Snelweg gesluit ná 3 in ongeluk sterf

Foto: IPSS Medical Rescue

Drie mense is dood en talle beseer in ʼn ongeluk Dinsdagmiddag laat op die N2-Suid naby Umdloti in KwaZulu-Natal.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het aan Maroela Media gesê slegs een voertuig was by die ongeluk betrokke. Volgens Herbst word daar vermoed dat een van die bakkie se bande losgekom het en dat die passasiers agterop van die voertuig afgeslinger is.

“By paramedici se aankoms op die toneel het die voertuig steeds op sy wiele gestaan, maar van die mense wat agterop was, het tot 25 m van die voertuig af gelê. Dit wil dus voorkom asof die bakkie moontlik gerol het, maar dit kan nie in dié stadium met sekerheid gesê word nie,” het Herbst gesê.

Drie mense het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Talle ander is in die ongeluk beseer en een van die beseerdes, wat in ʼn kritieke toestand was, moes per helikopter na ʼn hospitaal geneem word. “Die ander beseerdes, ongeveer 12 mense, is deur verskeie nooddienste per ambulans na ʼn hospitaal vervoer.”

Herbst het gesê die N2-Suid is tans steeds gesluit terwyl owerhede op die toneel besig is met hul ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.