Só baat toerisme by vlak 3

Mmamoloko Kubayi-Ngubane (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

Dit is van die uiterste belang dat die toerismesektor stelselmatig oopgestel word te midde van die Covid-19-pandemie aangesien sowat 600 000 werkgeleenthede in gedrang is sou die sektor nie teen September vanjaar oopgestel word nie.

So het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, Saterdagaand gedurende ’n virtuele mediakonferensie gesê. Die minister het nuwe regulasies vir die toerismesektor gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk aangekondig. Die vlak tree Maandag in werking.

Jagbedryf

Jagbedrywighede kan gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk voortgaan.

Volgens Kubayi-Ngubane gaan dit die toerismesektor ʼn groot hupstoot gee aangesien die jagbedryf jaarliks sowat R2 miljard tot dié sektor bydra. Die jagbedryf bied ook werksgeleenthede vir plaaslike gemeenskappe.

Wildreservate

Private en openbare wildreservate mag gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk heropen, hoewel besoekers hulle voertuie self sal moet bestuur om wild te besigtig.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Travel Free Talk) 

Geen wildbesigtigingstoere word gedurende vlak 3 toegelaat nie.

Besoekers mag ook slegs wildreservate in die betrokke provinsie waar hulle hulself tans bevind besoek aangesien reis tussen provinsies vir ontspanningsdoeleindes nie gedurende vlak 3 toegelaat word nie.

Stap

Suid-Afrikaners mag staptogte onderneem gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk.

Akkommodasie

Hoewel alle akkommodasiegeriewe soos gastehuise en hotelle gesluit bly vir ontspanningsdoeleindes gedurende vlak 3, sal akkommodasiegeriewe oopgestel word vir persone wat vir werksdoeleindes reis.

Dit geld ook vir toeriste wat tans in isolasie of kwarantyn is en nie na hul tuislande kan terugkeer nie.

Eienaars van akkommodasiegeriewe sal deurgaans boek moet hou van watter gaste by die betrokke fasiliteit oorbly aangesien die departement inspeksies gedurende vlak 3 sal doen, het Kubayi-Ngubane gewaarsku.

Restaurante

(Foto: pixabay)

Hoewel restaurante gesluit bly vir aansit-etes, mag restaurante gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk wegneemetes aanbied. Die etes kan afgelewer word of deur kliënte afgehaal word. Deurry-fasiliteite word ook toegelaat.

Volgens Kubayi-Ngubane sal restaurante met dranklisensies ook drank vir wegneem mag verkoop. Alkohol mag egter nie op die perseel waar dit verkoop word, gedrink word nie.

Die minister het ook gesê haar departement is besig om voorstelle op te stel rakende die heropening van restaurante vir aansit-etes.

Ondernemings

Kubayi-Ngubane het gesê professionele ondernemings in die toerismesektor mag gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk heropen. Dit sluit toergidse en reisagente in.

Casino’s, konferensies en geleenthede vir ontspanningsdoeleindes soos feeste bly egter verbode.

Hulp aan die sektor

Volgens Kubayi-Ngubane het die departement meer as 6 000 suksesvolle aansoeke van klein en mediumgrootte besighede in die toerismesektor ontvang om in aanmerking te kom vir die departement se hulpfonds gedurende die pandemie. Die meerderheid van die aansoeke kom van diegene wat akkommodasie bied, gevolg deur diegene in die gasvryheidsbedryf.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

Die minister het weer beklemtoon dat goedgekeurde entiteite elkeen R50 000 sal ontvang om uitgawes soos bedryfskoste te dek. Salarisse mag egter nie met dié geld betaal word nie.

Die hulpfonds se aansoeke sluit Sondag.

Die departement gaan nou ook R30 miljoen opsy sit vir toergidse wat nie by ʼn maatskappy aangestel is nie, het die minister aangekondig. Dit sluit in toergidse wat onafhanklik uitgekontrakteur word of vryskut werk aangesien hulle geen finansiële sekerheid in dié tyd het nie.

Goedgekeurde kandidate sal ook van persoonlike beskermende toerusting verskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pampoenbril

…maar ons kort n gastehuis in space..dink minister die kanse is daar vir so vooruitsig vir SA.

Willem

Net bee of wat ?

Jack

Die vraag is hoeveel word deur die internasionale jagters bygedra en die som moet van die 2 miljard afgetrek word asook alle ander buitelandse besoekers aan wildtuine ens. Dan lyk die saak maar op sy beste darem n begin.

Karin

Die parke gaan nie finansieel baat by hierdie mate van heropening nie, akkommodasie is waar hulle hul meeste geld vandaan kry, nie by dagbesoekers nie, en veral nie net die besoekers in die betrokke provinsie nie.

Scalla

Wie is die kadet?