Slopery begin ná brand op Wupperthal

Sowat 60 geboue moet op die Wes-Kaapse sendingstasie Wupperthal gesloop word ná die onlangse brand. Foto: ANA

Wupperthal in die Sederberge is van Maandag af gesluit terwyl voorbereidings getref word om dele van dié geskiedkundige sendingstasie te sloop nadat sowat 60 huise en ander geboue einde verlede maand deur ʼn brand in puin gelê is.

Masjinerie sal binnekort na die dorpie gebring word om met die sloopwerk te begin.

“ʼn Beheerpunt is opgestel om toegang tot die geskiedkundige sendingstasie te beheer terwyl swaarmasjinerie inbeweeg om met die slopery te begin,” sê Wilfred Johannes, woordvoerder van die Morawiese Kerk van Suider-Afrika, aan wie die sendingstasie behoort.

Die meer as 180 jaar oue stasie, wat deel van die Cederberg-munisipaliteit uitmaak, het ernstige geskade gely toe 53 huise en agt ander geboue in die brand aan die einde van Desember vernietig is. Die meeste van die huise was ouer as ʼn eeu en het strooidakke gehad, maar die historiese kerk is ongedeerd.

“Die polisie het ʼn beheerpunt opgestel waar net nood- en noodsaaklike voertuie en inwoners toegelaat sal word,” sê Johannes. “Streng beheermaatreëls sal toegepas word en motoriste, onder wie toeriste, word aangemoedig om die dorp te vermy.”

Die maatreëls is in werking gestel om toegang in belang van openbare veiligheid te beperk en te verseker dat die verwoeste geboue spoedig gesloop kan word, berig African News Agency.

Johannes het Maandag by navraag aan Maroela Media gesê hulle het “hordes” skenkings ná ʼn beroep deur die Morawiese Kerk ontvang. “Ons het ʼn vergadering op Clanwilliam gehou om te beplan hoe om die skenkings aan te wend, want die herbou van die stasie gaan ʼn lang proses wees.”

Hy sê die goeie nuus is die provinsiale regering het reeds ingewillig om bouwerk te finansier om die stasie tot sy eertydse glorie te herstel, maar noodfinansiering moet eers bekom word om die meer as 200 haweloses tydelik te huisves.

“Die herontwikkeling van Wupperthal is ʼn langer proses,” sê Johannes. “Die brandslagoffers sal eers in tydelike huisvesting bly of by familie en vriende op die 29 buiteplase in die omgewing.”

Intussen moet ʼn proses begin om die grond te vervreem waarop die sendingstasie staan en wat alles aan die Morawiese Kerk behoort sodat die huiseienaars om behuisingsubsidies kan aansoek doen, sê hy.

Die huise wat afgebrand het, het wel aan die eienaars behoort, maar die grond was die kerk se eiendom, sê Johannes. Die kerk sal die grond laat vervreem met streng voorwaardes om te sorg dat die geskiedkundige karakter van die sendingstasie behoue bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Dit is so tragies mens wil huil. Wonder of die regering n bydrae sal maak. Nee hulle eet en drink miljoene uit vir hulle 107ste verjaardag. Walglik.

Karlien ·

Die berig sê dat die provinsiale regering reeds befondsing bewillig het, so van waar die walging?

Eddy ·

Ek het in my lewens voorneme beplan om eendag die historiese sending dorpie Wupperthal te besoek om die historiese sendingsdorpie te aanskou,nou is dit jammer dat vanwee die brandskade,huise nou gesloop gaan word.Gelukkig is daar nog Genadendal,Suurbraak,Mamre ens.wat ons maar moet bewaar en probeer veilig hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.