Slimmer oplossings nodig om bates te beskerm

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die DA beplan om Woensdag in die parlement oplossings voor te stel om openbare infrastruktuur teen diefstal en vandalisme te help beskerm.

Die plundering van elektriese, spoor- en telekommunikasie-infrastruktuur kos die ekonomie sowat R187 miljard per jaar en Mat Cuthbert, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê misdaadsindikate en onwettige handelaars in skrootmetale moet vasgevat word.

“Dit is gelykstaande aan hoogverraad en hierdie misdadigers moet op die swaarste moontlike manier gestraf word,” meen Cuthbert.

Hy sê die Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, se voorgestelde ses maande lange verbod op die uitvoer van skrootmetaal los nie die probleem op nie en straf wettige metaalherwinners en rommelinsamelaars onnodig.

“Die uitvoer van skrootmetaal is die afgelope vyf jaar reeds beperk weens die instelling van die prysvoorkeurstelsel en uitvoerbelasting.”

’n Vorige verbod van drie maande wat in 2020 ingestel is, het min gedoen om die diefstal en beskadiging van openbare infrastruktuur te voorkom, sê Cuthbert. “Dit het net werkverliese veroorsaak en ekonomiese lyding vir diegene verder af in die staalbedryfwaardeketting tot gevolg gehad.”

Die DA meen hierdie is ʼn misdaadprobleem, eerder as ʼn handelsbeleidkwessie.

Cuthbert sê Patel stel meer daarin belang om diegene wat baat by kunsmatig lae skrootpryse, se belange te beskerm.

“Patel kan nie vertrou word om in goeie trou op te tree nie en het byna altyd ʼn bymotief in die beleide wat hy ontwikkel en in werking stel. ’n Mens moet net die gebrek aan empiriese bewyse onthou wat gebruik is om die verbod op gebraaide hoenders, ooptoonskoene en kuhemde te ondersteun.”

Die DA het in Mei vanjaar ʼn dokument bekend gemaak met voorstelle oor hoe diefstal van en vandalisme aan openbare infrastruktuur te stuit. In die dokument is ʼn reeks nasionale, provinsiale en plaaslikeregeringsingrypings voorgestel.

Die party het sedertdien met verskeie belanghebbendes by munisipaliteite, in die metaalherwinningsbedryf, wetstoepassingsowerhede en gemeenskapsorganisasies vergader om hul insette te kry.

Cuthbert sê rolspelers het die party se “ganse samelewing-benadering” om die probleem te pak, verwelkom en gee toe dat die regering en polisie nie die probleem alleen kan oplos nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pampoen ·

Hoekom gee ons nie net op nie? Laat hulle alles vat en deur hulle gatte trek – dan is daar niks!

Roelof ·

Seker net so onbeantwoord soos die vraag: “waarom gebraaide hoender en oop skoene verbied was”?
My vraag is, wie stel die tipe mense aan? Soos ons almal seker weet, is hulle daar vir geld en nie die werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.