‘Sluipmoorde’-saak: Man hoor oor borgtog

Elvis Ramosebudi tydens ‘n vorige verskyning in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy beplan het om verskeie regeringsbeamptes en ander prominente Suid-Afrikaners te vermoor, is Maandag op borgtog vrygelaat in die Johannesburgse landdroshof.

Landdros Vincent Ratshibvumo het Elvis Ramosebudi op borgtog van R3 000 vrygelaat en hom beveel om drie keer per week by sy plaaslike polisiestasie aan te meld. Hy is ook gewaarsku om nie met getuies in te meng nie.

Ratshibvumo het tydens sy uitspraak gesê daar was geen inligting in die borgtogaansoek wat voorgestel het dat Ramosebudi daartoe in staat was om die beweerde sluipmoorde uit te voer nie.

Die landdros het die “plan” as kinderagtig beskryf en gevra of dit nie dalk ʼn slenter is nie aangesien Ramosebudi nie vuurwapens het nie en ook nie sluipmoordenaars gewerf het nie. Ramosebudi moet weer op 6 Julie in die hof verskyn.

Ramosebudi (33) is op 26 April in hegtenis geneem nadat “kommunikasiemateriaal onderskep is oor moontlike sluipmoordplanne”.

Die Valke het gesê Ramosebudi is in hegtenis geneem terwyl hy glo besig was om “skenkers” te werf, onder meer vir skerpskutters wat die prominente Suid-Afrikaners glo sou vermoor.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het Dinsdag die aanklagte teen Ramosebudi verander van sameswering tot moord na aanhitsing tot moord aangesien hulle bewyse glo wys dat hy alleen opgetree het.

Ramosebudi het glo op 29 November sy eerste brief geskryf aan ʼn voormalige werknemer van Anglo American waarin hy glo R60 miljoen versoek het om 19 hoëprofiel-Suid-Afrikaners te vermoor.

Pres. Jacob Zuma, sy seun Duduzani, die Gupta-broers en Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, se name het onder andere op die lys verskyn. Ramosebudi het glo op 14 Maart ʼn brief aan Oakbay, wat deur die Guptas besit word, geskryf en R75 miljoen versoek.

Polisiebeamptes, wat hulle as voorgenome “skenkers” voorgedoen het, het ʼn vergadering met Ramosebudi versoek vir 26 April. Tydens die vergadering het Ramosebudi glo gesê hy is die stigterslid van die Anti-State Capture Death Squad Alliance. Hy het glo gesê hy het ʼn vuurwapen en gif om die moorde mee uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

m ·

Kyk nou net hierdie man kry borgtog en niemand raak opgewonde en steek die hele wereld aan die brand nie…… ai ai ai, maar laat n witte nou borgtog kry dan word die hele wereld afgebrand. Siek siek samelewing

Johann ·

Die absolute absurdheid van die sirkus is skokkend sotlik! Gegrond op INTELLEGENTE ondersoek? Sien al hoe sê Zuma hy was bang vir Elvis…toe fire hy almal….?

marous ·

Hy makeer niks volgens sy regspan nie , maar die res beskou dit as ‘n grap. Dalk is die man steeds ernstig en doen dit verniet….

VRA MY EK WEET ·

Die ou wou net die geld “scam” en verdwyn.. Hy sou nooit die plan deurvoer…Hy het geen plan gehad om iemand dood te maak.. Tipiese tekens van ‘n Slenter. Ek kan wragtig nie glo dat die speurders en valke dit nie kon aflei nie. Almal bly praat van sluipmoorde. Dit is ‘n “scam”. As die kliente hom die geld gegee het was hy weg.

Platz ·

Ek kan so lekker lag, as dit ‘n WIT ou was was hy vir hoogverraad aangekla en nie eers borgtog aan hom toegeken nie, hy sou soos die Boeremag sit en vergaan het in die tronk, hulle het ook nie juis veel van ‘n plan of genoeg ammunisie gehad om ‘n hond haaraf te maak nie … Nou probeer hulle allerhande ander verskonings want die man is nie die regte kleur nie. Selfs liberale wittes het ou Thysie en Wynand en Barend se name genoem voordat die man se naam bekend geword het. ‘n LEKKER HARDE hou vir die liberale gespuis … Hierdie is ‘n wolhaarstorie . hulle het gedink hulle gaan ‘n wit ou insleep, toe vang hulle die knaap PREMATUUR, nou is dit nie meer so ernstig nie .. dit is ‘n HUGE JOKE, ‘n regte wolhaarstorie die …Wie gaan vir ‘n Pietie Paashaas soos hy R60 miljoen gee? LMGA . regtig? Lyk hy soos ‘n sluipskutter? HIerdie was ‘n huge set up om ‘n witte by Anglo te nail, toe werk dit nie .. BOOWHOOO!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.