Snikhete lei tot skerp styging in Tshwane-watergebruik

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die versengende hitte wat mense oor groot dele van die land die afgelope paar dae moes verduur, begin nou in die Tshwane-metrogebied sy tol eis. Die raad sê ondanks voortdurende oproepe op inwoners om water spaarsaam te gebruik, is die stad se waterverbruik tans kommerwekkend hoog.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die stygende kwik het tot ʼn aansienlike toename in waterverbruik gelei wat die watervoorsieningstelsel tot die uiterste beproef en reservoirs onder geweldige druk plaas.

“As hierdie neiging voortduur, kan dit tot ernstige wateronderbrekings regoor die stad lei. Alhoewel die aanbod van water oorvloedig mag lyk, is die realiteit dat water nie ʼn onbeperkte hulpbron is nie.

“Dit is dus elke inwoner van die stad se plig om water spaarsaam te gebruik en te verseker dat ons die reservoirs op aanvaarbare watervlakke hou,” sê Mashigo.

Die Tshwane-metroraad doen ʼn beroep op inwoners om die volgende waterbesparingsmaatreëls ʼn deel van hul normale leefstyl te maak:

  • Moenie tuine met tuinslange of sproeiers tussen 06:00 en 18:00 natlei of besproei nie
  • Moenie voertuie met ʼn tuinslang was nie
  • Moenie opritte of sypaadjies met ʼn tuinslang skoonspuit nie
  • Spoel toilette slegs wanneer nodig
  • Hou die kraan toe terwyl jy tande borsel
  • Verminder daaglikse waterverbruik soveel as moontlik
  • Herstel waterlekke in jou erf en rapporteer lekkasies in die straat
  • Moenie swembaddens met munisipale water opvul nie. Die aanvulling van swembaddens word slegs toegelaat indien die swembad toegerus is met ʼn swembadbedekking wat verdamping voorkom.

“Die stad wil almal bedank wat die oproep om water spaarsaam te gebruik nagekom het en aanmoedig om so voort te gaan om te verseker dat ons reservoirs nie opdroog nie,” sê Mashigo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.