Sneeu binnekort hiér verwag

Sneeu by die AfriSki-oord in Lesotho (Foto: Martin Shultz via Snow Report, Facebook)

Suid-Afrikaners het sedert verlede week hul winterklere begin nader trek en dit word verwag dat temperature hierdie week verder sal daal wanneer ’n kouefront die land se suidwestelike kus tref. Weens die temperatuurdaling word sneeu boonop vir die Drakensberge, Lesotho en gedeeltes van die Oos-Kaap voorspel.

Venetia Phakula, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê ’n kouefront sal vandag (Maandag) die Wes-Kaap tref, wat bewolkte en koel weer tot gevolg sal hê.

Die kouefront sal teen Dinsdag die kusgebiede van die Oos-Kaap bereik en temperature sal teen Woensdag in gedeeltes van die Oos-, Wes- en Noord-Kaap daal. In sekere gebiede in dié provinsies sal maksimum temperature na verwagting tot onder 20 °C daal en enkele reën- en donderbuie kan plek-plek uitsak.

“Weens die kouefront en temperatuurdalings, word moontlike sneeu teen Donderdag of Vrydag in gedeeltes van die berge in Lesotho, die Drakensberge en hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap voorspel,” sê Phakula.

Volgens die Snow Report is ligte sneeu al verlede Donderdag en Vrydag by die AfriSki-ski-oord asook die oostelike gedeeltes van Lesotho en gedeeltes van die Drakensberge aangemeld.

Phakula sê volgens die weerdiens se seisoenale voorspelling word normale tot bo-normale minimum en maksimum temperature tussen April en Augustus vir die meeste provinsies in die land voorspel. Dit beteken dat die meeste provinsies ’n effens warmer winter kan ervaar, hoewel daar geen uitermatige temperatuurverskil gaan wees nie.

Die weerdiens voorspel egter dat Gauteng en die verre oostelike gedeeltes van Noordwes waarskynlik kouer temperature as gewoonlik vir dieselfde tydperk sal ervaar.

Maroela Media het vroeër berig die sogenaamde normaal verwys na die gemiddelde temperature wat Suid-Afrika oor die afgelope 35 jaar beleef het.

Phakula sê ook dat normale reënval vir die meeste van die winterreënstreke in die Oos- en Wes-Kaap voorspel word. Sekere dele in dié provinsies se binneland kan moontlik tussen Mei en Julie bo-normale reënval verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

nee, elsabe, dis juis wat dit so lekker maak, jy kan aantrek tot jy warm kry, maar jy kan nie die omgekeerde doen nie

Lourens CFG ·

Ek trek aan tot ek soos oros mannetjie lyk, sit by die verwarmer, EN KRY NOG VREK KOUD.
Nee wat, gee my die somer, dan kan mens see toe gaan, visvang, swem ens. ens.

Eend Bessinger ·

Dit lyk of die sneeu in die Drakensberge so ver as die Middellande kan strek. Dit sal die eerste keer in vele jare wees dat dit hier sneeu. Al oortydig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.