Sny top-staatsalarisse om fiskale afgrond te vermy – Mboweni

Minister Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Suid-Afrika is fiskaal in dieselfde posisie as in 1994. Suid-Afrikaners sal soos in 1994 moet saamstaan om die land ná die aanslag van die koronavirus te herbou, net soos voorheen saamgestaan is om die land ná apartheid te herbou.

Daarom moet die salarisse van senior staatsamptenare op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak, asook by staatsbeheerde ondernemings, ingekort word.

Só het die minister van finansies, Tito Mboweni, Woensdagmiddag in die parlement gesê met die indiening van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk vir die volgende drie jaar, waar hy ook die aansuiweringsbegroting ingedien het.

Mboweni het gesê die nasionale tesourie se syfers toon dat die ekonomie met 7,8% gaan krimp vanjaar, en dat dit veral werkverliese is wat die land bloots ry, maar dat mense nie moet moed opgee nie.

Die doel van die regering is om Suid-Afrika van verbruiking na produksie om te skakel. Dit gaan taai gaan, het hy toegegee, veral met staatskuld wat teen 2024 95% van BBP sal wees – staatskuld (teen daardie tyd) van R5,5 biljoen (Engelse trillion).

“Daar is geen ruimte vir gly hier nie,” het die minister aangevoer, en aangekondig die grootste deel van die begroting word steeds aan onderwys, maatskaplike ontwikkeling (toelaes) en gesondheid bestee.

Die regering hoop om elektrisiteitsvoorsiening te verbeter en te stabiliseer met 12 000 MW van kragopwekkers buite die huidige Eskom-raamwerk.

Volgende jaar word wetgewing beoog wat dit vir aftreefondse makliker sal maak om in infrastruktuurprojekte te belê, asook wetgewing wat dit vir beleggers moontlik maak om vinniger en vroeër hul geld uit aftreefondse te onttrek.

Op vrae oor wat van die regering se R500 miljard-hulppakket aan die land ter versterking van die ekonomie weens die grendelstaat gebeur het, het Mboweni verduidelik R30 miljard is aan gesondheidsdienste bestee, R50 miljard aan verarmde huishoudings, R30 miljard aan loonbeskerming, R100 miljard (versprei oor drie jaar) aan werkskeppingsplanne, R200 miljard aan ʼn kredietwaarborgskema, R20 miljard aan munisipaliteite en R70 miljard aan belastingverligting.

Daar is ʼn moontlikheid dat Suid-Afrika ʼn verdere lening van $1 miljard (R16,36 miljard) teen gunstige voorwaardes kan bekom, het Mboweni gesê.

“Die regering leen tans teen ‘n koers van R2,1 miljard per dag en dit is nie volhoubaar nie,” het Mboweni gesê en die situasie in die woorde van Samuel Taylor Coleridge in “The Rime of the Ancient Mariner” met ʼn geverfde skip op ʼn geverfde see vergelyk.

Nietemin het hy ʼn verdere reddingsboei van R7 miljard vir die Landbank en R10,5 miljard vir die SAL aangekondig.

Om korrupsie te bekamp is ʼn ekstra R63 miljoen vir die Zondo-kommissie na staatskaping begroot, en is tendermaatreëls wat vir die grendelstaat gegeld het, opgehef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Zombie ·

Ek wens dat ek die vermoë gehad het om sulke geweldige konseptuele spronge te maak, van apartheid na die koronavirus.

daniel ·

En kan die ANC nie spring nie, van die een leun na die ander . As hulle maar die ekonomie kon bestuur soos hulle vermoe on leuns te vertel
Wat is mnr de Klerk se mening?.

Dup ·

Om korrupsie te bekamp/verhoed,sal iemand anders met die geld moet werk.Anders gaan dit weer “ek kul jou hier,ek kul jou daar”,verdwyn. Ek sê maar net…..

Pieter ·

Julle ANC kommuniste het maar net nie ore nie nog geld vir SAL. Ou slim gordhan het mos gepraat al hoe julle ANC se ore gaan oop gaan is met n BELASTING boikot.

Elsa ·

Gordan wou destyds die ministers se kredietkaarte intrek, daar was soveel teenkanting, niks van gekom.
Hy wou ook die salarisse verminder en ook niks gebeur.
Baie sterkte met jou besluit.

Mariana ·

Sal niks van kom nie. Sal liewer nog belasting op belastingbetalers sit of iewers weer leen voor daar aan hulle salarisse gevat sal word. Die fat cats sal net nog meer verdien.

Hennie ·

Hou op dreig ou Teee Tooo, en sy die verdomde goed se salarisse! Hulle verdien dit in elk geval nie.

Persheks Adri ·

Die 1ste paragraaf is klaar snert! Land nou na apartheid? Julle is dan so teen ons… Sny julle almal se salarisse Tito en raak ontslae van die kaders wat so onbevoeg verby is! Trek almal in wat deel was van die korrupsie en steeds is en kopdoek kan 1ste daai geld betaal waar sy en haar kinders so lekker geld gemaak het! SAL is geld mors Tito jy luister nie, maar ons moet die ekonomie reg kry met ANC en hul onbevoegte kaders nee!

Hennie ·

Gaan nie veel help nie. Hulle maak net seker dat die massas nie in opstand gaan kom nie. Te min te laat…

Keelvol ·

Hy wil 10 staats departementen se begrotings sny sodat 10 biljoen vir SAA gegee kan word.

Die Wolf ·

Amper verkeerd verstaan. Amper gedog 10 biljoen se salarrise verminder.

daniel ·

Dis n groot leun. SA se ekonomie was Kern gesond toe die land oorgegee is in 1994. So gesond dat dit 25 jaar geneem het om af te breek .

tweeling ·

Jou 2de sin is nie waar nie. Die NP het maar lekker gelieg oor die finansiele toestand van die land voor 1994. Ek sal maar verder stilbly.

Jack ·

Die NP was nie engeltjies nie en ou Barend du Plessis het blayante leuns in die Parlement vertel toe die NP die “ring fencing” klousule uit die betrokke wetgewing van die nasionale padboufonds verwyder het. Maar die NP het egter ook te doen gehad met internasionale boikotte, ‘n lae graadse burger oorlog, interne verraaiers en ‘n uiters vyandige pers. Ten spyte van dit alles is die land steeds goed bestuur.

Charlotta ·

Ek het nie geweet, dat hulle die land begin opbou het na 1994 nie. Die land word afgebreek ja.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.