Sloerstaking by skole oor raskwessie veroordeel

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het Maandag ʼn sloerstaking wat deur onderwysers by skole in sogenaamde bruin gemeenskappe beplan word, veroordeel.

Die beplande staking hou verband met die betogings wat onlangs by die Klipspruit West Secondary School in Eldoradopark gewoed het. Onderrig by die skool is verlede week ontwrig deur ouers wat gekant is teen die aanstelling van ʼn swart skoolhoof by die skool.

“Ons het betroubaar verneem dat sommige van die bruin onderwysers in ongeveer nege skole in bruin gemeenskappe in Johannesburg-Wes op ʼn staking sal gaan in solidariteit met Klipspruit-Wes,” het Lesufi gesê.

“Die departement veroordeel die staking, aangesien al die betrokke partye onverpoosd werk om die dooiepunt op te los. Die departement doen ʼn beroep op onderwysers om te hou by die gedragskode en nie deel te neem aan enige aktiwiteite wat effektiewe onderrig en leer in gevaar stel nie.”

Lesufi het gesê hy het tussentydse maatreëls ingestel om die situasie by die Klipspruit-West Secondary School onder beheer te bring.

Hy het gesê die departement het onder meer ʼn distriksbeampte by die skool geplaas as ʼn tydelike maatreël om te verseker dat onderrig by die skool sonder enige ontwrigting voortgaan. “Dit is belangrik om te noem dat die status quo sal geld totdat alle kwessies by die skool opgelos is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.