Só bêre ANC glo poste vir pêlle

(Argieffoto ter illustrasie.)

Notules wat by vergaderings van die ANC se komitee oor ontplooiings geneem is en tot 2018 terugdateer, is glo klinkklare bewyse dat dié party sekere poste op die rade van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) vir hul kamerade uithou.

Die DA het Vrydag verskeie notules aan die media vrygestel waarin dit blyk dat CV’s van ANC-kaders in ʼn ander databasis as dié van ander aansoekers gestoor word.

Maroela Media het vroeër die week berig dat die staatskapingskommissie dié notules ná maande lange druk deur die DA bekend gemaak het.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die notules wys tussen 3 Desember 2018 en 17 Mei 2021 het die ANC se kaderontplooiingskomitee met die aanstelling van senior staatsamptenare by minstens 96 verskillende staatsdepartemente, agentskappe en die rade van SBO’s ingemeng.

“Tydens vergaderings van die ANC-kaderontplooiingskomitee op 11 Mei, 3 Augustus en 26 November 2018 het die komitee poste vir ‘ANC-kaders’ en ‘stoere ondersteuners’ van die ANC op die direksies van SANParke, die kleinsakeontwikkelingsagentskap (SEDA), Transnet, Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy (SAFCOL), Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA), Sanral en die Nasionale Adviesraad vir Innovasie gereserveer.

“Dit lewer die duidelikste bewys nog dat kaping van die staat om die belange van die ANC eerder as die mense van Suid-Afrika te dien, onverpoosd onder die presidentskap van Cyril Ramaphosa voortgaan.”

Benewens die ANC-kaderontplooiingskomitee van 11 lede, impliseer die inligting verder dat huidige ministers Pravin Gordhan, Blade Nzimande, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Lindiwe Zulu en voormalige minister Edna Molewa uitdruklik SBO-raadsetels vir die ontplooiingskomitee “bespreek”.

Schreiber meen dit is egter waarskynlik dat direksiesetels insgelyks gereserveer word vir partykaders in direksies regoor die nasionale regering. Hy sê die notule van die vergadering op 11 Mei 2018 wys daarop dat “die ontplooiingskomitee ingestem het om teen 19 Mei 2018 name van mense wat ontplooiing versoek, vir oorweging in staatsbeheerde ondernemingsrade aan Pravin Gordhan deur te stuur”.

“Net so is daar tydens die vergadering van 3 Augustus 2018 ‘ooreengekom dat die lede [vermoedelik van die ontplooiingskomitee] hul voorstelle moet indien, en dat die verkorte CV’s by die minister [van vervoer] ingedien word’.”

Schreiber sê dit dui daarop dat die ANC-ontplooiingskomitee oor ’n lys CV’s beskik wat aan die komitee voorgelê is deur partykaders wat spesiale oorweging vir indiensneming in die direksies van SBO’s deur mense soos Gordhan en Nzimande ontvang.

“Trouens, tydens die vergadering van 11 Mei 2018 het Lindiwe Zulu blykbaar voorgestel dat hierdie werkreserveringsdatabasis geformaliseer word om die besonderhede van ‘alle ANC-lede wat in elke posisie in die regering, ondernemings en direksies ontplooi is’ te stoor en dat die name van diegene wat voorheen ontplooi was, nagevors moet word.”

Die DA sê verder dat die ANC se “deurlopende werkreserveringskema” grof teen vaardige aansoekers wat nie stoere ANC-ondersteuners of -kaders is nie, diskrimineer.

“Oor ’n tydperk van slegs ses maande tussen Mei en November 2018 het die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee poste vir partyvriende in die direksies van sommige van ons land se grootste SBO’s, waaronder die SAL, Transnet en Denel, gereserveer – ten spyte van die feit dat hierdie entiteite reeds deur ANC-kaders in finansiële vergetelheid geplunder is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Pierre ·

geen verslag nodig om dit uit te wys nie almal weet dit al jare lank

Di ·

ANC is ‘n spul Kommuniste. Dis egter nie nuus vir ons almal – dis so duidelik soos daglig dat die ANC Kaders beheer uitoefen oor ALLES en ALMAL in hierdie land. Glo dat selfs die Howe en NVG ook deur hulle beheer word. Dit is weereens net ‘n bewys WAAROM die hele land in duie gestort het.

Misky ·

Okay en wat nou? Wat kan en gaan nou gebeur? En wat gebeur met Ramamparra wat dit alles toegelaat het en elke dag steeds lieg vir ons?

Samuel ·

Net mooi niks gaan met Ramaphosa gebeur nie. Hy lieg net so lekker en het gladde bek, net soos JZ. Net meer intelligent.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Elke Suid-Afrikaner wat eerbaar Suid-Afrika en goeie Suid-Afrikaners se belange op sy hart dra, moet onverwyld onafhanklik en gesamentlik aktiewe opbouende aktiviste vir demokrasie wees. Raak betrokke om die menigde ANC-stemvee wat in afhanklikheid aan die ANC en tradisionele leiers verslaaf is, te bevry van die ANC slawejuk vóór die volgende Algemende Verkiesing in 2024.

Surfer ·

Vereiste vir jou ANC CV:
1. Kommunis
2. Skelm kommunis
3. Verryk jouself as kommunis
4. Verarm die res as kommunis

Blikkies ·

ANC is en bly PAP VROT vanaf hulle die land begin regeer het.

Lourens CFG ·

Nee Blikkies, hulle was só van die begin van hul party af.

Vonkprop ·

Nou wat nou, wat gaan nou gebeur? Net so goed ‘n kind skree “kyk mamma, boetie het my lekker gevat!” Gaan boetie gestraf word of gooi mamma ‘n blinde oog en boetie karring net aan?

SlinkseKoljander ·

Hoe kry ons nou die gemors saam met Ramaliegbek uit die beheer van ons land?
Sekerlik kan mens wetlike aksie neem? Wat weer net jare sal voortsleep, ons land en sy mense is in sy moer.

Marius ·

Die metode van aanstelling word sedert 1994 toegepas. Ek ken jou en jy ken my, en siedaar ek het ‘n werk selfs al het ek ‘n skamele Gr 3 agter my naam.

Johannes ·

Net n bietjie papierwerk sodat ou CR darem besig kan lyk om nog steeds besluitloos te wees. Slapgat

Pieter ·

Jakkalse verander van hare, maar nooit van streke…………so lui die spreekwoord.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

As thick as thieves! Maar as ons dit doen is ons rassisties. Tyd dat die ANC en sy werke vernietig word! SA kan nie hierdie spul terroriste 1 sekonde langer duld nie, hulle is al jare verby hulle vervaldatum en hul plundertogte.

Yolandie ·

Dis mos nou geen verassing nie. Almal weet dit behalwe die volgelinge van die ANC. Geen nagevolge vir die nepotisme nie……soveel moontlik moet op die gravy train van onbevoegdheid klim…..want die belasting betaler hoes mos lekker.

Wat Wou ·

Miskien moet die belasting betaler n manier bedink om nie belasting te betaal nie? Kom julle slim seuns wys ons hoe, en help ons om dit te doen!

Jaco ·

Broederbonders het ook maar lekker jobs in die ou SA gekry. Staatsdiens, skoolhoofde van wit Afrikaanse skole,leierskorps van die 3 Afrikaanse susterkerke, topbestuur van Afrikaner besighede soos volkskas en Sanlam amper ALMAL Broederbonders en dus lede van die regerende Nasionale Party.
Ek gee toe dat opleiding en ondervinding wel ‘n baie groter rol gespeel het in dié aanstellings as tans met die ANC se kaderontplooiing, MAAR die beginsel van lekker jobs vir jou politieke pêlle is nie net ‘n kommunistiese ding nie. Dit kom toe sowaar uit die ou SA. Net so terloops, ek weet ook van gevalle waar Broederbonders nie die beste vir hulle lekker jobs bewaam was nie…
En nog iets terloops; vóór die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, was lekker jobs gereeld aan Vrymesselaars uitgedeel.
Vandag se “hulle” het dié truuks dus maar net by “ons” van die verlede gekeer.

tweeling ·

Stem Jaco, en die media se monde was gesnoer sodat dit nie publieke oor bereik het nie. Nou byt die vryheid van die media die cANCer in die halskeen

Sarel ·

Dit is ou nuus almal weet dit…daarom wat alkes
Bankrot is

Mariana ·

En dit kan ons duidelik sien in die verval van alle SBO’s. Nie een van hulle funksioneer meer nie. Wel gedaan ANC, wel gedaan. Nou kan julle maar terugstaan sodat julle gemors kan herstel, indien daar enige hoop vir hulle bestaan. Vat julle kaders en verdwyn, julle het nou genoeg opgemors

Jaco ·

Wat van jobs vir Broederbonders in die ou SA? Was dit ook kommunisties? Ek gee toe dat opleiding en ondervinding in daardie jare ‘n veel groter rol as vandag se kaderontplooiing gespeel het, maar die beginsel van lekker jobs vir politieke pêlle is presies dieselfde.
Net so terloops, ek weet ook van ‘n paar Broederbonders wat nie die beste e der geskikste vir hulle lekker jobs was nie.
Kaderontplooiing gebeur oraloor; nie net in kommunistiese lande nie. Donald Trump het ook ‘n paar jobs vir politieke pêlle en selfs vir sy kinders gegee. Hy is alles behalwe ‘n kommunis. Kaderontplooiing is ook eeue ouer as konmunisme: Koning Dawid in die Bybel (regeer 3000 jaar gelede) het al jobs vir familielede gegee.

Pieter ·

Die ANC het jare gelede al besluit dat die belangrikste brondokument in die CV van enige kandidaat vir poste, hul ANC ledekaart is. As dit saam met die CV ingedien word, word geen addisionele kwalifikasie benodig nie.

Yvonne ·

Die Woord se: dit wat jy in die donker doen sal aan die lig gebring word….

Jan ·

Ons Konstitusie is sogenaamd die beste in die wereld wat betref die skeiding van magte maar in praktyk beteken dit zilch. In al die goeie demokrasiee is die SBO’s die vierde mag en word dit streng van die regering geskei. Mense is beroeps-staatsamptenare soos in die Apartheids-era. Munisipaliteite het onder die Staatsdiens geval en het niks met Politiek te doen gehad nie Nou-ja, wat se gebrousel het ons nou. Die ANC het totale beheer en dit is ‘n totale gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.