandag se Rapport oor die ANC sirkus in die algemeen en in besonder oor die ou nar wat deur die nuwe een vervang is.
Steve jou yster!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.