Smiley: ‘Ek is gedwing om moord op Anika te beken’

André van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

Die saak van André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit, het Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof ʼn skokwending geneem toe Van Wyk met sy borgtogaansoek begin het.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het begin deur aan te voer sy kliënt het geen vorige veroordelings nie. Staatsaanklaer adv. Tania Carstens het hierna aangevoer die saak moet as ʼn skedule 6-misdryf aangehoor word. Die landdros het die versoek toegestaan en Van Wyk moet dus buitengewone omstandighede bewys oor hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.

Adv. Nieuwenhuys het hierna begin om Van Wyk se verklaring aan die hof voor te lees. Van Wyk is 24 jaar oud, enkellopend en het geen afhanklikes nie. Hy woon in Pretoria-Noord by sy ouers en het voor sy arrestasie as ʼn lugversorgertegnikus gewerk en R4 000 per maand verdien. Van Wyk het nie ʼn paspoort nie en het aangedui dat hy skuld sal ontken op die aanklagte teen hom.

Volgens Van Wyk het hy op 16 September, die dag voor hy homself aan die polisie oorgegee het, ʼn werksfunksie bygewoon waar hy drank gedrink het voor hy later saam met vriende verder gaan kuier het. Volgens hom het hulle na ʼn kuierplek gegaan waar ʼn man en ʼn vrou hom genader het. Hy voer aan die man en vrou het hom en sy familie gedreig en dat hulle hom gedwing het om polisie toe te gaan en ʼn bekentenis af te lê.

Anika Smit

Anika Smit

Van Wyk is op 17 September na die polisie waar hy ʼn verklaring afgelê en homself oorgegee het. Hy voer aan hy het kort hierna besef hy het ʼn fout gemaak en het aangedui hy sal die verklaring betwis aangesien hy nie “duidelik” en “nugter” gedink het nie. Volgens Van Wyk het hy deurentyd sy volle samewerking aan die polisie gegee en sal hy voortgaan om dit te doen. Hy het ook DNS-monsters verskaf en volgens hom stem dit nie ooreen met die DNS wat op Anika se liggaam en die moordtoneel gevind is nie. Hy het ook gesê hy was nog nooit by die huis waar Anika vermoor is nie.

Van Wyk het aangevoer dit is in belang van geregtigheid dat hy op borgtog vrygelaat word. Hy het gesê sy ouers kan R5 000 vir borgtog bekostig. Hy het bygevoeg dit is belangrik dat die ware moordenaar geïdentifiseer word. Hy het gesê hy is spyt oor die verklaring wat hy afgelê het en dat hy Anika se ouers ‘vals hoop’ gegee het.

Die hof het hierna vir tee verdaag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wonder ·

Nou is ek heeltemal verward!Kon hy nie al eerder van die man en vrou vertel het nie!Dis n snaakse storie die!

cor ·

Jy erken skuld na maande in die selle en waarneming kom jy nou met die storie jy is gedwing om ‘n skulderkenning te doen. Ek verstaan nie mooi nie tydens sy oorgawe was sy ouers volgens beriggewing geskok en getraumatiseerd , nou is hulle gedreig en hulle het dit nooit eens aan die ondersoek beampte genoem nie tot vandag toe. Aag kom aan vertel tog net die waarheid dit was jy of dit was nie jy nie niemand val vir so flou verskoning nie.

Magda ·

Sy 1+1 gee nie vir my 2 nie. Hy het hom self oorgegee omdat iemand hom gedreig het, hoekom het hy nie so gese toe hy hom self oorgegee het nie??

Liza ·

Nou wat nou ….. ek verstaan nou wragtig nie wat hier aangaan nie….. ja nee iewers ruik ek ‘n rot……

simon ·

Ag kom nou!

Na so n lang tyd agter tralies wil jy NOU beweer jy was gedreig om te erken.

Eerlik waar, wie dink jy gaan jou NOU glo.

Sê-maar-net ·

Moet hy nou ons almal se intelligensie so onderskat?
Indien hy wel onskuldig is, glo ek nie die skuldiges sou in elk geval na amper 7 jaar die risiko vat om hulle “cover” te blaas deur ene Smiley te nader en hom en sy familie te dreig en te dwing om bekentenis af te lê nie.
Hy speel nou met die emosies van ouers wat hul enigste kind baie wreed verloor het. Indien hy onskuldig is op moord, verdien hy steeds ‘n swaar straf vir dit waardeur hy daardie ouers laat gaan.

Pinocchio ·

Ek was onder die indruk die man het homself kom oorgee omdat sy GEWETE hom so vreeslik gepla het? Mense het hom skoon jammer gekry. Lyk my nie dit pla meer so baie na ‘n ruk in die tronk nie .. Hierdie storie klink vir my al te veel na ‘n wolhaarstorie wat ek al op Crime and Investigation gesien het … Hy sal nie die eerste “moordenaar” wees wat homself uit ‘n situasie probeer lieg op instruksie van sy regsverteenwoordiger nie.

Geppetto ·

Ja-nee, Pinocchio, hierdie is die begin van laaaaang draaie hardloop (gewoonlik onder aanvoering van ‘n regsverteenwoordiger) sodat, wanneer die ou eendag wel skuldig bevind sou word, hy veel ligter daarvan gaan afkom (kom ons dink maar Oscar)..

Helen ·

Dit maak nou wel sin…..toe hy hoor sy DNS kom nie ooreen met syne nie wat op die moordtoneel gevind is, het hy die storie uit gedink. Want daar is nou geen bewyse dat hy wel die moord gepleeg het nie. Sy gewete voel nou weer skoon. Nou kan hy maar aangaan. Hoe sal n man sy werk en alles opgee en solank in tronk sit en dan was hy al die tyd onskuldig? Nee wat nou is ek meer seker dit was hy!

Christel ·

Ek hoop hy word flippen SWAAR gestraf vir sy leuens (as dit leuens is) want hy speel op almal se gevoelens!!

MarieM ·

Ek verstaan nie mooi nie……. maar nou ja drank laat jou ook maar simpel goed aanvang. Soos om te gaan erken jy is betrokke by ‘n moord. Nee boetie, hierdie maak nie sin nie. Wonder of dit net voggies was wat jy gebruik het?

Donovan ·

Ek glo die jong knaap dat hy nie skuldig is nie… as jy sien waarmee die meisie besig was en wat se vriende sy mee uit gehang het, maak dit vir my sin dat hierdie matter gebruik was om die lig van die ware skuldige af te haal. Ek glo ook nie dat haar pa enige iets met haar dood te doene gehad het nie… maar ja ek reken die SAPD was baie naby om die ware skurk aan te keer en hy moes van die hoek af kom en ek dink dit is hoekom die matter dalk gedreig was… hierdie okultiese bewegings is diep tussen ons in gegrawe… mense wat jy dit die minste sal verwag…

Voorlaaier ·

My mater! Ek dink jou varktjies hardloop di hele wereld vol!

Peet J ·

Die Polisie het nie ‘n saak nie alle getuienis gaan oor hoorsê. Die DNA toetse was blykbaar op die onbetrokkenes gedoen. Hoekom word hy en sy selmaat nie aan ‘n leuenverklikker instrument onderwerp nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.