Sneeu, reën dié week op pad

(Foto: AfriSki/Martin Schultz via Twitter)

Suid-Afrikaners kan hulself vir bitter koue weerstoestande in die volgende week staal, wat met wind en reënval gepaard kan gaan. Sneeu word ook in sommige dele van die land verwag.

Die meeste Suid-Afrikaners bibber Maandag weens dalende temperature wat deur ’n koue front veroorsaak is, wat aan die suidelike kus verbybeweeg. Volgens Edward Engelbrecht, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), kan lae temperature vir die hele week in die land verwag word, met minimum temperature wat tot onder vriespunt daal.

Engelbrecht sê daar is Maandag ’n 30%-reënkans vir dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, oostelike dele van die Vrystaat en Noordwes. Teen Dinsdag sal reën- en donderbuie ook in Gauteng, Mpumalanga en die suidelike dele van Limpopo uitsak. Geen reën word vir die Noord-Kaap voorspel nie.

“Die reën sal teen Woensdag in die Vrystaat en Gauteng begin opklaar. Die res van die provinsies sal egter tot die naweek nog reën ontvang,” het Engelbrecht aan Maroela Media gesê.

Sneeu van tot 50 cm word ook dié week vir dele van Lesotho en die hoogliggende gebiede van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Vrystaat voorspel. Dit sal waarskynlik die eerste behoorlike sneeuval van die winter wees.

Die Noord-Kaap, Vrystaat en Oos-Kaap sal na verwagting die laagste minimum- en maksimum-temperature aanteken.

Volgens die weerdiens het Sutherland in die Noord-Kaap Maandag ’n minimum van -2 ˚C aangeteken en ’n maksimum van 10 °C word verwag.

In die Vrystaat kan Bloemfontein Dinsdag ’n minimum van 1 ˚C en ’n maksimum van 14 ˚C verwag, gevolg deur Bethlehem met ’n minimum van -2 ˚C en ’n maksimum van 12 ˚C. Ficksburg kan ’n minimum van -3 ˚C en ’n maksimum van 14 ˚C verwag.

In die Oos-Kaap kan Cradock ’n minimum van 3 ˚C en ’n maksimum van 12 ˚C aanteken, gevolg deur Barkly-Oos met ’n minimum van 0 ˚C en ’n maksimum van 9 ˚C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.