Snoekloop: Vissers oortree glo regulasies

Bedrywighede gedurende die snoekloop by die hawe op Lambertsbaai. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Kommersiële Lynvissersvereniging (SAKL) doen ’n beroep op vissers om aan die nodige regulasies te voldoen gedurende vanjaar se snoekloop te midde van die algehele landwye afsondering.

Dit volg nadat verskeie inwoners van Lambertsbaai aan die Kaapse Weskus reeds klagtes ingedien het oor die vissers wat sedert verlede week op dié dorp toegesak en skynbaar reeds die regulasies oortree het. Volgens die inwoners beweeg vissers en lede van die gemeenskap vrylik op die hawe rond en daar is selfs kosstalletjies opgerig.

Wally Croome, voorsitter van die SAKL, het Vrydag aan Maroela Media verduidelik dat die SAKL aanvanklik moes mooi praat voordat die departement van omgewingsake, bosbou en vissery vanjaar se snoekloop toegelaat het ten spyte van die Covid-19-pandemie.

Die snoekloop was aanvanklik verbied, waarna die departement ingestem het dat die bedrywighede kon voortgaan mits vissers die nodige permitte het, die regulasies nakom en nie aanbly op die dorp waar hulle visvang nie, maar saans terugkeer huis toe.

Volgens Croome was dit egter nie moontlik nie, aangesien sommige vissers honderde kilometer reis om in hierdie tyd vis te kan vang aan die Weskus en dus nie elke aand huiswaarts kan keer nie. “Ons is dankbaar dat die minister [Barbara Creecy] ons hiermee tegemoet gekom het aangesien talle vissers op die snoekloop vir ’n inkomste staatmaak,” het Croome verduidelik.

Daar is toe besluit dat vissers in die dorpe mag aanbly, mits hulle nie by vriende, familie of kennisse oorbly nie, maar eerder van ander akkommodasie gebruik maak.

Bedrywighede gedurende die snoekloop by die hawe op Lambertsbaai. (Foto: Facebook)

Volgens Croome het die departement uit hul pad gegaan om vissers in hierdie tyd tegemoet te kom. Tog is daar vissers wat nie aan die ander regulasies voldoen wat aan hulle deurgegee is nie. Die regulasies behels dat vissers nie ’n boot of ’n hawe mag verlaat voordat alle vis van die boot afgelaai is nie. Vissers mag daarna ook nie by die hawe ronddrentel nie, maar moet dadelik na hul akkommodasie terugkeer wanneer hulle klaar visgevang het.

Vissers behoort ook ten alle tye maskers te dra wanneer hulle wel op die hawe rondbeweeg.

Croome verduidelik dat die SAKL vissers ook opdrag gegee het om nie kontak te maak met gemeenskapslede nie. Slegs een bemanningslid per boot mag die boot na die vulstasie op die dorp neem om die brandstof te hervul. Slegs twee bemanningslede per boot mag na die plaaslike supermark gaan om kos en ander noodsaaklikhede aan te koop.

Verskeie inwoners van die dorp voer egter nou aan dat vissers nie die regulasies nakom nie. “Dit is chaoties op die dorp met al die vissermanne en dit raak erger by die dag,” vertel ’n inwoner aan Maroela Media.

Volgens die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het die plaaslike polisie wat die situasie op die hawe monitor,  hul hande vol. “Die polisie probeer hul uiterste bes om orde te handhaaf, maar daar is meer voete as wat hulle kan beheer.”

Die inwoner beweer dat vissers vrylik op die hawe rondbeweeg en dat gemeenskapslede ook nou by die hawe begin ronddrentel.

Volgens die inwoner dra nie alle vissers maskers nie en is daar geen sprake van sosiale afstand wat gehandhaaf word op die hawe nie. Die persoon beweer dat die hawe nou die perfekte toestande skep waar die nuwe koronavirus onder mense kan versprei.

Bedrywighede gedurende die snoekloop by die hawe op Lambertsbaai. (Foto: Facebook)

Croome het gesê die SAKL is bewus van dié klagtes. “As ek ’n inwoner was, sou ek ook versigtig wees. Die risiko is daar, maar daarom moet almal die regulasies streng nakom.”

Volgens Croome kom die meerderheid van vissers die regulasies na, hoewel daar natuurlik diegene is wat kanse vat. Croome verduidelik dat dié wangedrag nie geduld word nie.

Hy sê die SAKL het reeds ’n waarskuwing aan alle vissers uitgestuur en hulle het planne om ’n noodlyn op te stel waar klagtes oor vissers ingedien kan word. Hy doen nou ’n beroep op inwoners én vissers om skuldiges aan te meld.

“Die minister kan enige tyd besluit dat die snoekloop nie kan voortgaan nie. Te veel ouens het met verlede jaar se snoekloop laas ’n inkomste verdien. Dit is hierdie ouens se lewensboot. Die regering gaan uit hul pad om ons te help. Dit is nodig dat almal die regulasies nakom,” het Croome gesê.

Volgens Croome verbind die SAKL hom daartoe om hongersnood in hierdie tyd te help bekamp, uit waardering vir die regering se hulp. Die prys per vis het heelwat afgeneem en het teen Donderdag op R20 stuk gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Nou waar moet die mense bly? Gastehuis is veronderstel om toe te wees. Hoekom mag hulle dan nie by familiebly nie? Wat is die verskil tussen familie en ander verblyf? Die vissers het tien teen een nie geld vir ander akkomodasie nie. Het die regering dan geen empatie nie? Ek nou al siek vir die nonsens.

marius ·

Dan moet alles oopgemaak word . Hulle is nie die enigstes wat afhanklik is nie . Vat vir greecy aan !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.