Die ANC se NUK het ʼn vier dag lange sitting van 27-30 September gehou waarna Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, gister die media by Luthuli-huis toegespreek het.
Die fokus was op die land se ekonomie aangesien die NUK tydens sy sitting die dokument oor ekonomiese herstel van Tito Mboweni, minister van finansies, bespreek het.
“Suid-Afrika moet dringend sy ekonomiese prestasie omkeer, aangesien die groei- en beleggingskoers te laag is. Daar is ernstige beperkings op die vermoë van die ekonomie om te reageer op massiewe werkloosheid, verskanste en toenemende ongelykhede, voortgesette armoede en die stadige herstel van ons industriële vermoëns.”
Die NUK het ʼn reeks ingrypings rakende ekonomiese beleid bespreek en daarop ooreengekom ten einde ʼn hoër koers van ekonomiese groei en ekonomiese insluiting te bereik. Dit sluit in toenemende mededinging en verlaging van koste en toegangsbelemmerings vir kleinsakeondernemings en die prioritisering van groei in arbeidsintensiewe sektore, soos landbou, toerisme, tekstiel en mynbou.
Volgens Magashule is nog ʼn prioriteit die herstrukturering van Eskom en die hantering van die kragverskaffer se finansiële posisie. “Die swak finansiële posisie van Eskom, die SAL, Denel en staatsbeheerde maatskappye moet gepak word.”
Magashule het aangekondig dat die private sektor toegelaat sal word om in staatsbeheerde maatskappye te belê. “In die nasleep van swak groei is daar ʼn hernieude waardering deur die NUK vir die rol van die private en arbeidsektor as belangrike vennote vir groei.”
Die NUK het ook die belangrikheid benadruk van investering in huidige en langtermyn-infrastruktuurbehoeftes, waaronder beleggings in ekonomiese infrastruktuur (soos paaie, brûe, damme, elektrisiteit en watervoorsiening), maatskaplike infrastruktuur (soos skole, hospitale, parke en administratiewe dienste) en ekonomiese dienste (soos sakeondernemings).
“Oor die algemeen kom die ANC uit hierdie NUK-vergadering met ʼn duidelike vasberadenheid om beslissend en vasberade op te tree. Die ANC sal met sy bondgenote byeenkom en daar sal ook met ander maatskaplike vennote beraadslaag word om ʼn oorkoepelende sosiale komponent op te stel vir die inwerkingstelling van ʼn ekonomiese herstel- en transformasieplan.”
Mboweni se veelbesproke plan vir ekonomiese groei en transformasie het reeds kritiek uit die geledere van Cosatu, die EFF en die populistiese groepering van die ANC ontlok. Mboweni se idees steun sterk op die markekonomie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
42 Kommentare
Wie wil nou in staatsbeheerde instansies bele, sodat daar meer geld is vir hulle om in hul gatsakke te druk, Nee dankie so mors ek nie my pennies nie.
Aitsa ! Nou moet die privaat sektor in ESKOM, SAL ens ens belê – en dan wysig die ANC Artikel 25 van die Grondwet sodat hulle ook die eiendom sonder vergoeding kan vat.
Kan hulle rêrig dink ons beleggers is so dom?
Baie goeie idees op papier maar om dit te implementer is ‘n ander storie….. watter privaat maatskappy (met Matriek) gaan in elkgeval wil belê in ‘n staatsinstansie waarvan die geld in die sakke van die ANC se lede verdwyn? Begin by die WORTEL van die kwaad eerste ….. die regering wil die simptome van die siekte behandel – die oorsaak van ons problem is ‘n kyk in die spieël vêr. Ongelukkig vir ons is niemand so blind soos die een wat nie WIL sien nie!
Watter privaatmaatskappy gaan in n bankrot staatsinstelling bele
Droom voort dappere held