SMS oor ‘grootskaalse kinderontvoering’ waarskynlik ‘n bogstorie

Argieffoto

Argieffoto

ʼn “Waarskuwing” doen die ronde op sosiale media van ʼn “noodberig” wat op “al die tv nuus kanale” [sic] uitgesaai is oor kinders wat vandeesweek “gesteel” gaan word.

Dit blyk egter onwaar te wees, aangesien verskeie organisasies wat met vermistepersone-sake werk, Maandag “niks buitengewoon” ervaar het nie en ʼn nuuskanaal het ook bevestig dat hulle geensins só waarskuwing uitgereik het nie.

Die boodskap wat die ronde doen, lui soos volg: “weet nie of julle nuus gekyk het nie… daar is ʼn noodberig uit vir van more af vir die hele volgende week…. kinders gaan gesteel word en ʼn groot aantal ook. Asb… moenie dat die kinders speel waar hulle nie 24/7 onder julle oë is nie. Daar gaan op skole… erwe ens. toegeslaan word waar ouers dink hulle kidz is veilig. Moenie dit as ʼn grap vat nie…. dit was ʼn noodberig op al die tv nuus kanale! Pas my kleintjies op… moenie waaksaamheid vir een oomblik verslap nie asb. Hulle gaan oral in die land toeslaan. Asb! Sprei die nuus sover jy kan om alle ouers op ALERT te sit!” [sic]

Die boodskap kry stertjies soos wat dit versprei word en in sommige gevalle word die rede vir die “groot ontvoering” verbind met politieke spanning in die land en selfs terreurgroepe in afwagting van kinderbeskermingweek wat op 31 Mei in Suid-Afrika afskop.

Nicky Rheeder, nasionale koördineerder van Missing Children SA, het Maandag aan Maroela Media gesê sy kan nie bevestig of die boodskap waar is of nie, maar uit ondervinding klink so iets onwaarskynlik. “Die boodskap is baie vaag. Daar is geen betroubare bron daaraan gekoppel nie, geen naam word genoem nie en daar is geen kontakbesonderhede nie. As ons sulke boodskappe ontvang is dit die meeste van die tyd ʼn slenter of ʼn storie wat al lank gelede gebeur het en net weer ʼn nuwe asem kry,” het Rheeder gesê.

Sy het gesê niks buitengewoon is onlangs by hulle aangemeld nie, veral nie van kinders wat by speelgronde of skole ontvoer is nie.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het aan Maroela Media gesê die boodskap klink soos bog. “Die sogenaamde inligting is vergesog en dra geen waarde nie. Kan jy jouself net indink hoeveel logistieke prosesse gedoen moet word om so iets te laat werk? Dit is glad nie haalbaar nie,” het sy gesê.

Rechner het egter benadruk dat dit ouers en voogde se daaglikse verantwoordelikheid is om na hul kinders en hul veiligheid om te sien, “nie net in kinderbeskermingsweek of as dreigemente rondgestuur word nie”.

Rechner het ook bevestig dat niks buitengewoon sedert die naweek aangemeld is nie.

Paul Dunn, eNuus se nuusredakteur, het by navraag aan Maroela Media gesê kykers het Maandag oor die “boodskap” by die nuusuitsaaier navraag gedoen. “Ek weet nie wat die oorsprong hiervan is nie. Ek weet nie na watter ‘TV-nuuskanale’ die boodskap verwys nie, maar eNuus het beslis nie so iets uitgesaai nie,” het hy bevestig.

Maroela Media kon wel vasstel dat SABC News berig het oor kinderbeskermingsweek wat volgende week begin en het Suid-Afrikaners versoek om kinders te beskerm. Hulle het in een berig genoem dat ʼn kind elke vyf ure verdwyn en dat 1 700 kinders in 2013 as vermis aangemeld is. Hulle noem onder meer dat die meeste kinders met hul families herenig word, maar dat ʼn kwart van hulle nooit opgespoor word nie. Lees die berig hier.

Maroela Media wag vir amptelike terugvoer van die nasionale polisie, maar volgens verskeie betroubare bronne in die polisie, wat weens jurisdiksie nie amptelik mag kommentaar lewer nie, het inwoners niks om oor bekommerd te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

leintjie ·

Die sms oor die kinders… Ek as n ma het n naar gevoel gekry om so iets te ontvang. Kan mense nie dink wat dit aan n ouer kan doen om met sulke vreese rond te loop nie. Ek sal daarvan hoiu om die persoon te ontmoet wat die “grappie” uit gedink het . Dink daar is baie ouers vanaand wat voel soos ek

Riaan ·

Dis n tipiese lafaard wat sulke strooi versprei. Hy het seker niks beter om te doen nie, en sit seker en wag met al sy blikkies kos vir ‘die nag van die lang messe’

Ek is so naar vir mense wat sulke vals, opstokerige negatiewe stront uitstuur, en om wat te bereik? Wil hy opsetlik negatiewe nuus die wereld instuur, of kry hy n “kick” daaruit.

Ons is beter af sonder sulke mense in die land.

Griet ·

Sulke twak maak my naar. As dit kom van iemand wat wou opstook, jou poging is swak smaak. Onthou die storie van die skaapwagtertjie wat “Wolf-Wolf” geskree het? Wonder hoe jy dit sal hanteer as jy ‘n onskuldige kind se dood veroorsaak omdat niemand hulle aan ‘n werklike noodroep steur nie……

Annerie ·

Ek stem saam met bogenoemde twee kommentare. Die persoon wat die boodskap begin het saai vrees en vrees is nie van die Here af nie, maar ekt ook n probleem met mense wat sulke goed net aanstuur sonder om hul eie oordeel te gebruik. Toe ek dit kry het ek dadelik na die nuusblaaie gegaan en gelukkig op hierdie artikel afgekom. Ek verpes enige boodskappe wat mense so aanstuyr, selfs ketting boodskappe wat eindig met ” stuur hierdie aan tien mense of….” Hierdie tipe van goed moet ook as n misdaad beskou word.

Snippie ·

Wys jou net, geleende ore werk nie so lekker nie. En die haarsalon is nie ‘n betroubare nuusbron nie. Dis moeilik om te glo dat mense sulke snert sal glo. Waar is ons mense se ‘kommin sens’ dan heen?

pop ·

Jare terug was die ewige oordeel oor jou uitgespreek as jy nie dadelik binne die volgende 10 min aan 10 mense die “crap” wat aan jou gestuur is forward nie. Daar is, so lyk dit vir my, verveelde mense wat tuis sit en allerhande goed uitdink om ander te verpes, en te irriteer. En hulle het genoeg geld ook, want anders sal hulle gaan werk of karre oppas. Get a life!!!!

Ina ·

Ek wens die mense kan OPHOU om sulke goed te se . hulle maak mens stress . mens lewe klaar in vrees met moorde en inbraake wat gebeer reg oor die land . ek kan nie eers meer regtag slaap nie oor dinge wat regtag gebeer en dan kom iemand met hul siek brein en se sulke snot bol . skaam jou wie ookal dit was jy verwoes mense . se gedagtes ……..

Piet Pompies ·

Sosiale media is maklik toeganklik en die meeste mense skryf net wat hulle wil. Pasop, dit kan jou duur te staan kom as jy nie jou feite kan staaf. My pa het altyd gesê, as jy dit nie self ervaar het, dan vertel jy dit nie oor.

Rita ·

Al hierdie sms en eposte het net een doel is om jou epos adress en telefoon nommer te kry – as jy sulke goed aanstuur en wonder hoekom kry jy al hierdie spam e-poste en sms 3 uur in die oggend van jy het geld gewen ens ens…. moenie verder wonder nie – dit is hierdie tipe sms en eposte. Enige epos wat sê stuur aan binne tien minute of… sms versprei onder almal…… al klaar alarm wat afgaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.