Smithfield-plaasmoord: Saak teen 2 teruggetrek

Arthur en Poenkie Bissett (Foto: Facebook)

Die drie verdagtes wat vroeër in hegtenis geneem is in verband met die moord op Poenkie Bisset (73) van Smithfield in die Vrystaat, het Maandag weer in die landdroshof op die dorp verskyn waar die saak teen twee van hulle voorlopig teruggetrek is.

Die oorblywende verdagte bly in aanhouding tot 29 Januarie 2021 wanneer hy na verwagting weer in die hof sal verskyn, het Jacobus Stroebel, streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), Maandagmiddag bevestig.

Die verdagte staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en diefstal.

Die onlangse moord op Bisset is die tiende plaasmoord sedert April vanjaar in die Vrystaat. Altesaam 53 plaasaanvalle is vanaf 1 April tot 30 November in dié provinsie aangemeld.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê daar is in dieselfde tydperk verlede jaar 34 plaasaanvalle waarvan ses plaasmoorde in die Vrystaat aangemeld. Dít dui op ʼn toename van 19 plaasaanvalle en -moorde (35,9%) in die provinsie sedert verlede jaar.

Buys wys daarop dat die meeste van die provinsie se plaasaanvalle of -moorde in November (12) plaasgevind het. Die aanloop tot die feestyd kan moontlik bydra tot ʼn verdere toename, waarsku sy.

Volgens Buys is kontant, selfone en vuurwapens meestal in die plaasaanvalle (28) in die Vrystaat gesteel. Slagoffers se voertuie is in drie aanvalle gesteel. In drie ander aanvalle is skape en beeste gesteel terwyl die aanvallers in drie ander voorvalle probeer het om diere te steel, veral beeste oorgrens.

In nege van die voorvalle kon die aanvallers niks steel nie weens die slagoffers se vinnige reaksie om weerstand te bied.

Stroebel sê die moord op Bisset dui net weereens op die weerloosheid van landbouers. “Dit is belangrik dat boere hulself, hul gesinne en werkers bemagtig en hul weerloosheid sover moontlik verminder deur altyd paraat te wees.”

Stroebel meen dit is uiters noodsaaklik dat landbouers deel vorm van georganiseerde veiligheidstrukture in hul omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.