Slim voetgangeroorgang kan verkeer beperk

Een van die voetgangeroorgang. (Foto: Verskaf)

ʼn Innoverende voetgangeroorgang wat voetgangers se bewegings monitor moet nou die verkeer in dele van die Moederstad beter reguleer.

Die stelsel, wat die eerste van sy soort in Suid-Afrika is, is by vier verskillende voetgangeroorgange in Bloubergstrand geïnstalleer, onderskeidelik in Marine- en Otto-rylaan.

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, sê termiese sensors is onder die onderskeie voetgangeroorgange geplaas om verkeer beter te reguleer in gebiede waar daar groot volumes voertuie en voetgangers is.

“Ons sien gereeld dat motors by rooi verkeersligte toustaan nadat voetgangers lank reeds die pad oorgesteek het,” sê hy.

“Met hierdie innoverende stelsel word die termiese sensors by voetgangeroorgange gebruik om vas te stel of daar enige voetgangerbeweging is. Sou die voetganger die opsporingsone verlaat voordat die voetgangersiklus geaktiveer is, sal die voetgangerversoek heeltemal gekanselleer word en voertuie sal nie onnodig opgehou word nie.”

Dié soort stelsel word wyd in dele van Europa gebruik om verkeer te reguleer.

Die stelsel is by vier verskillende voetgangeroorgange in Bloubergstrand geïnstalleer. (Foto: Verskaf)

“Hopelik sal ons met die termiese sensors minder verkeersoortredings en gefrustreerde motoriste hê,” sê Quintas.

“Die stelsel sal ook help met verkeersvloei en besoedeling beperk wat veroorsaak word deur voertuie wat vir ʼn lang tyd op een plek luier. Nog ʼn bonus is dat daar ook nou minder vandalisme gaan wees. Dit gebeur dikwels dat die knoppies by voetgangeroorgange met stokke vasgedruk word of stukkend is. ʼn Termiese voetgangeroorgang het nie knoppies nodig nie, aangesien dit outomaties werk.”

Die nuwe tegnologie word deur ʼn opsporingsensor gedryf en maak gebruik van termiese beelde om voetgangers en fietsryers op te spoor.

“Die stelsel word nie deur lae beligtingstoestande of selfs totale duisternis geraak nie, aangesien dit termiese beelding gebruik om mense se teenwoordigheid te registreer. Dit bied dus betroubare opsporing en werk goed in alle weerstoestande.”

Quintas het onderneem om die stelsel dop te hou en enige veranderinge aan te bring, indien nodig.

Die sensors kan moontlik in die toekoms op ander plekke geïmplementeer word, afhangende van die geskiktheid daarvan en beskikbare befondsing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

B-Man ·

Die Kaap lyk vir ons hier in die Noorde soos ‘n ander wêreld.

Cherokee ·

Toemaar B-Man, dit sal ook reg kom. Vorentoe lyk die Noorde weer reg en mooi. Soos Durban… hier is alles groen selfs in die hartjie van die winter.

Piet ·

Geen sensor of verkeerslig kan enige motoris of voetganger of fietsryer se denke beheer nie. So, dit is ook irrelevant.

Swerwer ·

Dit werk beslis goed maar dink die DA die terroriste gaan hul steur aan die voetoorgange

Casper ·

Nog ‘n DA uitvinding,hoekom stig die Kaap nie af soos Orania nie,ek weet daar is sprake van selfregering.

Keelvol ·

Hier in Ekurhuleni is die DA n bittere teleurstelling. Ons ry nie meer op teerpaaie. Net slag gate.

Johan ·

Hier in Lyttelton ry en parkeer mense sommer op die sypaadjies, dan moet voetgangers maar in die pad loop. Weet nie waar diè stelsel hier kan werk nie.

Marina ·

Baie innoverend. Dalk moet hulle daarna kyk om iets by rooit robots ook te doen om seker te maak mense ry nie net oor nie, dit is mos nou mode in die land, hoe vinniger jy oor ‘n stopteken of robot kan ry hoe beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.