Sneeu, bibberweer die naweek op pad

Argieffoto

Suid-Afrikaners kan hulself staal vir besonderse koue weerstoestande asook sneeu in sommige dele van die land.

Snow Report SA het Donderdagoggend in ʼn verklaring op hul amptelike Facebook-blad gesê dat ʼn kouefront Sondag aan die Weskus sal aanland. Daar word verwag dat sneeu teen Sondagaand op die meerderheid van die Kaapse berge gewaar sal kan word.

“Ons kan dalk meer as 15 cm [sneeu] sien op die Hottentots Holland-, Cederberg-, Matroosberg- en die Boland-bergreekse. Terselfdertyd word daar teen Maandagoggend sneeu verwag in die Noord-Kaap in Sutherland, Calvinia en Fraserburg – dit kan selfs so ver as Springbok beweeg,” lui die verklaring.

Snow Report SA sê soos die kouefront ooswaarts beweeg behoort die Oos-Kaap ook redelik sneeu te ontvang, veral in die Lady Grey- en Barkley-Oos-omgewings.

“Teen Maandagmiddag behoort die kouefront sneeu na meeste dele van Lesotho te bring en daar behoort sneeu te val op die piek van die Saniberg teen laat Maandagaand of vroeg Dinsdagoggend. Ons kan moontlik ook sneeu in KwaZulu-Natal sien met sneeuval wat voorspel word vir Underberg, Mooirivier, Rosetta en Impendle,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring sal daar ook landswyd uiters koue temperature heers. Die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) beaam dit. In Kaapstad sal dit Sondag slegs 16 °C wees en in Sutherland in die Noord-Kaap ʼn bibberkoue -2 °C-minimum en 7 °C-maksimum, met ʼn 60% kans vir reën. Barkley-Oos se maksimum sal Dinsdag en Woensdag maar net 12 °C wees met minimumtemperature wat onder vriespunt daal.

Impendle in KwaZulu-Natal se maksimum sal Dinsdag 14 °C wees terwyl die minimumtemperatuur Woensdag vriespunt sal bereik.

Daar word nie enige sneeu in die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng verwag nie.

Snow Report SA het boere gemaan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref veral met betrekking tot hul vee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Klink goed……ons soek BAIE reën in die Wes-Kaap en Karoo vir die boere.

Nettie ·

H-h-h-hier g-g-gaan ons alw-w-weer ………. Ek begin sommer al klaar te bibber van die k-k-koue, want ek bly r-r-reg onder die M-M-Matroosberge en dit raak v-v-vrek k-k-koud al is daar net ‘n streepseltjie sneeu op die hoogste toppe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.