SMS-saak: ANC mag appèl aanteken

 

Skermskoot van die SMS (Foto via @democraticalliance, Twitter)

Skermskoot van die SMS (Foto via @democraticalliance, Twitter)

Die Johannesburgse hooggeregshof het Saterdag die ANC se aansoek tot verlof om appèl toegestaan oor ʼn besluit dat ʼn SMS, wat die DA uitgestuur het, as billike kommentaar beskou kan word.

“Ons glo dat die besluit in die belang van die integriteit van die verkiesingsproses en in die belang van die land in sy geheel is,” het Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, in ʼn verklaring gesê. “Die besluit steun die ANC se standpunt dat ʼn ander hof tot ʼn ander besluit sal kom oor die saak.”

Waarnemende regter Mike Hellens het verlede week die ANC se aansoek, om die verspreiding van die SMS te staak, van die hand gewys en die SMS as “billike kommentaar” beskryf.

Die SMS, wat aan nagenoeg 1.5 miljoen kiesers in Gauteng gestuur is, lui soos volg: “Die Nkandla-verslag wys dat Zuma jou geld gesteel het om sy huis van R246 miljoen te bou. Stem DA op 7 Mei om korrupsie te klop. Saam vir verandering”.

Mmusi Maimane, woordvoerder vir die DA, het Saterdag die besluit verwelkom. “Ons sien daarna uit om aan ʼn ander hof en die Suid-Afrikaanse publiek te vertel waarom ons geregverdig is om te sê dat Zuma mense se geld gesteel het,” het hy gesê.

Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het verlede maand in haar verslag bevind dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit veiligheidsopgraderings van R246 miljoen aan die president se privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Mthembu het vroeër gesê die hof het ʼn fout gemaak in sy uitspraak deur nie te aanvaar dat die reg tot vryheid van uitspraak beperk word deur die Verkiesingswet nie. “Die gevolg van die verlof tot appèl is dat die vorige uitspraak, ten gunste van die DA, opgeskort is hangende die bepaling deur die verkiesingshof,” het hy gesê.

Mthembu doen ʼn beroep op politieke partye om nie valshede ter versprei om die uitslag van die verkiesing te beïnvloed nie, aangesien dit teenstrydig is met die Verkiesingsgedragskode en Verkiesingswet.

Maimane het gesê die ANC beveg steeds vryheid van spraak in hierdie verkiesing. “Nie net in die SMS-saak nie, maar ook deur die SAUK se sensuur van die DA-advertensies,” het Maimane gesê. Hy verwys na die uitsaaier se besluit om nie meer die DA se verkiesingsadvertensie, “ANC Ayisafani” (dis nie meer dieselfde nie), uit te saai nie, aangesien dit glo geweld aanhits. Maimane verwys na polisiegeweld en die Nkandla-opgraderings in die advertensie. Klik hier om die advertensie te sien.  -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.