‘Sluipmoorde’-verhoor begin dan

Elvis Ramosebudi tydens ‘n vorige verskyning in die Johannesburg-landdroshof (28 April 2017). Foto: ANA

Elvis Ramosebudi, die man wat daarvan beskuldig word dat hy beplan het om senior regeringsbeamptes onder wie lede van die kabinet te vermoor, het Vrydag vlugtig in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Adv. Johan Badenhorst, die staatsaanklaer, het tydens Ramosebudi se verskyning gesê al die nodige dokumente vir die verhoor is aan die verdediging oorhandig.

Die landdros het aan die verdediging gevra of hulle tot dusver betaal is vir hul dienste omdat hy nie probleme tydens die verhoor wil hê nie. Motebang Ramaili, Ramosebudi se regsverteenwoordiger, het geantwoord: “Jy moet oefen voordat jy ʼn marathon aanpak. Ons is gereed vir die marathon.”

Die landdros het die saak tot 11 September uitgestel wanneer die verhoor sal begin.

Ramosebudi is op 26 April in hegtenis geneem nadat ondersoekbeamptes kommunikasie onderskep het oor moontlike sluipmoorde wat beplan word. Minstens 19 mense sou na bewering geteiken word. Ramosebudi is in Midrand in hegtenis geneem toe hy glo aan mense, wat vermoedelik die plan sou finansier, verduidelik het hoe die staatskapingsbegunstigdes deur ʼn skerpskutter vermoor sou word.

Hy het glo ʼn brief aan verskeie ondernemings gestuur en versoek om die staatsgreeppoging te finansier. Deel van die plan sou wees om die teikens by hul huise te vermoor, en die aanvalle sou soos huisrooftogte lyk.

Name op die lys sluit in pres. Jacob Zuma en sy seun Duduzane, lede van die omstrede Gupta-familie, voormalige Eskom-hoof Brian Molefe, SAL-raadsvoorsitter Dudu Myeni en hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shaun Abrahams.

Ramosebudi is vroeër op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Lees alle vorige berigte oor Elvis Ramosebudi op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.