Sneeu en bibberweer op pad

Argieffoto.

Argieffoto.

Haal maar jou ekstra komberse weer uit die kas, want volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens gaan twee intense kouefronte vandeesweek die land tref.

Die eerste kouefront sal Dinsdag die Wes-Kaap bereik, en behoort die noordoostelike provinsies teen Vrydag te bereik, met nóg ʼn kouefront kort op sy hakke.

“Die eerste front gaan met baie koue toestande, asook brandrisiko’s in sekere gebiede gepaardgaan,” het Mkhushulwa Msimanga, ʼn senior weervoorspeller, in ʼn verklaring gesê.

“Die front sal na verwagting Woensdag na die westelike binneland beweeg waar baie koue, nat en winderige toestande in dele van die Noord-Kaap en Wes-Kaap verwag kan word. Die vriespunt gaan na verwagting baie daal, wat sneeu in dié gebiede kan veroorsaak. Baie koue toestande sal na verwagting hierna intree.”

Daar word voorspel dat die tweede kouefront Woensdag wes van die land gaan ontwikkel.

“Weens die droë en winderige toestande wat die eerste front vooruitgaan, is daar ʼn hoë brandrisiko Woensdag vir gedeeltes van die Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes. Mense word gewaarsku om nie oop vure te maak nie en versigtig te wees met aangesteekte vuurhoutjies en sigaretstompies.”

Die eerste kouefront behoort die oostelike provinsies van die land teen Donderdag te bereik terwyl die westerlike en sentrale dele van die land steeds die koue nagevolge gaan ervaar. Sneeu kan ook in die Oos-Kaap en Lesotho verwag word.

Die tweede kouefront sal na verwagting Donderdag sterk winde en hoë reënval oor gedeeltes van die Wes-Kaap veroorsaak met die moontlikheid van vloede in die suid-westelike dele van die provinsie. Sneeu sal tot Donderdag in hoogliggende gebiede van die provinsie en die Noord-Kaap voortduur.

“Oor die algemeen kan koue en winderige toestande Donderdag in hoogliggende gebiede verwag word nadat die eerste koue front oor die Kaap-provinsies, Vrystaat en KwaZulu-Natal beweeg het. Temperature in Gauteng en Mpumalanga sal op dié dag matig wees, maar gaan teen die einde van die dag aansienlik daal soos wat koue lug oor die provinsies inbeweeg.”

Die eerste kouefront sal na verwagting Vrydag ooswaarts in die Indiese Oseaan inbeweeg. Geïsoleerde en verspreide reënbuie sal moontlik langs die kus, en binneland van die Oos-Kaap voorkom.

Saterdag gaan dit koud en droog oor groot gedeeltes van die land wees. Ryp en swartryp kan Saterdagoggend in die sentrale gedeeltes van die land verwag word. Die dagtemperature sal na verwagting van Saterdagmiddag af weer begin styg.

Inwoners van Kaapstad kan Donderdag ‘n koue dag te wagte wees met ʼn minimum van 10°C en maksimum van 12°C.

Springbok in die Noord-Kaap kan Donderdag ‘n minimumtemperatuur van 6°C en ‘n maksimumtemperatuur van 9°C verwag.

In Oos-Londen in die Oos-Kaap is die minimumtemperatuur Vrydag 10°C en die maksimumtemperatuur 16°C.

ʼn Minimumtemperatuur van -2°C word Vrydag in Vryburg, Noordwes, voorspel met ʼn maksimumtemperatuur van 16°C.

Bloemfontein in die Vrystaat se koudste dag is Vrydag met ‘n minimumtemperatuur -3°C en ‘n maksimumtemperatuur van 13°C. Klik hier om die voorspelling vir jou dorp te sien.

Gautengers moet Vrydag warm klere byderhand hou met ʼn minimumtemperatuur van 5°C en ʼn maksimumtemperatuur van 16°C wat voorspel word. Saterdagoggend sal ysig koud wees met ‘n minimumtemperatuur van 0°C waarna ʼn maksimumtemperatuur van 19°C verwag kan word.

Richardsbaai in KwaZulu-Natal kan Vrydag en Saterdag ʼn minimumtemperatuur van 14°C en ‘n maksimumtemperatuur van 20°C te wagte wees.

In Baberton in Mpumalanga daal die kwik Saterdagoggend tot 7°C met ʼn maksimumtemperatuur van 18°C.

Polokwane in Limpopo het Saterdag ʼn minimumtemperatuur van 2°C en ʼn maksimumtemperatuur van 20°C.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erika ·

Vetkoek en sop en bredies weer!! Wenresep, bly in die bed, met dvd’s of boeke!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.