Smuts-plaasmoord: Beskuldigde het vorige oortredings

Prince Mngomezulu in die hooggeregshof in Delmas (26 Junie 2018). Foto: Maroela Media

Die hooggeregshof in Delmas het Dinsdag, kort ná Amos Mthembu (29) skuldig bevind is aan die wrede moord op vier lede van die Smuts-gesin op 13 Februarie 2017 naby Balfour in Mpumalanga, gehoor dat die tweede beskuldigde in dié saak reeds skuldig bevind is op twee vorige oortredings.

Prince Mngomezulu (27) is 30 Maart 2009 skuldig bevind aan aanranding en 20 Augustus van dieselfde jaar aan huisbraak met die doel om te steel.

Leona Fraser, ʼn regshulpprokureur wat namens albei beskuldigdes optree, het aan die hof gesê dat Mngomezulu ʼn kind van sewe jaar oud het wat nie by hom woon nie, maar wel finansieel deur hom ondersteun word.

Sy het ter versagting genoem dat hy werksaam was tydens die voorval, ʼn verhouding het met sy minderjarige kind, vir nege jaar nie betrokke was by enige misdaad nie, vir die polisie die gesteelde skootrekenaar [waaroor hy skuldig bevind is] gaan uitwys het en reeds 16 maande tronkstraf uitgedien het.

Fraser het voorgestel dat die omstandighede rakende die voorval nie voldoende is om ʼn vonnis van direkte tronkstraf te regverdig nie. “Ek versoek nederig dat die hof vir hom tronkstraf oplê, maar dat dit opgeskort word en dít dan as ʼn swaard oor sy kop hang.”

Staatsaanklaer adv. Eric Sihlangu het kapsie gemaak teen dié voorstel en gesê dat direkte tronkstraf juis gepas sal wees omdat Mngomezulu reeds twee skuldigbevindings teen sy naam het wat hom nie afgeskrik het om weer misdaad te pleeg nie.

“Die vonnis wat die hof oplê, moet ʼn sterk boodskap uitstuur en as afskrikmiddel dien,” het Sihlangu gesê.

Louis, Belinda en hul kinders. Foto: Facebook.

Maroela Media het vroeër berig  Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), se liggame is verlede jaar op die plaas Modderbult aangetref.

Waarnemende regter Tule-Tu Tonjeni het Mthembu skuldig bevind op vier aanklagte van moord, verkragting, een van roof met verswarende omstandighede, een van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en een van die onwettige besit van ammunisie.

Die saak is uitgestel tot 27 Julie wanneer ʼn voorvonnisverslag van Mthembu by die hof ingedien moet word. Tonjeni het daarbenewens ʼn slagofferverslag, asook ʼn verslag van ʼn maatskaplike werker vir Mngomezulu versoek.

Die vonnisverrigtinge sal dan voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die Balfour-plaasmoord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Amanda ·

Hy het nie aan sy kind gedink toe hy die misdade gepleeg het nie …… hoekom noem hulle dit nou

Hobbo ·

Amanda, wanneer n prokkereur sulke redes aangee ter versagting van n vonnis doen dit skade aan hulle beroep om nie eers te praat van hulle integriteit nie. Dit is verblydend om te hoor die staatsaanklaer nie dit steun nie en dat die regter nie daarvoor val nie.

Ben ·

Ek dink daai regshulpprokureur rook haar sokkies, 4 mense vermoor en opgeskorte vonnis??????

Jacqui ·

Presies. Ek kan nie glo wat ek gelees het. Ek het lanklaas iemand so verwens soos vir haar. Die wiel draai

Callie ·

Dis hoe siek ons samewing geword het. Bekommerd oor die moordenaar, niks oor die slagoffers. Dalk begin my denke oor wat Robert Mcbride gedoen het verander

Egbert ·

Het slagoffer se familie ook seggenskap in die uitspraak? Swart-jassie-narre se dag- en aandpraatjies is nie konstant nie.

Adri ·

In die geval van Clive Derby-Lewis se aansoeke vir parool het die slagoffer se vrou elke keer voorkom dat dit toegestaan word. So, in die Suid-Afrikaanse regstelsel het die familie skynbaar wel inspraak. Of geld dit net vir sommiges?

Alta Hattingh ·

Baie bly vir die familielede dat saak vandag afgehandel is. Dit maak rou wonde weer oop. Verstaan nie dat hulle vandag eers uitgevind het dat besk vorige rekords het nie. Vingerafdrukke word mos dadelik geneem?

Yankee ·

Verstaan julle glad en geheel nie hoe n regstelsel werk nie? Een kla aan, een verdedig. Een MOET aankla, en een MOET verdedig!!

Domvraag ·

Ja een moet verdedig om te voorkom dat n onskuldige nie gestraf word nie, maar hier is hy reeds skuldig gevind en vra Leona Frazer dat hy nie tronk toe moet gaan nie. So jy was betrokke by n misdaad waar mense vermoor is en jou prokureur veg om jou vryheid sodat jy weer kan inbreek en roof en mense weer vermoor kan word. Is van ons so afgestomp en sonder empatie dat ons rowers en moordenaars ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.