
Farida Cajee se jongste weergawe van dié kunsledemate is in Augustus as die wenner in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-streeksuitdunne van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes in Vryburg aangewys. Dit het ook die prys vir die beste vroue- en ingenieursprojek ontvang. Foto: Verskaf.
ʼn Slimkop van Schweizer‑Reneke in Noordwes het ʼn plan beraam om die probleme van indringende chirurgie, uitsonderlike duur kunsledemate en afvalplastiek, wat net aanhou ophoop, met een wetenskapprojek op te los.
Farida Cajee (18), ʼn gr. 11-leerling, het ʼn kunsarm en -hand ontwerp wat van afvalplastiek gemaak kan word. Die kunsledemaat word met ʼn 3D-drukker gebou.
Wat die prostese verder besonders maak, is dat Cajee self ʼn rekenaarprogram geskryf het wat met ʼn EEG-kopstuk gebruik word om ʼn persoon se konsentrasievlakke te meet sodat hulle met hul gedagtes die kunsledemaat kan beweeg.
Cajee het verlede jaar reeds ʼn silwermedalje vir die projek op Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes ontvang.
“Verlede jaar se kunshand kon egter nie voorwerpe optel nie. Dit het ook net drie vingers gehad en dit is ook nie van enige herwinbare materiaal gemaak nie,” sê Cajee.
Sy is vroeër vanjaar terug na die tekenbord met dié projek en het besluit om dit verder te verfyn, asook heelwat te vereenvoudig.
Dit is toe dat sy ook sommer besluit het om kunsledemate nie net billik te maak nie, maar ook omgewingsvriendeliker. Sy het PET-plastiekbottels, wat gewoonlik vir water en koeldrank gebruik word, herwin en vir die ontwerp gebruik.
“Die nuwe kunshand het nou ʼn stewige greep wat tot en met 5 kg kan optel,” sê sy.

Farida Cajee se wetenskapprojek het reeds verskeie pryse ontvang maar haar doelwit is om om ʼn goue medalje by die internasionale ronde van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes te kry. Foto: Verskaf.
Cajee se kunsledemate kan teen sowat R9 000 gedruk word, teenoor die gemiddelde R140 000 wat so ʼn prostese gewoonlik kos. Om hierdie prostese goedkoper vir Suid-Afrikaners te maak is volgens haar ook uiteindelik die hooffokus van haar projek.
Die jongste weergawe van die kunsledemate is in Augustus as die wenner in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-streeksuitdunne van Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes in Vryburg aangewys. Dit het ook die prys vir die beste vroue- en ingenieursprojek ontvang.
Cajee neem nou van 25 tot 27 September aan die eindronde van die ekspo in Boksburg in die Gautengse Oos-Rand deel. Hier sal jong wetenskaplikes van 35 verskillende streke in Suid-Afrika en oorsee om die louere vir die beste wetenskapprojekte meeding.
“My doelwit is om ʼn goue medalje te kry by die internasionale ronde van hierdie ekspo, maar die erkenning wat die projek tot dusver ontvang het, is reeds wonderlik. Dit beteken vir my mense sien die potensiaal van hierdie projek raak en bevestig my oortuiging dat ʼn mens dit verder kan ontwikkel.”
Cajee sê raad aan ander jong wetenskaplikes wat daarvan droom om die wêreld te verander is: “Moet asseblief net nie te gou handdoek ingooi nie. Ek het sewe jaar aan dié wetenskapekspo deelgeneem en dit het my jare geneem op die regte projek te kry en dit te verfyn tot op die punt waar dit medaljes begin inpalm het.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
Ek geniet hierdie reeks regtig baie.
Wow! – uitstekend Farida
Fantasties!
Jy net slim maar pragtig. Asb namens my as gestremdes hou aan sodat daar n hoop is vir gestremdes vir toekoms . Mag Here jou werk seen.
Baie geluk!! Waarlik goeie werk!!