Só gaan die Solidariteit Beweging Covid-19 help beveg

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

“Ons wêreld het oornag verander.”

Só het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Woensdag oor die impak van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 gesê. Hy het gepraat tydens die bekendstelling van die beweging se aksieplan in Pretoria. Dít volg nadat pres. Cyril Ramaphosa die naweek ʼn nasionale ramptoestand afgekondig het om ʼn geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuurstelsel te implementeer om die uitbreking van die virus te bestuur.

Solidariteit het vanoggend verskeie omvattende planne bekend gemaak om Covid-19 te bekamp. Dié planne behels dat Solidariteit nou spreekwoordelik hande vat met die regering. “Politieke en ideologiese verskille moet nou vir eers agtergelaat word. Suid-Afrika het nou een gemeenskaplike vyand en dit is Covid-19,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ʼn instelling wat deel is van Solidariteit, gesê.

Volgens Kriel is die regering se rampbestuursentrum reeds gekontak met ʼn aanbod om te help en saam te werk in dié tyd. Van die beweging se ander planne behels veiligheidstrategieë, maatskaplike ondersteuning aan gemeenskappe, ondersteuning aan skole, ouers en leerlinge, hulp en inligting aan mense by die werksplek, asook die ondersteuning van kunstenaars.

Die beweging het reeds ʼn korona-krisissentrum opgestel. Dié krisissentrum gaan veral mense by die werksplek ondersteun. Werknemers sal dus hier alle werkverwante vrae asook vrae oor die virus aan die sentrum kan rig. ʼn Spesiale krisislyn gaan hiervoor ingestel word.

Hannes Noëth en Dirk Hermann. (Foto: Twitter/Solidariteit)

AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het ʼn spesiale beheerkamer bekend gestel wat onder meer veiligheidsverwante uitdagings sal koördineer en sal help met opsporingspogings.

Solidariteit het ook ʼn nasionale krisiskomitee gevestig wat daagliks vergader en aksieplanne volgens die jongste inligting sal aanpas. “Kom ons omskep ons almal in Covid-19-instansies wat saamwerk om die virus te bekamp,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. Volgens Hermann is die burgerlike samelewing deurslaggewend in die bekamping van die virus.

Buys meen Covid-19 kan ʼn nuwe wêreld inlui. “Hierdie virus kan ʼn nuwe verwysingspunt in die wêreldgeskiedenis word. Dit kan ongelooflike ekonomiese en staatkundige gevolge hê. Solidariteit gaan in krisisbestuursrat,” het Buys gesê.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het veral sy kommer oor die maatskaplike gevolge van die nasionale ramptoestand uitgespreek. Dit sluit in sowat 8 000 kleuters wat Solidariteit Helpende Hand op ʼn daaglikse basis van kos voorsien. Dié kleuters het skielik nie meer toegang tot maaltye nie weens die maatreëls wat nou geld wens die uitbreking van die virus. Noëth doen ʼn beroep op die publiek om dié dreigende maatskaplike krisis te help hanteer.

Flip Buys (Foto: Twitter/Solidariteit)

Solidariteit Helpende Hand gaan nou 15 maatskaplike werkers landswyd gebruik om gemeenskappe in staat te stel om maatskaplike uitdagings te bowe te kom.

Die Skoleondersteuningsentrum het op sy beurt bekend gemaak dat die Wolkskool, ʼn aanlyn onderrigplatform, duisende video’s, vraestelle en werkkaarte tot einde Junie gratis op hul webwerf beskikbaar sal stel. Dit is om leerlinge te ondersteun om self tuis te kan werk terwyl die skool vir ʼn lang ruk gesluit is. Akademia, Solidariteit se instelling van hoër onderwys, het ook aangekondig dat hy steeds voortgaan met klasse op sy aanlyn platform. Solidariteit beplan om deur sy S-leer-platform ’n reeks e-leerkursusse aan te bied om kinders en volwassenes oor Covid-19 in te lig. Daar gaan ook weekliks webinare aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sarel

Dit is nou optrede tot voordeel van die gemeenskap p
Dankie Solidariteit