Smokkel van Zim-kinders dui op gebreke in SA grensbeheer

(Foto: Facebook/Action SA)

Die 443 Zimbabwiese kinders wat Saterdag by die Beitbrug-grenspos gered is nadat owerhede snuf in die neus gekry het dat hulle glo na Suid-Afrika gesmokkel word, is volgens ActionSA slegs die oortjies van die seekoei van die land se wanfunksionele grensbeheer.

Maroela Media het vroeër berig ʼn geheime operasie by die Beitbrug-grenspos is Saterdagaand uitgevoer en 42 busse van Zimbabwe is deursoek.

Meer as 400 onbegeleide minderjariges is tydens die deursoeking in die busse gevind. Almal was jonger as agt en was glo op pad om – sonder toestemming van ouers of voogde – in Suid-Afrika verhandel te word.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê hoewel hy dankbaar is dat hierdie kinders by die grenspos gered is, sidder hy om aan die honderde kinders te dink wat wél onwettig oor die grens gesmokkel word.

“Nadat ek verlede week die Beitbrug-grenspos in Limpopo self besoek het, het ek eerstehands gesien hoe grensbedrywighede in Suid-Afrika basies nie meer bestaan nie. ​​

(Foto: Facebook/Action SA)

“Grensdrade word eenvoudig afgebreek en mense beweeg vrylik tussen die twee lande deur. Die grense word nie deur veiligheidspersoneel beman nie.

“Dit sluit nie eens die talle voorvalle van korrupsie en misbruik by grensposte in nie; niemand anders as die Suid-Afrikaanse regering behoort hiervoor aanspreeklik gehou te word nie,” sê Mashaba.

(Foto: Facebook/Action SA)

Hy sê as ’n party wat glo aan die oppergesag van die reg, glo ActionSA dat die instelling van nuwe wetgewing of agentskappe soos die Grensbestuursowerheid (BMA) min gaan doen om die land se grense reg te ruk.

“Tensy korrupsie uitgeroei word en die politieke wil bestaan ​​om ons grense te beskerm, sal soortgelyke misdadighede nie end kry nie. Ons wette moet sonder vrees of guns geïmplementeer word, maar dit is moeilik wanneer ons wetgewing herhaaldelik deur politici ondermyn word,” sê Mashaba.

“In ooreenstemming met die beleid wat tydens ActionSA se eerste beleidskonferensie in September aanvaar is, bepleit ons uitgebreide hervormings binne die departement van binnelandse sake.

“Die doelwit is om die visum- en werkpermit-verkrygingsproses vir diegene wat wettige toegang tot Suid-Afrika versoek, te vergemaklik en terselfdertyd kwessies van korrupsie en die uitreik van bedrieglike dokumente te stuit.”

Mashaba sê die regering moet die kapasiteit van bestaande entiteite verbeter, opleiding aan personeel verskaf en streng wetstoepassing oor alle regeringsvlakke verseker.

“Ons kan eenvoudig nie toelaat dat ons gemeenskappe weens hierdie toename in wetteloosheid ly nie.”

(Foto: Facebook/Action SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Ek weet ons verlede laat ons ons koppe in skaamte sak, maar wanneer brand arem mense hulle eie land se kinders so uitlewer moet hulle voor stok gebring word.

Di ·

DIS hoekom daar MILJOENE onwettige immigrante in SA is en ONS daaronder ly. Misdaad is buite beheer en die korrupte regering is so stil soos die graf

Jack ·

Mense kan julle net julle self indink die absolute chaos waarin ons gaan sit sou die ANC in 2024 weer aan bewind kom vir nog 5 jaar ?? Ons gaan sit in die middel van absolute verval,geweld en daaglikse anargie. Die lewe soos ons dit ken gaan so bemoeilik word en oorlewing ‘n uitdaging.

tweeling ·

Gebreke in grens beheer. Ek sal eerder sê daar is geen grens beheer.

Andre ·

…hoekom vra iemand nie vir de Lille waar is die geld van die heinings nie?

Kokerboom ·

Dit is skrikwekkend. Die Zim regering moet internasionaal verkla word. Die SA regering moet blatant vervang word vir absolute gebrek aan grens of ENIGE vorm van bestuur!

domheks ·

Viva cANCer! Julle vorder goed op die afdraande pad. Auntie Pat se skuld – miljoene betaal vir NIKS!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.