Slimmer maniere nodig om misdaad te bekamp

(Argieffoto: SA Polisie)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie sê slimmer maniere van samewerking moet gevind word om misdaad te bekamp.

Dít volg nadat die kwartaallikse misdaadstatistieke weer ʼn styging in veral kontakmisdaad aangedui het.

“Ons bly bekommerd dat moord met 10% toegeneem het, seksuele oortredings met 9,6% en poging tot moord met 24,3%. Dit is ʼn aanduiding dat ons na ʼn hoër rat moet oorskakel en werkbare oplossings moet vind,” het Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die komitee, gesê.

Die komitee verwelkom die aankondiging wat pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede gedoen het oor ʼn meer gefokusde benadering tot polisiëring wat meer polisiebeamptes op grondvlak insluit, asook die werwing en opleiding van 10 000 polisiebeamptes in die komende boekjaar.

Die kapasiteit van speurdienste sal ook uitgebrei word in ʼn poging om meer misdade op te los.

Die komitee sê voorts dat ʼn funskionerende misdaadintelligensie-afdeling uiters belangrik is om misdaad te bekamp.

Vennootskappe en samewerking met buurlande is ook belangrik om toenemende oorgrensmisdaad te beveg.

Die komitee moedig verder deurlopende interaksie tussen die polisie en die Instituut vir Sekerheidstudies aan sodat inligting en kundigheid uitgeruil kan word om misdaad te bekamp.

“Ons het al die kundigheid nodig wat ons kan kry om veiligheid in die land te verseker. ʼn Veilige Suid-Afrika sal die ekonomiese potensiaal van die land ontsluit, wat ʼn kritieke vereiste is om werkloosheid, ongelykheid en armoede te beveg,” het Joemat-Pattersson gesê.

Samewerking op grondvlak ook nodig

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in die lig van die jongste misdaadsyfers ook opnuut ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om voort te gaan met die uitbreiding en verbetering van veiligheidstrukture soos buurtwagte.

“Bheki Cele, die minister van polisie, het self erken dat die misdaadstatistieke nie ʼn positiewe prentjie van die misdaadsituasie in Suid-Afrika skets nie. Volgens AfriForum is dit nie verbasend nie, aangesien die polisie self erken het dat hulle nie hul mandaat kan nakom nie,” het  Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, gesê.

“Cele het ook erken dat die polisie nie self misdaad kan bekamp nie en dat gemeenskappe meer betrokke moet raak by die bekamping van misdaad.”

Broodryk meen dit is ʼn ironiese opmerking van die minister van polisie, aangesien AfriForum al “jare [lank] versoek dat gemeenskappe betrokke raak weens die polisie se mislukkings”.

“Dit is baie duidelik dat die polisie nie hul werk doeltreffend kan doen nie,” het Broodryk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Koos 100 ·

Mariana, jy vat die woorde uit my mond. Ek wil net byvoeg, en geen politieke inmengery nie!

Althes ·

Waarvoor moet die portefeulje komitee en die res van die land die werk doen van die mislukte regering? Jul word betaal om jul werk te doen, so doen ASB jul werk en hou op vergaderings hou met versnaperings!!!!

henndrik ·

Die groot probleem is, die mense in beheer dink praat gaan alles regmaak, hulle verstaan nie hulle sal moet werk nie

domheks ·

Sit net die stoele warm, stel kommittees en kommissies aan om vir hulle te dink. En NIKS gebeur nie. Sal nooit verander nie, sal uit die bos gehaal word maar die bos sal nooit uit hulle kom nie.
Viva ou cele!

Eugene ·

Die slimste manier: raak van hoedman en sy trawante ontslae.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die hele spul in die parlement het relevansie verloor. Trek groot en onbekostigbare salarisse, maar kan weinig opbrengs toon, en dit sluit opposisie partye in. Die super belangrik politici reken hulle kan so voortgaan sonder gevolge vir hul eie volgelinge en die land in geheel.

Koos 100 ·

Vonny, wil jy werklik die huidige regering vertrou om oor lewe en dood te besluit? Die K woord sal jou laat hang, maar moord op ‘n sokkerkaptein word toegesmeer.

gpsa ·

Eerstens moet ons ‘n regering kry wat ‘n verkil wil maak. Daar moet gevolge wees vir misdaad, wat daar nou gladnie is nie dit moet tel vir almal pilitiekuste en hoe profiel mense ook. Maak ons grense toe en kry onwettige mense hier uit. Mense loop net in en doen wat hulle wil. baie vd taxi bestuuders is ook nou al onwettige uitanders.

Niks sal verander tot ons nie ‘n regering kry wat integriteit het nie.

Papsak ·

Ag asb polisie en army iets om van te kots sirkus ou Cele moet gaan kleuterskool onderwyser word weer hy weet niks nie

KAIROS ·

Leer mense van integriteit. Begin by die boonstes en wys hulle dat die wet nie oortree kan word nie. Daarna, sal die ander volg.

Danie ·

Slim maniere ekskuus slegs as dit by korrupsie kom.Sapd het nie die kuns om misdaad te bekamp nie dan moet hulle mekaar arresteer en vervolg.Daar is net een hoop vir hulle die ashoop.

Nie Verbaas ·

Nie net slimmer maniere nie, slim minister met integriteit en lede met intelligensie, integriteit en wil. Cele kan n mens net gebruik as n papier gewig.

Casper ·

Hulle sal moet slimmer werk om misdaad te bekamp en op die koop toe skelmer polisiemanne aanstel wat nie gevang word as hulle misdade pleeg nie.Gee vir die manne en vroue in blou ketties dan sal hulle vuurwaoens veilig in die kluise wees.

Johanna ·

Vergeet van polisie en vergeet van weermag. Wat van vroeer jare SE kommando? Daar was toe minder misdaad. Misdaad Kom nou voor in die hoër gesag ook

christo ·

In ‘n RSG onderhoud het een van die SAPD rekrute gesê dat hy bly is ” omdat hy die WERK gekry het”. Dis belaglik, waar is dae dat polisielede dit as ‘n BEROEP gekies het om wet en orde te handhaaf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.