Snuffelhond deur koedoe gegaffel

Jaco Gericke by Akita. Foto: Verskaf.

Jaco Gericke by Akita. Foto: Verskaf.

ʼn Teenstroperhond sterk aan nadat sy deur ʼn koedoebul gegaffel is.

Die voorval het Vrydag in die Krugerwildtuin se Letaba-kamp plaasgevind.

Jaco Gericke, ʼn paramedikus by CPF Medical/GAMS Maponya911, het aan Maroela Media vertel hy is Vrydag deur Akita se eienaar, Andre Desmet, gebel om te kom help toe Akita deur die koedoe gegaffel is. Akita is ʼn kruising tussen ʼn Duitse en Belgiese herdershond.

Die sesjarige Akita het saam met een van haar hanteerders patrolliewerk gedoen. “Hulle het in die Letabarivierbed geloop. Daar is tans ʼn groot kankerroosplaag wat op sommige plekke tot skouerhoogte groei en baie dig is. Sy was net so ʼn tree of twee voor haar hanteerders toe sy op ʼn groep van vier slapende koedoes afgekom het.” Volgens Desmet het ʼn groot koedoebul haar met sy horing in haar sy gegaffel. “Die hanteerders het net gehoor hoe sy blaf van die pyn en toe stil raak. Mens kon hoor hoe sy asemhaal deur die wond, dit het ʼn roggelgeluid gemaak.”

“Gelukkig het sy nie ʼn pneumotoraks nie, dit beteken daar het nie lug in haar long ingegaan nie, daar was net baie bloeding,” het Gericke gesê.

Volgens Gericke het Desmet haar dadelik met ʼn groot pleister bedek wat gehelp het om die bloeding te keer. “Ek het toe net vir haar ʼn drip aangesit en toe daag die wildtuin se helikopter daar op om haar weg te vat.” Gericke sê hy het al ʼn paar honde in die omgewing behandel.

Volgens Desmet het hy Woensdag by Akita gaan kuier by die West Acres-dierehospitaal in Nelspruit waar sy aansterk. “Ek het haar selfs vir ʼn kort stappie gevat, sy begin ook bietjies-bietjies weer eet. Ek kan egter sien sy het nog bietjie seer. Die groot dag is nou Donderdag wanneer hulle die verbande vir die eerste keer gaan afhaal,” het Desmet gesê.

“Dis eintlik ʼn ongelooflike storie, Akita is so sterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Aster ·

Sy is pragtig! Hoop sy herstel ten volle. Hou so aan met die goeie werk my honne!

Sylvia ·

Alle sterkte Akita.Jys so pragtig.Hoop jys een van dae heeltamal gesond en kan weer aangaan met jou goeie diens.Jys voorwaar n ster.

Dedré ·

Mooi aansterk Akita. Skiesie vir jou eina hoor. Sal biltong kom maak van dai stoute koedoe. Mwah beter soenq hoor!

Sylvia ·

So jammer om te verneem dat Akita so seergekry het.Wens haar alle beterskap toe,dat sy heeltemal sal herstel en haar goeie werk sal kan voortsit.Sys pragtig en beslis n ster.

Thersia ·

Wonderlik om te sien hoe daar nog mense is wat so omgee vir diere. Wel gedaan ouens, lekker om sulke nuus ook te sien!!

Cecile ·

Baie jammer vir haar en sal bid vir haar. Sterke Hy is in beheer.

Charmaine ·

Wat ‘n pragtige hond. Hoop regtig sy sal ten volle herstel en weer gou haarself wees. Dink aan haar!

Christa ·

Vasbyt Atika! Jy is een van die dae weer op al vier jou bene!!

Christa ·

‘Skuus man ek het jou naam verkeerd Akita maar my boodskap bly dieselfde!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.