Snuffelhond spoor dwelms van R6,5 miljoen op

Foto verskaf deur SAPD Gauteng

Buddy, ʼn snuffelhond van die Wes-Randse honde-eenheid, het Donderdagaand dwelmmiddels met ʼn straatwaarde van ongeveer R6,5 miljoen, wat vir Australië bestem was, opgespoor.

Speurders van die Gautengse narkotika-eenheid en die Wes-Randse honde-eenheid het reageer op inligting oor ʼn besending wat vermoedelik dwelmmiddels bevat.

“Die beamptes het die besending onderskep en vier verdagtes in hegtenis geneem voor dit na Australië versend kon word,” het kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, gesê. “Buddy, die snuffelhond, het positief reageer op die inhoud van die besending dwelmmiddels. Verdere ondersoek het bevestig dat sowat 22 kg kristalmet in die standbeeld versteek is. ʼn Ondersoek het bevestig die kristalmet het ʼn geraamde straatwaarde van R6,5 miljoen.”

In ʼn afsonderlike voorval het polisiebeamptes ʼn voertuig in Douglasdale onderskep en beslag gelê op dwelmmiddels met ʼn geraamde straatwaarde van R3 miljoen. Twee persone is in die verband in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal binnekort in verskeie landdroshowe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.