Soorte resepte:

Smul aan die Melktert-meester se resep!

Argieffoto

Argieffoto

Smul nou aan die lekkerste melktertresep – sopas deur Maroela Media aangewys as die beste vir 2016!

Ter viering van Nasionale Melktertdag op 27 Februarie, was Maroela Media op soek na die Melktert-meester, en Marlene Veldman stap met haar melktertresep weg met dié gesogte titel en boonop ʼn R500-geskenkbewys met die komplimente van Lapa Uitgewers.

Hiermee Marlene se resep:

Bestanddele:
1 blik kondensmelk
3 blikke melk (gebruik kondensmelk se blik)
45 ml mielieblom
15 ml vlapoeier
1 ml sout
2 eiers
5 ml vanieljegeursel
30 g botter
1 pak Tennis/Mariebeskuitjies
Kaneel

Metode:
1. Meng kondensmelk en 2½ blikkies melk en verhit tot amper kook.
2. Meng mielieblom, vla, sout, eiers en geursel met oorblywende halwe blikkie melk.
3. Voeg by die warm melk en kook stadig vir ongeveer 10 minute. Roer kort-kort, verwyder van hitte en roer botter in.
4. Voer ʼn groot glasbak met koekies, gooi die vulsel bo-oor.
5. Sprinkel kaneel bo-oor en laat afkoel in yskas.

Vulsel is ook genoeg vir 2 kleiner bakke.

Geniet!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Judy

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Landi
nms Maroela Media

Eliza-beth ·

Wens ek kon kom help kies – ek sou darem LEKKER proe aan al die terte!

Violet ·

Dis nie n regte boere melktert nie. In die outyd het hulle skilferkors gebruik en dit saam met vulsel in oond gebak. Daar was ook nie kondensmelk nie.

Violet ·

Dis nie n regte boere melktert nie. In die outyd het hulle skilferkors gebruik en dit saam met vulsel in oond gebak. Daar was ook nie kondensmelk nie.
Ek wil net byvoeg dit klink lekker en gaan dit probeer!

marlene ·

Dit is nie n boeremelktert,soos my ouma hom sou maak nie,ja,maar in ons gejaagde lewe,is die resep voorwaar baie maklik en vinnig.Soos my skoondogter sou sê,”selfs sy wat water laat aanbrand,kan die resep sonder moeite maak.

Manie ·

Dit was die wenresep en nie die Boere resep nie. Dit klink baie maklik en as dit so lekker is as wat dit klink moet ons dit probeer!

Eliza-beth ·

Ja ek onthou daai ouma-het-4vm-opgestaan-om-die-skilferkors-te-maak melkter – yum, nooit as kind gedink mens sal so-iets so kan mis nie. Maar ek sê steeds, ek wens ek kon help kies – al die geproe sou darem net vreklekker wees!

Mara Fourie ·

Ek weet van baie mense wat die resep gebruik vir jare al. My vriendin het dit al omtrent 6 jaar terug gebruik. Ek het hom by haar gekry. En sy bly in Natal. Dis nie n ou tyd se melktert nie. Alhoewel dit heerlik is. Dis n allom bekende resep?

Dine van Zyl ·

Dit is nie melktert nie. Ek het geen probleem daarmee as iemand enige lekker tert maak nie, maar hoe kon die beoordelaars dit die “meesterresep” van melktert maak? Dit is soos om te sê ‘n Volkswagenkewer is ‘n Porsche. ‘n Melktert word van melk, eiers, suiker en kaneel gemaak. Jy kan ook vanieljegeursel of amandelgeursel byvoeg. Tradisioneel word skilferkors gebruik en die tert word gebak. Dit is nie ‘n yskastert nie. Daar kom nie kondensmelk in nie, en liewe tyd! daar kom nie vlapoeier in nie. Die kors word nie van beskuitjiekrummels gemaak nie. Ek herhaal: ek het niks teen die tert nie, ek het niks daarteen as mense dinge vinniger wil doen nie, maar ek maak ernstig beswaar dat dit ‘n melktert genoem word en die pryswenner is. Dit is nie ‘n melktert nie. Dine van Zyl, skrywer van Die Groot Boerekosboek 1 & 2 en aanbieder van die reeks “Boerekos” op KykNet.

Elmarie Pretorius ·

Wat n heerlike melktert my dogter het verjaar gister en my broer Werner Herselman het ons verras met die tert wat hy gemaak het. Baie baie lekker hy se hy het resep hier gekry Dankie

Jooste Rossouw ·

Het die tert gemaak was HEERLIK Dr Dine van Zyl maak hom en lewer dan kommentaar. Soek net raad asb. My tert het krake gekry wat maak ek verkeerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.