Smith en Boucher se aanstellings nie meer onder vergrootglas

Mark Boucher en Graeme Smith. Foto: Prakash Singh/AFP.

Ondanks die bevindings van Krieket Suid-Afrika (KSA) se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN), sal Graeme Smith (direkteur van krieket) en Mark Boucher (hoofafrigter) se aanstellings nie meer onder die vergrootglas wees nie.

Só het Lawson Naidoo (KSA-raadsvoorsitter) gister vir die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur gesê.

Boucher sal egter steeds in Mei dissiplinêr verhoor word om bewerings van wangedrag teen hom te ondersoek.

Die twee hardebaard-oudspelers is in Desember 2019 genader om die sinkende Protea-skip na ’n veiliger hawe te probeer stuur.

“Wêreldkrieket het ’n sterk Suid-Afrikaanse span nodig. Tyd dat Boucher as afrigter oorneem. En waarom betrek jy nie sommer vir Smith (en Kallis) ook nie?” het Michael Vaughan, voormalige Engelse kaptein, destyds getwiet.

Smith, wat as Suid-Afrika se suksesvolste toetskaptein nóg beskou word, is aanvanklik in ’n tydelike hoedanigheid aangestel waarna hy in April 2020 ’n permanente kontrak aangebied is.

Van sy eerste take as direkteur van krieket was om ’n nuwe hoofafrigter te kies. En hy het nie geskroom om vir Boucher nader te trek nie.

Tog het adv. Dumisa Ntsebeza (onafhanklike ombudsman) verlede jaar bevind dat hul aanstellings as onreëlmatig beskou kan word.

Maar volgens Naidoo kan KSA nie veel omtrent dié saak doen nie.

“Die direkteur van krieket en hoofafrigter is in Desember 2019 onder die vorige raad aangestel. Hoewel die SJN-verslag bevind het dat daar onreëlmatighede was, is hul aanstellings deur die destydse raad bekragtig. Ons hande is dus afgekap,” het Naidoo gesê.

Hy het ook in reaksie op die portefeuljekomitee se navraag gesê dat dit nie moontlik is om Boucher te skors terwyl die tugsaak teen hom aan die gang is nie.

“Dit is belangrik om te vermeld dat ons by die paslike prosedure sal hou – en dit geld vir al die regsprosedures waarby ons betrokke is.

“Ek kan die portefeuljekomitee verseker dat ons regsadvies van twee senior regsgeleerdes met betrekking tot moontlike skorsing ingewin het. Volgens hulle was daar geen regsgronde vir die skorsing van Mark Boucher of Graeme Smith nie.

“Die raad het derhalwe eenparig besluit om hulle nie te skors nie omdat dit onnodige regsgedinge tot gevolg kan hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jenny ·

Ah, so DAAR is die rede vir die heksejag op Mark Boucher. Kan hom nie geskors kry nie? Kla hom aan as rassis …

Althes ·

Totdat hy moontlik die teendeel kan bewys – dan moet Adams en Kie regstaan vir ñ eis van naamskending.

Suzette ·

Ek stem saam – ek hoop werklik Mark stel ‘n eis van naamskending in. Maar ek moet se ek dink nie dit gaan gebeur nie want hulle sal seker weer met een of ander “ooreenkoms” sy stilswye koop en as vereiste stel dat hy sy eis laat vaar en niks mag se nie.

Pietertjie ·

Ras-tellende aksie is regtig SIEK. Die wêreld gril hulle seker dood vir ons plaaslike narre.

B-Man ·

Esj, hulle kweit hulself te goed van hul taak. Strem teen ANC-beleid van “breek alles af en begin van voor” eerder as om te bou op wat klaar in plek is.

Carel ·

En daar trek die onafhanklike ombudsman ‘ Ashwin op homself…

Bertie ·

Hou op met julle heksejag teen wit spelers en speel krieket!

Dries ·

Wie beheer die krieket? Hoekom wil jy 2 uitstekende persone wat resultate behaal, vervang?
Ek ruik n rot

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.