Só gaan dit met flaminkkuikens

Die flaminkkuikens by die Nasionale Dieretuin. (Foto: Craig Allenby)

ʼn Span kenners het verlede week by die Nasionale Dieretuin in Pretoria byeengekom om die pad vorentoe te bespreek vir die duisende kuikens wat verlede maand by die droogtegeteisterde Kamfersdam in Kimberley, Noord-Kaap, wees gelaat is en tans oor die hele land met die hand grootgemaak word.

Lede van die soölogiese werkgroep, regering, niewinsgewende organisasies asook die private sektor het koppe bymekaargesit om die toekoms van dié sowat 1 829 kleinflaminke (Phoenicoparrus minor) te bepaal.

Die kuikens is noodgedwonge uit Kimberley gevlieg en in die sorg van verskeie fasiliteite oor die hele Gauteng en KwaZulu-Natal geplaas. Dit sluit in die Nasionale Dieretuin, Montecasino-voëltuine, Lory Park-dieretuin, Vulpro, Onderstepoort se Veeartsenykundige Hospitaal asook die hulp van privaat speurder en flaminkeienaar Mike Bolhuis. Die kuikens word by elk van die fasiliteite deur opgeleide veeartse versorg.

Volgens dr. Robert Campbell, veearts by die dieretuin, is 75-80% van al die kuikens tans buite gevaar. Sowat 40% kan hulself reeds voer. Campbell vertel dat daar steeds egter ongeveer 88 kuikens in ʼn kritieke toestand by Onderstepoort behandel word.

Daar word nou ʼn plan beraam om die kuikens mettertyd op die geskikte tyd by die geskikte plek terug in die natuur te plaas. Volgens Craig Allenby, waarnemende besturende direkteur van die dieretuin, was dit die plan van die begin af.

Die flaminkkuikens by die Nasionale Dieretuin. (Foto: Craig Allenby)

“Die reddingsprojek se einddoel is om te kyk hoeveel kuikens ons later weer in die natuur kan terugplaas.”

Sowat 200 kuikens is na die Pretoriase dieretuin verplaas waar dié groep elke dag groter en sterker word. “Aanvanklik was daar maar ʼn paar, soos ʼn mens kan verwag, wat gedehidreer en swak was. Ons het hulle verloor, maar ons verloor gelukkig nie meer kuikens nie.”

Allenby vertel dat die kuikens bedags buite in die son geplaas word en stuk-stuk begin leer om hulself te voer. Onderstepoort se kuikens toon tans die meeste groei teen ʼn groeikoers van 4-5 g per dag.

Mikroskyfies is sedertdien by al die kuikens ingeplant. Volgens die werksgroep is dié idee ʼn korttermynplan om rekord van al die kuikens te hou. Die DNS van elkeen gaan ook ingesamel word om rekord te hou van die spesifieke kudde waarvandaan elkeen kom. Dit sal verhoed dat kuikens op die swartmark verkoop word. Hulle kan dan ook ingespan word mits daar in die toekoms ʼn behoefte onder elkeen se spesifieke kudde ontstaan.

Volgens Allenby sal dit egter nog ʼn geruime tyd duur voordat die kuikens in hul natuurlike habitat geplaas word. “Daar moet besluit word watter plek die beste vir hulle gaan wees – of dit weer Kamfersdam gaan wees of ʼn ander dam. Daardie gesprek gaan nog ʼn rukkie duur.”

Allenby verduidelik dat daar baie faktore is om oor te besin. Een so ʼn faktor is die moontlikheid van siektes wat die kuikens gedurende die behandeling kan opdoen. Die werkgroep wil tot elke prys verhoed dat dié siektes saam met hulle terug in die natuur versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Amanda ·

Baie dankie aan al hierdie wonderlike diere-liefhebbers vir die enorme en onbaatsugtige taak! Ek woon in Velddrif area en hier is lieflike soutpanne by Carinus brug sowel as Rocherpanne waar hierdie pragvoels baie welkom sal wees. Hier is reeds flaminke wat feitlik regdeur die jaar hier gevind kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.