Só gaan Akademia Afrikaanse universiteitswese verseker

Piet le Roux. Foto: Reint Dykema

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia Foto: Reint Dykema

Akademia het Sondag vyf wyses bekend gemaak waarop hy die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese wil verseker.

“Die versnelde afskaffing van Afrikaans by tradisioneel Afrikaanse universiteite noodsaak wat NP van Wyk Louw ‘ʼn gemeenskap se waagstuk’ sou genoem het: dat Afrikaanse mense nou sélf die Afrikaanse universiteitswese voortsit,” het Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, gesê.

Akademia is ‘n privaat verskaffer van hoër onderwyskwalifikasies in Afrikaans. Dit vorm deel van die Solidariteit Beweging.

Volgens Le Roux behels Akademia se vyfpuntplan die volgende:

1. Werkswinkels vir ʼn nuwe residensiële universiteit
Akademia hou binne die afsienbare toekoms werkswinkels in Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein om gemeenskapsinsette te bekom en planne te beraam vir ʼn residensiële uitbreiding van Akademia.

2. Uitbreiding van bestaande hoëtegnologie onderrigmodel
Akademia se huidige hoëtegnologie-onderrigmodel word uitgebrei met verskeie nuwe studiesentrums landswyd, en oor die volgende drie jaar word BA’s, BSc’s en mediese en regsprogramme naas die bestaande BCom-programme toegevoeg, met studentegetalle wat tot meer as 2 500 teen 2020 toeneem.

3. Navorsingsgenootprogram
Akademia beplan die aktivering van ʼn navorsingsgenootprogram, vir navorsers wat met Afrikaans en Akademia geassosieer wil wees.

4. Internasionalisering
Akademia sluit ooreenkomste met akademiese instellings internasionaal met oog op samewerking en uitruilprogramme.

5. Gemeenskapsvennootskappe
Akademia sluit samewerkingsooreenkomste met Afrikaanse gemeenskapsorganisasies vir onderskrywing van kwalifikasies, studentewerwing en ander projekte.

Akademia se bestaande hoëtegnologieonderrigmodel

Le Roux verduidelik Akademia staan vanjaar in sy vyfde akademiese jaar, met ʼn suksesvolle hoëtegnologieonderrigmodel. “Inskrywings vir vier BCom-programme en drie hoërsertifikaat- en gevorderde diplomaprogramme, alles volledig geakkrediteer, word tans aanvaar. Studentegetalle het vanaf 273 verlede jaar tot 420 vanjaar toegeneem en sowat 800 studente word volgende jaar verwag,” het hy gesê.

Studente loop vanjaar klas by enige van sewe studiesentrums landswyd, insluitende vyf in Gauteng (Centurion, Moot, Vanderbijlpark, Boksburg, Klerksdorp) en twee in die Wes-Kaap (Somerset-Wes en Bellville).

Verskeie nuwe sentrums word volgende jaar toegevoeg, insluitende in Bloemfontein, Paarl/Wellington en George.

“Dosente, programontwikkeling, gehaltebeheer, administrasie en dies meer is by Akademia se sentrum in Centurion gesentraliseer. Omdat klasse na-ure aangebied word, kan studente werk, inkomste verdien, ervaring opbou en studeer tegelyk,” het Le Roux verduidelik.

Akademia beplan om teen 2020 ʼn omvattende programaanbod, insluitende BCom’s, BA’s, BSc’s en regs- en uitgesoekte mediese kwalifikasies met sowat 2 700 studente in sy hoëtegnologieonderrigmodel te huisves. Akademia se hoëtegnologiemodel verbind studente en dosente in interaktiewe videolesings dwarsdeur die land regstreeks en via optieseveseltegnologie.

Waarom ʼn Afrikaanse universiteit?

“Akademia dink anders as universiteite wat Afrikaans geringskat oor wat ʼn universiteit moet wees: ons dink daaraan as ʼn gemeenskapsinstelling,” het Le Roux gesê. “Vir Akademia is ʼn universiteit ʼn brug tussen die gemeenskap en die groter wêreld, tot verryking van albei. Ons rig ons daarop dat ons studente en personeel die beste akademie, wetenskap en kultuur uit Afrikaans na die wêreld neem en terselfdertyd die beste uit die wêreld na Afrikaans bring.”

Le Roux verduidelik Akademia wil teen twee wanbalanse waak. “Die eerste wanbalans is om aan die een kant vasgevang te raak in eie kring. Ons wil soepel bly in ons gemeenskapsopvatting en uitreik na die wêreld in sy groot diversiteit. Juis hierom beskou ons onsself nie sommer as ʼn nasionale bate nie – ʼn behoorlike universiteit is eerder ʼn internasionale bate.”

Hy voeg by aan die ander kant is daar ʼn wanbalans om eensydig globalisties te word. “Baie universiteite vandag beskou hul gemeenskappe en gemeenskapsverantwoordelikheid as ʼn blok om die been, wat hulle in die weg staan om akademies te presteer en internasionale aansien in te palm. Hiermee skei hulle die kulturele dimensie van die akademiese dimensie – en loop die risiko om geleerde, maar gemeenskapsonverbonde en daarom ongekultiveerde studente te kweek.”

Le Roux voeg by Akademia glo dat ʼn balans bereik kan én moet word. “ʼn Behoorlike universiteit moet gemeenskap en wêreld aan mekaar verbind – en vir ons beteken dit in Afrikaans. Is dit moontlik om vandag ʼn nuwe Afrikaanse universiteit uit die niet te begin? Nee. Maar is dit moontlik om dit te doen op die fondament en voorbeeld van ʼn breë Afrikaanse gemeenskap met ʼn anderhalfeeu se onderwyservaring? Ja!”

Besoek Akademia se webwerf en besoek Akademia se Facebook-blad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

56 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik Havenga

Doen so voort Akademia sal bly bydra in die toekoms

John

Ek mis die woord, akkreditasie. Buitelandse filiale sal die selfvertroue van die bestuur en studente sterk. Ons huidige universiteite tel nie eintlik onder die bestes in die wereld nie, inteendeel, hulle posisies kan selfs laer neig met die oog op die chaotiese gebeure onlangs. Baie van ons afgestudeerde studente moet as hul in die buiteland aanland toelatingseksamens afle om die standaard van hul onderrig te toets. Wat is mnr(?) Piet le Roux se akademiese kwalifikasies?

jaco

1. Wat help dit jou wit Afrikaanse kind het n wonderlike graad van Akademia en dan kry hy nie werk daarmee nie NET omdat sy velkleur wit is?
2. As Akademia zo wonderlik gaan uitbrei, is sy personeel later So groot dat affirmative action daar toegepas moet word. Om daarby verby te kom deur token jobs vir Kleurlinge te gee, gaan nie werk nie. Vir Kleurlinge word alreeds gese “Julle is nie swart genoeg nie en Julle het minder as swartes onder apartheid gely”
3. Met hierdie odds teen Akademia, zal hy oor 5 jaar op die langste toemaak

jaco

Waar gaan n wit Afrikaanse student met n duur en wonderlike Akademia graad eendag werk kry as hy moet hoor “jy kan nie die werk met nie want jou velkleur is nie reg nie”
Moenie se “gaan Australië toe” nie. Australië kan nie maar net wit immigrante inneem en inneem nie EN om in ‘n ander westerse land in te kom, is n BAIE duur proses.

John

Toemaar Kobus, jy’s ok. Miskien moet Akademia juis met onnosel buitestaanders soos ek in gedagte, adverteer/spog. In bogenoemde PR-skrywe kort hierdie inligting. Ryk ouens (nie ek nie — te dom) en voornemende studente, wil beindruk word. So moenie skaam wees met inligting nie.