Só gaan begroting jou sak raak

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, kort voor hy Woensdag sy eerste begrotingsrede gelewer het. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Woensdagmiddag sy eerste begrotingsrede ter tafel gelê, en hoewel die regering se R180 miljard-belastingmeevaller beteken die regering sal minder hoef te leen en die begrotingstekort help verklein, gaan Suid-Afrikaners steeds op velerlei ander maniere méér opdok.

Sondebelasting

Die minister het aangekondig aksynsbelasting op drank en tabak sal met tussen 4,5% en 6,5% styg. Die styging tree dadelik in werking.

Die regering het ook voorgestel dat ʼn nuwe belasting op damprook-produkte van minstens R2,90/ml vanaf 1 Januarie volgende jaar in werking gestel word, terwyl ʼn nuwe belasting ook op bierpoeier gehef gaan word.

Brandstof

Godongwana het geen verhoging in die algemene brandstof- en padongeluksfondsheffing aangekondig nie. In hierdie stadium staan die algemene brandstofheffing op R3,85/liter vir petrol en R3,70 vir diesel. Die padongeluksfondsheffing is R2,18 vir petrol en diesel.

Die koolstofbelasting op brandstof word wel vanaf 1 April met 1c/liter verhoog, wat die belasting tot 9c/liter vir petrol en 10c/liter vir diesel opskuif.

Persoonlike inkomstebelasting

Persoonlike inkomstebelastingkerwe en -kortings sal in ooreenstemming met verwagte inflasie met 4,5% aangepas word. Dit beteken dat die jaarlikse belastingvrye drempel vir iemand jonger as 65, van R87 300 tot R91 250 toeneem.

Mediesefondskrediete

Daar was ook goeie nuus oor mediesefondskrediete, naamlik ʼn belastingaftrekking wat gedoen kan word as jy aan ʼn mediese fonds behoort.

Dit word vanjaar weer met die verwagte inflasiekoers (4,5%) verhoog, wat beteken die bedrag styg van R332 tot R347 per maand vir die eerste twee lede van die mediese fonds, en van R224 tot R234 per maand vir enige bykomende lede.

Maatskaplike toelae: R100 meer vir sommiges

Die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang vanjaar die grootste toewysing van die tesourie en dit sal onder meer gebruik word vir ʼn nuwe, uitgebreide toelaag vir kinders wat albei ouers aan die dood afgestaan het, om die versorging van weeskinders binne families, eerder as in pleegsorg, aan te moedig, het Godongwana aangekondig.

Vir die 2022-’23-boekjaar, word toelae vir pensioenarisse, oorlogsveterane, ongeskiktheid en sorgafhanklikheid in April vanjaar met R90 verhoog en ʼn verdere R10 in Oktober.

Toelae vir pleegsorg en kinderonderhoud word in April met R20 verhoog.

R44 miljard word ook beskikbaar gestel sodat die spesiale Covid-19-toelaag van R350 met nog ʼn jaar verleng kan word.

Altesame 18,6 miljoen mense sal volgens die nasionale tesourie tussen April vanjaar en Maart volgende jaar een of ander vorm van toelaag van die staat ontvang – bykans die helfte van die land se bevolking.

Aftreefondse

Godongwana sê aftreefondse speel ʼn belangrike rol om spaargeld in produktiewe beleggings om te skakel. Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse stippel die kriteria uit waarvolgens dié fondse beleggings mag doen.

“Daar was voorstelle vir verandering aan die regulasies om groter belegging in infrastruktuur deur die fondse moontlik te maak. Ná beraadslaging oor die veranderings, sal die wysigings volgende maand afgekondig word.”

Die regering het ook ʼn fundamentele herstrukturering van die aftreestelsel voorgestel om voorsiening te maak vir meer preservering en gedeeltelike toegang tot geld. Die minister sê ʼn  gedeelte van die voorstel sluit die moontlikheid in van korttermyntoegang, afhangend van die goedkeuring van die fonds se trustees.

ʼn Besprekingsdokument hieroor is verlede jaar bekend gestel en konsultasie duur voort, terwyl konsepwetgewing oor die wysigings teen die middel van die jaar vir kommentaar beskikbaar gestel sal word.

  • Grafika: Nasionale tesourie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann

So die hoed ding? Het hy en MADHATTR n Two For One deal iewers? En die ANC se “people voting for us” fonds is dan vir die helfte van die bevolking! Grant op Grant op Grant…

Witbaard

E noch moet ons meer opdok.

JohanR

Gaan al die oues van dae ook ‘n R450 miljoen rand verhooging kry, sodat hulle darem elke dag ‘n stukkie kos het om te eet, en nie hoef in asblikke rond te krap nie?

Voilet

Jul maak ons dood

Pietertjie

Ek het nie meer ‘n sak nie.