‘Sluipmoorde-plan’: Man se geestelike gesondheid bevraagteken

Elvis Ramosebudi in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Die geestelike gesondheid van die man wat na bewering beplan het om sluipmoorde op verskeie Suid-Afrikaanse staatsbeamptes en ander prominente Suid-Afrikaners uit te voer, is Vrydag in die Johannesburg-landdroshof bevraagteken.

Elvis Ramosebudi (33) is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem omdat hy glo beplan het om ʼn lys van 19 kabinetsministers, lede van staatsinstansies en prominente Suid-Afrikaners wat almal na bewering by staatskaping sou baat, te laat vermoor. Hy staan tereg op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Die Valke het vroeër gesê hulle ondersoek Ramosebudi al sedert Oktober verlede jaar en het kommunikasie onderskep waarin die beweerde beplande sluipmoorde bespreek word.

King Masemola, die staatsaanklaer, het Vrydag gesê hy sal die verdagte se borgtogaansoek teenstaan aangesien die staat nog besig is met hul ondersoek. Hy het ook gesê hy is van voorneme om te versoek dat Ramosebudi vir psigiatriese evaluering gestuur word.

“Die advokaat het my ingelig dat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dit is nie normaal vir ʼn persoon om so ʼn oortreding te begaan deur sy eie persoonlike bankrekening te gebruik en rond te gaan na maatskappye om fondse in te samel nie. ʼn Normale persoon kan nie rondloop en vir miljoene of selfs duisende vir persoonlike gebruik vra nie,” het hy gesê.

Elvis Ramosebudi in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Landdros Vincent Ratshibvumo het aan Ramosebudi gevra of hy al ooit by ʼn psigiatriese instansie opgeneem is en hy het geantwoord hy kan nie onthou nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het vroeër gesê die Valke het verskeie geheime operasies in Pretoria en Johannesburg uitgevoer wat uiteindelik tot Ramosebudi se inhegtenisneming gelei het. “Die verdagte en stigterslid van die Anti-State Capture Death Squad Alliance (ASCDSA) is in hegtenis geneem terwyl hy besig was om aan donateurs te verduidelik hoe die sluipmoord van staatskapingbegunstigdes deur geheime skerpskutters uitgevoer gaan word,” het hy gesê.

Mulaudzi het gesê Ramosebudi het glo befondsing van R140 miljoen gesoek om die plan uit te voer.

Masemola het gesê hy het die beweerde moordlys in sy besit en sal eers later die name op die lys bekendmaak nadat daar verdere ondersoek gedoen is. Volgens mediaberigte is pres. Jacob Zuma, lede van die omstrede Gupta-familie en Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se name op die lys.

Mulaudzi het gesê dit het tydens die Valke se ondersoek aan die lig gekom dat ʼn tweede groep, die Anti-White Monopoly Capitalists Regime (AWMCG), glo ook donateurs gesoek het om senior regeringsbeamptes te laat vermoor.

Hy het gesê bewyse is gedurende ʼn soektog van Ramosebudi se huis gevind.

Lindi Mjonodwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê daar kan nog nie bevestig word of Ramosebudi al enige donasies ontvang het en of hy alleen gewerk het nie. “Die ondersoek duur nog voort, kom ons laat die proses toe om sy gang te gaan. Meer inligting sal aan die media en die publiek gegee word sodra dit beskikbaar is,” het sy gesê.

Die saak is tot 2 Mei uitgestel om Ramosebudi tyd te gee om regshulp te bekom. Hy bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gatvol! ·

Die man is seker ook maar gatvol soos al ons ander, maar het darem nog nie so ver gegaan nie.

Normaal ·

Lyk vir my dat “geestelike siekte” nou as verskoning tot in die hemel kan geld

Michael ·

Die simptome van anargie wanneer die regerende strukture uitmekaar val dit gaan al hoe meer voorkom tot die 2019 verkiesing

Voorlaaier ·

Hy vat i kans!!……Gedink hy kan weg kom met di geld.

Justice ·

As ek so na die name kyk moes hy baie naby aan sy teiken bedrag van R140m gekom het.

MS ·

Hy weet nie of hy al vir psigiatriese behandeling was nie………………………… se baie.

Johann ·

Lyk my Elvis has left the building? Of is dit net Elvis se kop wat die building verlaat het?

Hanna ·

Toemaar Elvis, as jy wit was sou hulle jou net n rassis genoem het… Ten minste oorweeg hulle jou geestesgesondheid in jou geval.

Wondernet ·

As hy wit was sou sy geestes gesondheid nie bevraagteken gewees het nie en sou hy tronk toe gegaan het!

Gert ·

Ek ruik n rot. Hulle gaan natuurlik op n stadium uit kom en se hulle kan n wit persoon, persone of party koppel aan die man se planne.

Louw ·

Ek haal aan: “n Normale persoon kan nie rondloop en vir duisende en selfs miljoene vra vir persoonlike gewin nie” . By implikasie is Zuma en sy gevolg dus ook nie normale persone nie.

Henk ·

En die valke ondersoek 6maande die mal man,dis n skande,hou hul besig met n mal oppertunis

Justice ·

Hulle het 6 mde lank `n blanke by die komplot probeer betrek vir sensasie doeleindes.

Reti ·

Ek dink al die mense voel dis enigste manier om van al die soustreinpassasiers ontslae kan raak. Hulle klou soos poef in ‘n wolkombers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.