Snikhete George se reservoirs begin vol loop

kraan-water-glas

(Foto: pixabay)

Die George-munisipaliteit, wat Vrydag waterbeperkings ingestel het om drinkwatervlakke te verhoog, sê daar was die afgelope naweek ʼn beduidende verbetering in watervlakke.

Sommige gebiede het lae waterdruk ondervind, of in sommige gevalle selfs geen water gehad nie.

“Vrydagoggend het ons net meer as drie uur se voorraad drinkwater in ons reservoirs gehad, terwyl die voorraad nou op nege ure staan,” lui ʼn verklaring van die plaaslike owerheid wat vroeg Sondagaand uitgereik is.

“Ons tegniese span is tevrede met die toename, gegewe die uiters warm weer wat ons oor die afgelope twee dae ondervind het.

“Die stelsel is nou teen volle kapasiteit geopen om die netwerk op te vul en te stabiliseer.”

Die munisipaliteit het inwoners ook bedank vir hul samewerking om watergebruik te verminder.

Die gebied sukkel die afgelope ruk met watervoorsiening nadat verskeie pype gebars het en groot skade aan infrastruktuur tydens kitsoorstromings in November aangerig is.

Die munisipaliteit het ook opnuut ʼn beroep op alle inwoners, sakeondernemings, ook boumaatskappye, skole en sportfasiliteite gedoen om drinkwater spaarsaam te gebruik en doelbewuste stappe te doen om minder water te gebruik.

Volgens die SA Weerdiens word ʼn maksimum temperatuur van 30 °C en humiditeit van 60% Maandag vir George voorspel. Geen reën is vandag in die vooruitsig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tino

NIemand se niks van die massiewe uitbreiding wat George tans ondervind nie…

Samuel

Ek glo die gewone burgers (inwoners) sal wel water spaarsamig gebruik, maar die nywerhede en konstruksie maatskappye gaan beslis hul eie belange voorop stel.