Smuts-plaasmoord: Vonnisverrigtinge uitgestel

Amos Mthembu in die hooggeregshof in Delmas (26 Junie 2018). Foto: Maroela Media

Die vonnisverrigtinge in die saak teen twee mans wat skuldig bevind is in verband met die moord op vier lede van die Smuts-gesin van Balfour in Mpumalanga, kon nie Vrydag voortgaan nie.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê waarnemende regter Tule-Tu Tonjeni het die saak in die Delmas-hooggeregshof tot 26 September uitgestel aangesien die verslae van maatskaplike werkers nie gereed was nie.

“Die verslae is vir die beskuldigdes (voorvonnisverslae) asook die slagoffers (slagofferverslae). Hulle beweer hulle het nie genoeg tyd gehad om die verslae saam te stel nie,” het Nyuswa gesê.

Maroela Media het vroeër berig Gert Smuts (78), sy vrou, Paulina (71), hul seun, Louis (47), en skoondogter, Belinda (42), se liggame is verlede jaar op die plaas Modderbult aangetref.

Amos Mthembu (29) is skuldig bevind aan die wrede moorde op die gesinslede asook roof met verswarende omstandighede, een klag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en een klag van die onwettige besit van ammunisie. Mthembu is ook op ʼn aanklag van verkragting skuldig bevind nadat hy Paulina op die dag van die moorde verkrag het.

Prince Mngomezulu (27) is skuldig bevind op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sieg ·

Goeie samewerking van ons regstelsel, dit sal uit die Howe verdwyn, dit gebeur al klaar.

Andrea van Vuren ·

Hoe lank neem dit om ‘n verslag saam te stel? Waar het die maatskaplike werkers gestudeer? it neem deesdae tot amper een jaar om ‘n visum te kry. En dan kry hierdie mense nog salarisse vir vertragingstaktiek!

GP ·

Ons reg stelsel is nie ‘n afskrikmiddel nie.
Mense is nie bang vir tronk toe gaan nie.

Selfbeskikking ·

Daarom moet ons selfbeskikking kry sodat moordenaars opgesluit kan word.

Lerato ·

Ek hoop waaragtag dat hy nie opparool uit is nie.

In hierdie land is enigiets moontlik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.