‘Sluipmoordpoging’ op Natu-adjunk misluk

Argieffoto

Allen Thompson, adjunkpresident van die vakbond Natu (National Teacher’s Union), sterk aan in ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal nadat hy Vrydagaand deur ʼn groep “swaar gewapende” mans aangeval is.

Siphosethu Ngcobo, Natu-president, het die voorval Saterdag as ʼn sluipmoordpoging bestempel.

Ngcobo het gesê die groep verdagtes het Thompson geskiet en ná die skietery dokumente gesteel wat verband hou met ʼn “forensiese ondersoek in verband met die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement”.

Thompson was glo op pad tussen Empangeni en Durban toe hy geskiet is. “Die voorval het baie vinnig gebeur. Hy was besig om vir ʼn groen lig te wag by die N2-afrit,” het hy gesê.

Die koeël het deur die voorruit gebreek en hom in sy skouer getref. Thompson het glo deur die verkeer gevleg en na ʼn hospitaal in Durban gejaag.

Ngcobo sê die verdagtes het hom agternagesit met die bedoeling “om hom dood te maak”, maar hy het onder hulle uitgejaag en by die hospitaal ingehardloop. Hierna het die verdagtes glo ook die hospitaal binnegestorm, maar nie daarin geslaag om Thompson op te spoor nie.

Die verdagtes het volgens hom daarna Thompson se voertuig “geplunder”. “Die verdagtes het weggekom met sy dokumente, ʼn onbekende bedrag geld, twee skootrekenaars en baie belangrike inligting wat beskou word as die hoofsleutel tot die naderende forensiese ondersoeke rakende die KZN-onderwysdepartement.”

Veiligheidswagte is intussen aangestel om Thompson en Ngcobo te beskerm.

Ngcobo sê hoewel nie hy of Thompson in die verlede enige doodsdreigemente ontvang het nie, het hulle al dreigemente ontvang wat sê hulle moet “baie versigtig” wees met hoe hulle omgaan met die inligting in hul besit oor die onderwysdepartement.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Ongelukkig is die’ provinsie verby return… Wanneer die wurms reeds die appeltjie vrot verklaar het en die groot vet wurms ritteltit van die vettigheid is die situasie onomkeerbaar onverteerbaar. Met soveel adelikes, riete en presidente daar tussen die vreemdelinge wat nou baasspeel met verwoede aanvalle in vreemde tempels, kan ons net bewe en bid, want dinge gaan net nog vreemder word, elders ook… baie vreemder…. en ek probeer nie teatraal wees nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.