Sluipslaper val glo Benoni-wag aan

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 45-jarige veiligheidswag en ʼn 30-jarige sluipslaper is in die hospitaal ná ʼn voorval Donderdagaand by ʼn vulstasie in Benoni aan die Oos-Rand.

Lt. Nomsa Sekele, woordvoerder van die Benoni-polisie, het aan Maroela Media gesê die wag was aan diens toe hy net voor middernag die sluipslaper naby een van die petrolpompe sien slaap het.

“Die wag het die sluipslaper genader om hom te verjaag. Toe die sluipslaper wakker word, het hy ʼn mes uitgeruk en die wag in die bolyf gesteek,” het Sekele gesê.

Die wag was gewapen en het die sluipslaper in sy onderlyf geskiet.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê albei mans het op die grond gelê toe paramedici by die toneel opgedaag het. “Die man met die steekwonde is in ʼn ernstige toestand na die hospitaal geneem. Die man met die skietwond is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem,” het Steinmann gesê.

Sekele het gesê die wag het ʼn saak van poging tot moord teen die sluipslaper aanhangig gemaak en voer aan hy het die man uit selfverdediging geskiet. Die sluipslaper het nog nie ʼn klag teen die wag aanhangig gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ampie ·

Die een ou is in ‘n ernstige toestand en die ander een in ‘n kritieke toestand! Ek wonder wie het die slegste daarvan afgekom?

Cruz ·

Wonder ook oor die nuwe woord.Weet die W.A.T. van hom?
Slaap hy as hy sluip of sluip hy as hy slaap?

Lee ·

‘n Sluipslaper is soos ‘n boemelaar. Natuurlik gaan hy iemand probeer aanval as hy skielik wakker gemaak word want daai mense het niks en baklei om al hulle goedjies wat hulle het bymekaar te hou. Honderde van hulle word daagliks deur ander “homeless” mense aangerand. Ek kan verstaan dat hy vinnig ‘n mes uitgeruk het. Watse tipe wag skiet net. Wat maak dit saak of hy by die petrol pomp geslaap het. Waar is die perol joggies of is dit ‘n garage wat toe is deur die nag.

Chris ·

Lee gaan jy stil staan as jy met n mes gesteek word? Die wag het hom uit self verdediging geskiet en hy kan nie by die pomp Slaap nie, wat as dit jy was kom petrol gooi het en met die mes aangeval was, jy sou n ander deuntjie sing dan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.