SMS’e wat Zuma glo by Gupta-landing betrek nie bekend gemaak

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die SMS-boodskappe wat president Jacob Zuma glo by die Guptagate-skandaal betrek, kan nie openbaar gemaak word nie, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) gesê.

Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van Sanwu, het gesê indien die inligting bekend gemaak word, kan dit ʼn invloed hê op die siviele eis wat lt.kol. Christine Anderson teen die regering aanhangig gaan maak.

Alle aanklagte teen Anderson en lt.kol. Stefan van Zyl is Dinsdag teruggetrek. Van Zyl en Anderson is vroeër daarvan beskuldig dat hulle betrokke was in die landing van ʼn privaatvliegtuig van die welgestelde Gupta-gesin by die lugmagbasis in Pretoria. Die gesin het glo gereël dat familielede in 2013 daar kon land om ʼn troue by te woon.

Beeld het Woensdag berig dat Anderson ʼn siviele eis teen die weermag aanhangig gaan maak vir karakterskending. Jeff Radebe, minister in die presidensie en destydse minister van justisie, het Anderson en Van Zyl glo destyds daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om ’n misdryf te pleeg.

Anderson het volgens die berig bewyse van gesprekke tussen Bruce Koloane en Zuma. Koloane was destyds die hoof van staatsprotokol. “Ons sal wys dat Koloane as ʼn ‘agent’ van Zuma opgetree het om die landing moontlik te maak,” het Greeff aan die koerant gesê.

Onder die bewyse is boodskappe wat Koloane glo aan Anderson gestuur het en waarin hy instruksies van die president herhaal het. Koloane het egter tydens sy dissiplinêre verhoor aangevoer dat hy gelieg het toe hy Zuma se naam gebruik het, volgens die berig. Koloane is intussen aangestel as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland.

ʼn Verslag wat verlede jaar deur ʼn interdepartementele komitee vrygestel is, het bevind dat samespanning deur amptenare daartoe gelei het dat die vliegtuig onreëlmatige klaring gekry het om te land.

Anderson, Van Zyl, en ao. Thabo Ntshisi is aanvanklik ingelig dat hulle van korrupsie, bedrog en sameswering aangekla sou word. Anderson is geskors en die ander twee is op verpligte verlof geplaas. Ntshisi het aangedui hy sou teen die twee getuig.

Die weermag het die aanklagte teruggetrek nadat prokureurs vir Anderson en Van Zyl ‘n ultimatum aan die weermag gegee het om hulle aan te kla of die saak terug te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Hoogagtend die uwe Dr Zuma, jy is ‘n verleentheid vir jouself en vir die hele wêreld. Jy het dit net nie.

Miskien sal jy beter vaar as jy ‘n beesslag resep met ons deel. Een met baie vet, a-la die ander Dr.

Hy is nou nie soos jy ‘n Dr in sports wetenskappe nie, maar in sport wetenskappe. Miskien moet julle kruie uit ruil.

Gerhard Bezuidenhout ·

Die werklikheid word gerieflikheidshalwe verdoesel en onskuldige mense moes die spit afbyt . Hoeveel onreelmatighede sal nog voor Zuma se deur beland/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.