Sluier oor staat se eiendomme gelig

Thulas Nxesi, die minister van openbare werke. Foto: Flickr/GovernmentZA

Suid-Afrikaners weet nou uiteindelik presies hoeveel eiendom die staat besit en huur, en waar elkeen van daardie eiendomme geleë is.

En die antwoord is dat die staat 89 623 eiendomme besit, wat deur die departement van openbare werke bestuur word. Die waarde van die staatseiendom is sowat R126 miljard, en die staat verdien sowat R34 miljoen per jaar deur die uitverhuring van ruimte in staatseiendom aan buite-instansies.

Dié inligting, asook ‘n volledige lys van presies waar die eiendom geleë is, is verskaf deur die minister van openbare werke, Thulas Nxesi, in antwoord op ‘n skriftelike parlementêre vraag deur Leigh-Ann Mathys, EFF-LP.

Benewens al die eiendom wat die staat besit, huur die staat ook sowat 2 550 eiendomme, wat sowat R34 miljard per jaar kos.

Dit is die eerste keer in meer as 50 jaar dat die lys van staatseiendom heeltemal op datum is en sover bekend die eerste keer dat dit so omvattend openbaar gemaak word.

Die afgelope 50 tot 60 jaar was die staat se eiendomsportefeulje in absolute chaos. Aspekte soos swak rekordhouding tydens die apartheidsera (onder meer weens swak bestuur in die destydse tuislande asook geheimhouding van sommige staatseiendom omdat die apartheidstaat dit as strategies beskou het om sommige eiendomme te verswyg) het beteken dat die staat se eiendomsbateregister ʼn gemors was.

Dit het meer as 15 jaar geneem om al die staatseiendomme te bepaal en ʼn behoorlike register op te stel, maar die marathon-projek is nou uiteindelik afgehandel. Nou moet dit net bygehou word.

Die voordele en doel daarvan om ʼn volledige eiendomsregister vir die staat te hê is velerlei, maar veral twee daarvan is belangrik. Eerstens kan die staat nou minstens beplan om die ruimte wat hy het, so sinvol moontlik te gebruik, te verseker dat rente-inkomste ingevorder en uitgawes betaal word, en eiendom in stand gehou word.

Tweedens kan veral die twee groot opposisiepartye sorg dat elke LP weet watter eiendom die staat besit in hul kiesafdelings. Die LP’s kan dan as deel van hul oorsig- en toesigrol verseker dat die geboue of grond optimaal gebruik en in stand gehou word, sodat dit nie vervalle of verwaarloos raak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

fred ·

die staat verdien 34 miljoen deur uitverhuring maar bestee 34 miljard deur self te huur???? Ek sien hier niks van grond wat hulle besit? Seker weet hulle self nie of wil hulle dit nie oopbaar maak nie…

Arno ·

anc wiskunde op sy beste…verdien 34Miljoen en betaal 34Miljard. Hoeveel verdien cr uit die transaksies?

Salome ·

Nou daarsy!!! Hou op plase vat en gebruik die staat se grond. Grab ANC se gronde!!

Strand looper ·

Mmmmmm…..die grys goed is maar biekie min daarvoor…… ha ha

Ria ·

Ons huur 1 van die 89623 eiendomme (staatshuis), en dit word glad nie in stand gehou nie. As iets breek moet ons dit self regmaak. Ons is kort-kort in die moeilikheid by die munisipaliteit want die staat betaal nie die eiendomsbelasting nie. So – noudat hulle weet wat hulle het eiendomsgewys – gaan hulle dit skielik in stand hou? Ek wonder ….

Jordaan ·

Haai, jy kan mos nie so beskuldiging maak nie. Hier lees ons dan nou net elders dat R175.5 miljoen in een jaar op onderhoud en verbeterings van staatsbehuising spandeer is (mits jy natuurlik ‘n minister is!)

$ ·

‘… verseker dat rente-inkomste ingevorder word…’ of eerder huurinkomste? Rente-inkomste klink na ‘n foutiewe vertaling van die Engelse ‘rental income’.

Johan ·

In die vorige bedeling waarvan ek deel was (ja ek het ook die bedeling beleef na 1994) en in totaal vir 46 jaar gedien het, was amptenare verantwoordelik vir inspeksies en instandhouding. Dis vanaf die tydperk waar politici die rol gekaap het dat die gemors, o.a. ontstaan het. Wonder of die syfers ook provinsiale eiendomme insluit en wat van die magdom wat plaaslike owerhede besit? Gee die funksie terug aan die bestaande ampenary en laat politici getalle verminder word! Politici is nie opgelei vir die werk nie.

Kabous ·

Nou word daar weer vingers na “onbevoegde” blankes gewys om die aandag van die huidige wanadministrasie af te trek. SA se bateregisters voor 1994 was alles behalwe ‘n gemors. Daar was wel probleme in sommige van die TBVC en tuislande. Ons weet wie was daar in beheer.

IK ·

Jan-Jan, ek neem aan munisipaliteite is ook hierby ingesluit? Indien so wag daar ‘n magdom van werk betreffende herbou en instandhouding.

Pieter ·

Ja Jan – Jan Joubert – jy het seker saam getel né? Die dat jy ook nou weer apartheid skuld gee

Pop ·

Fred en Arno julle is in die kol. Daai is ANC somme op sy beste. Want onthou daar is paar hande wat bakstaan vir hulle gedeelte. Wat aanbetref die holrug storie van die aparthied die skuld gee vir alles. Please try another story. Wonder of n regering van so lank terug ook die skuld gaan kry as alles hier oor 10 jr tot as verbrand is en dit lyk soos buurstate.

George in Bloem. ·

En natuurlik is daar soos gewoonlik ‘n hele paar kaders wie se beursies maandeliks lekker volgeprop word met ‘n nuttige huurgeldjie,danksy die armsalige vuisvoos belastingbetaler.Viva die gravytrain viva!

Johann cb ·

Met ál hierdie eiendom in staatsbesit, hoekom word daar nie na die behoeftes van die “agtergeblewenes” omgesien nie?
Daar is mos geld bestee aan aankope en geld word verdien aan huur!

Swanna ·

Pop stem saam wonder wie SKEP by die huur deur die staat as hulle eie plekke het en waarom so hoog die bedrag by die huur en so laag by die verhuur . Penny wise pound foolish sal ons dit in die ou dae genoem het maar vandag noem ons dit sommer self verryking.

Andreas ·

Mooi man, nou kan hulle mos plakkerskampe vir hul mense rondom al daardie eiendomme oprig en siedaar die probleem van werkloosheid is opgelos. Los die res van ons in vrede uit.

Adam ·

Indien die staat nou sy enorme hoeveelheid grond wat as landbougrond gesoneer is begin onderverdeel, kan boere met rus gelaat word.

koos ·

voordat almal nou te bly word dat daar glo iewers plaasgrond in staatsbesit is wat vir grondhervorming gebruik kan word:
nasionale parke soos die Kruger-Wildtuin is ook staatsgrond. boerdery daar met al die wilde diere gaan onmoontlik wees.
dan ook, rondom baie opgaardamme kom staatsgrond voor. dit lyk miskien soos prima landbougrond, maar dit kan net gebruik word as n tipe “spons” wat reenwater opgaar en dan na die damme laat deursyfer.
en laastens: grond wat oefengebiede vir die weermag is lyk ook na onbenutte plaasgrond, maar boerdery daar gaan nie werk nie weens onotplofde bomme ens.
ek het vir die Staat gewerk en het baie met hierdie tipe goed te doen gehad. selfs die ANC-minister en ANC-direkteur-general het met my oor die grondgebruik saamgestem en was dan ook heel bereid om “agtergeblewenes” wat staatshulp vir grondhervorming wou hê, in te lig waarvoor staatsgrond wat onbenut lyk, gebruik word.

Jeremia ·

Aa en Cee tipe wiskunde 34 milj se inkomste en dan presies dieselfde bedrag wat aan huurgeld spandeer word.
Klink maar baie dik vir ‘n daalder. En die arme stommerds wat dit moet glo, is darem sulke ou groot swape!
En verseker is die opgaaf van eiendom op alle regeringsvlakke steeds nie verreken nie.
Wat van al die munisipale eiendom wat sommer die afgelope klomp jare so goedsmoeds deur enige Jan Rap en sy maatjies al verkwansel is en die geldjies in die sak gesteek het?

Gert van Wierdapark ·

Hier is ‘n goeie voorbeeld van hoe spoed-eisend die staats-masjinerie “werk”, as ons dit so kan noem!? Vyftien jaar om te bepaal waar is die bykans 90 000 eindom-me van die staat. Ek glo dat con-se-tante gebruik is in die bepalings. Jan-jan kan gerus uitvind wat se “fooitjie” was wat daarvoor betaal is, en wie die kolsultasie ontvangers was. Moenie verbaas wees as die syfer honderde miljoene Rande gaan wees nie. Say No More! Dis om van te ween, my tande is al deur-gekners!

Alles waar.. ·

Jip die grond wat gebruik word vir die sanw se oefeninge het grondeise op en daar het al jare terug reeds ‘n klomp hulle grond kom opeis in die middel van die skietbaan. Hulle bly tans daar. As ons oefeninge doen moet ons rondom en oor hulle skiet en seker maak hulle word nie raakgeskiet nie…

Staat van Sake ·

Nie net “Staat” nie. Dis nou die Kommunistiese Staat van Azanië – sedert die liberale wittes hul land in 1994 op ‘n goue skinkbord aan kriminele en plunderaars weggegee het. En nou huil hulle terwyl nugter gekwalifiseerdes die hool op strepe verlaat.

Stuiwer ·

Hoe “toevallig” is dit nie dat die inkomste R34 miljoen is en die uitgawes sowaar ook presies R34 miljoen. Dis nou nie baie geloofwaardige syfers nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.