‘Smokkelaar’ met renosterhorings op lughawe betrap

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vermeende renosterhoringsmokkelaar is by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat drie renosterhorings ter waarde van meer as R12,2 miljoen in sy besit gevind is.

Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het Maandag in ʼn verklaring die departement se omgewingsbestuur-inspektoraat, bekend as die Groen Skerpioene, gelukgewens met die inhegtenisneming. Volgens Molewa is die horings tydens die skandering van ʼn Chinese burger se bagasie in ʼn tas gevind. Die man was op pad om ʼn vlug na Hongkong te haal.

Daar is op drie horings, wat altesaam 9,4 kg weeg, beslag gelê en die 48-jarige man is in hegtenis geneem.

Volgens Molewa is talle beamptes van die Groen Skerpioene by die onderskeie grensposte en lughawens in die land gevestig om die smokkelary van wildsprodukte hok te slaan. In die afgelope week is nog ses vermeende renosterstropers in hegtenis geneem, vier Mosambiekse burgers en twee Suid-Afrikaners, tydens twee verskillende voorvalle in die Krugerwildtuin.

Tussen 1 Januarie en 31 Augustus vanjaar is altesaam 414 vermeende stropers in Suid-Afrika in hegtenis geneem, het Molewa gesê. Sy het bygevoeg dat Suid-Afrika vanjaar ʼn vermindering in renosterstropery waargeneem het en ʼn toename in die inhegtenisneming van renosterstropers.

“Stadig maar seker begin ons geïntegreerde strategiese bestuur van renosters resultate lewer. Ons spreek wildsmisdaad nou al baie beter op ʼn meer geïntegreerde en gekoördineerde manier aan,” het sy gesê.

Volgens Molewa behels die benadering samewerking tussen die departement, die weermag, die SAPD, die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap, die departement van justisie en korrektiewe dienste, SANParke, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en provinsiale natuurbewaringsagentskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakobus ·

Terwyl julle hom nou het, gaan paradeer hom daar waar Cites nou in JHB vergader. Wys die wêreld hoe hy lyk.

Christa ·

R12.2 miljoen! Die ironie van die saak is – my bejaarde ouers is baie arm, maar is in besit van twee renosterhorings waarvoor hulle ‘n permit het, wat hulle van hul oorlede ouers geërf het. Hulle sukkel om kop bo water te hou, wat tog só anders kon wees indien hul die horings sou kon verkoop.

Cherokee ·

My broer en ek het mineraleregte verloor omdat nadat my ma dit ge-erf het, die wet verander is wat na die verandering mineraleregte onvererfbaar maak. Dit is mineraleregte in ‘n deel van SA waar ryk goudneerslae gevind word. Waar die wêreld se rykste goudmyn is. Die regering het dit ingepalm. Ek dink nie eens vir ‘n tweede keer daaroor en het dit nou gememmoriseer na ek jou kommentaar gelees het. Die oopstel van die verhandeling van renosterhorings sou mi die doppie geklink het vir renosters. Hulle moet bewaar word.

swanna ·

Stem met jou saam. Stuur die man na Cites so dat die wereld kan sien hoe hy lyk en hom sommer daar ondervrae oor sy doen en late oir die horings wat in sy besit gevind is en hom sommer daar ook vonnes.

Tata ·

Ek dink om misdade soos die en die wat verband hou met drugs aan n bedrag tekopel en die bedrag bekend temaak ook nog is soos n advertensie. Mense op straat sone werk sien watse misdaad geld op lewer en begin dan so daarmee. Genade die man het R12.2 miljoen by hom gehat. Hoeveel mense gaan na die berig meer belangstel in Renoster stroop en daardie klein saadjie is waar dit begin. Wie stem saam my?

Dirk ·

Ek wil weet wat se straf gaan die mense kry wat verkoop sonder premitte, ons hoor net altyd van arristasies maar hoor nooit wat hul straf was nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.