‘Sluipmoorde’-saak: Hof hoor van plan

Elvis Ramosebudi tydens ‘n vorige verskyning in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Uitspraak is voorbehou in die borgtogaansoek van die man wat daarvan beskuldig word dat hy beplan het om verskeie regeringsbeamptes en ander prominente Suid-Afrikaners te vermoor.

Landdros Vincent Ratshibvumo het gesê hy sal Maandag uitspraak lewer in Elvis Ramosebudi (33) se aansoek om borgtog. Ramosebudi is op 26 April in hegtenis geneem nadat “kommunikasiemateriaal onderskep is oor moontlike sluipmoordplanne”.

Die Valke het gesê Ramosebudi is in hegtenis geneem terwyl hy glo besig was om “skenkers” te werf, onder meer vir skerpskutters wat die prominente Suid-Afrikaners glo sou vermoor.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het Dinsdag die aanklagte teen Ramosebudi verander van sameswering tot moord na aanhitsing tot moord aangesien hulle bewyse glo wys dat hy alleen opgetree het.

Die staatsaanklaer, adv. Johan Badenhorst, het borgtog teengestaan en gesê Ramosebudi kan sy “plan” voortsit indien hy vrygelaat word. Badenhorst het ʼn beëdigde verklaring van die ondersoekbeampte aan die hof voorgelees waarin Ramosebudi se beweerde planne uitgelê is.

Ramosebudi het glo op 29 November sy eerste brief geskryf aan ʼn voormalige werknemer van Anglo American waarin hy glo R60 miljoen versoek het om 19 hoëprofiel-Suid-Afrikaners te vermoor.

Pres. Jacob Zuma, sy seun Duduzani, die Gupta-broers en Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se name het onder andere op die lys verskyn. Ramosebudi het glo op 14 Maart ʼn brief aan Oakbay, wat deur die Guptas besit word, geskryf en R75 miljoen versoek.

Polisiebeamptes, wat hulle as voorgenome “skenkers” voorgedoen het, het ʼn vergadering met Ramosebudi versoek vir 26 April. Tydens die vergadering het Ramosebudi glo gesê hy is die stigterslid van die Anti-State Capture Death Squad Alliance. Hy het glo gesê hy het ʼn vuurwapen en gif om die moorde mee uit te voer.

Die landdros het Ramosebudi se regsverteenwoordiger ondervra oor die staat se versoek dat die beskuldigde vir psigiatriese waarneming gestuur moet word. Motebang Ramaili, Ramosebudi se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt het geen rekord van geestesongesteldheid nie en dat hy nie vir waarneming gestuur hoef te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

‘n Vertroulike bron het laat weet dat die vraag gevra word of Malema se naam onbekend is aan Ramosebudi. ‘n Hele lys name word verskaf maar dit klink asof hy nie weet van Malema.

John ·

Hy spel heeltemal te goed vir ‘n ou wat deurmekaar is en volg die politieke landskap ook skynbaar en snap te vinnig wie vir wie kwaad is. Wie is hierdie planmaker se vriende en wie betaal sy lugtyd en taxi-geld?

VRA MY EK WEET ·

Ek kan nie glo dat niemand maar niemand agterkom dat die ‘n slenter is om geld te “scam” van “kliente”. Hy het geen plan om enige iemand dood te maak. Dit is ‘n tipiese “scam”. Hy wou die geld kry en verdwyn. Valke word wakker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.