Snuffelhond snuif miljoene se heroïen by grenspos uit

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto: Verksaf

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto: Verksaf

Heroïen ter waarde van miljoene rande is Donderdag met die hulp van ʼn snuffelhond by die Lebombo-grenspos tussen Mpumalanga en Mosambiek opgespoor.

Sandile Memela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Vrydag gesê die heroïen is in ʼn Corsa-bakkie gevind wat die land vanuit Mosambiek binnegekom het.

“ʼn Doeanebeampte en hondehanteerder was omstreeks 17:00 besig met roetine-inspeksie by die grenspos, toe die bakkie voorgekeer is. Die bestuurder van die voertuig het niks by doeane verklaar nie en ingestem dat die voertuig deursoek word. Die snuffelhond het verskeie positiewe aanduidings van dwelms gemaak, waarna die voertuig verder deursoek is,” het Memela gesê.

Die dwelms is in 25 geel pakkies in die deurpanele en sitplek versteek. Dit weeg 26,6 kg en het ʼn geskatte waarde van R7,9 miljoen.

Volgens Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, is die man ʼn 21-jarige Suid-Afrikaner van die Mkhuhlu- informele nedersetting noord van Calcutta in Mpumalanga.

Hy is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel. Die Valke het beslag gelê op die dwelms en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakes ·

Welgedaan snuffelhond! Maar daardie was die aas, aandag afleiding en ander voertuig glip deur met regte besending…modus oprandi telkens al bewys.

Cherokee ·

Jakes, moet nie al daardie sepies op TV glo nie. Dit is nie regtig nie maar ook geskryf deur iemand met ‘n groot verbeeldingskrag.

Kobus 4e ·

Bietjie dom om so groot stuk aas te gebruik, dink jy nie so nie. Die aas is dalk al deur, dis hoekom die groot een gevolg het. Al so daar aan gedink?

John ·

Binnegekom? So hier is ‘n afsetgebied? Waar? En waar kom die geld vandaan? Salarisse of studentefondse? Waar is ons Narkotikaburo? Afgeskaf? Wie is bekommerd daaroor?

Frederik ·

Hierdie ou was seker net die koerier. D ie dwelmhandelaar moet die Valke nog soek.

Nita ·

Nog n rede waarom die doodstraf terug gebring moet word. Watse straf gaan die smokkelaar kry? Niks wat enige iemand anders met sulke planne sal afskrik nie. Verder is die dwelms ook nie verlore vir die verspreiders nie. Dit gaan iewers in n kluis le en wag as bewysstukke in n hofsaak waarvandaan dit dan spoedig tussen neus en ore verdwyn. En g’n haan kraai ooit daarna nie!

Waarheid ·

Foto en toets vir bewys van inhoud moet gedoen word voor vervoer word dit is bewys genoeg vir saak. Dan MOET dwelm net daar VERNIETIG word dmv byvoeging of verbranding. Om sulke goed te vervoer of stoor of kamma veilig te bewaar ‘n klug.

Armando ·

“Waarheid” jy klink of jy weet. Sê vir ons meer asb.

peanut ·

……en oor n paar maande het almal vergeet hiervan en ry n paar polisiemanne met splinternuwe blink 4×4’s rond

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.