Só gaan dit met pa, dogter ná malaria-diagnose

Elmien Fourie is steeds in die hoësorgeenheid (Foto: Facebook)

Elmien Fourie, die 20-jarige student wat om haar lewe in die hospitaal geveg het nadat sy tydens ʼn familiebesoek in Mpumalanga serebrale malaria opgedoen het, se toestand is steeds ernstig, maar meer bestendig.

Maroela Media het vroeër berig Manie en Natasja Fourie en hul dogter, Elmien, was oor die feestyd in Kriel in Mpumalanga om by hul seun, Jaco, te kuier toe Elmien op Oujaarsdag in die Evander-staatshospitaal opgeneem is. Haar gesondheidstoestand het teen ʼn vinnige pas agteruitbeweeg en mediese personeel het haar toestand as uiters kritiek beskryf.

Elmien se pa, Manie, is op Nuwejaarsdag ook met malaria gediagnoseer en in dieselfde hospitaal opgeneem. Die pa en dogter is aanvanklik per ambulans na die Trichard MediClinic- private hospitaal in Secunda oorgeplaas, maar is sedert Dinsdagaand in die Charlotte Maxeke-hospitaal.

Nadia Baker, ʼn familievriend, sê Elmien het verskeie rondes dialise ondergaan om haar “niere te verlig” van die druk wat die organe ervaar as gevolg van die malaria. Baker sê sy was teen Donderdagaand steeds aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel in die hoësorgeenheid en dat die malaria in haar bloedstroom steeds bo 30% is.

“Hoewel die dokters glo dat haar gesondheid só verbeter het dat sy self kan asemhaal, hou hulle haar in hierdie stadium steeds op die asemhalingsmasjien omdat haar organe steeds onder erge druk is. Sodra die dokters tevrede is met haar hart en niere, sal sy van die asemhalingsmasjien afgehaal word,” vertel sy.

Sy sê hoewel haar toestand steeds as kritiek beskryf word, maak sy elke dag vordering. “Sy is nie meer konstant onder sedasie nie en reageer deur haar kop te draai, haar oë oop te hou en haar kop te knik. Die dokters het aanvanklik gesê haar niere en lewer het skade gekry, maar dat die skade sal kan herstel omdat sy nog jonk is. Sy is steeds kritiek, maar nóú is daar meer hoop. Sy is sterk, sy moet eenvoudig hierdeur kom.

“Die familie het vir haar gesê dat baie mense vir haar omgee, bid en sterkte toewens en sy het ‘ja’ geknik. Hulle het vir haar gevra of hulle vir almal liefde en groete kan stuur van haar af, en sy het ‘ja’ geknik. Elmien stuur dus vir almal baie liefde en groete,” sê sy.

Volgens Baker het die dokters besluit om ʼn breinskandering uit te stel tot wanneer Elmien se gesondheid aansienlik verbeter het.

Jaco en Elmien (Foto: Facebook)

Volgens haar is Manie reeds uit die hospitaal ontslaan, maar moet hy steeds medikasie gebruik. “Hy is volgens die dokters heeltemal buite gevaar. Hy herstel vinnig en wil net graag hê sy dogter moet gesond word sodat sy kan huis toe gaan.”

Jaco Fourie, Elmien se broer, het vandeesweek ná sy suster se diagnose ʼn roerende inskrywing op sy Facebook-blad gemaak. “Sussie ek kort jou, asseblief. Jy kan dit nie aan my doen nie. Ek is lief vir jou,” het hy geskryf.

Baker sê die Fourie-gesin wil die honderde weldoeners bedank wat hulle finansieel ondersteun het én vir hulle gebid het. “Die gesin wil elke liewe weldoener bedank vir hul bydra om hul dogter se lewe te red. Manie het gevra ek moet mense asseblief in kennis stel dat hulle op die oomblik genoeg fondse beskikbaar het vir Miena [Elmien] se behandeling. Mense wat nog wil skenk moet asseblief vir eers net vasbyt – indien daar enige komplikasies opduik sal hulle laat weet as enige verdere fondse benodig word. Ons bid dat dit nie nodig sal wees nie.”

ʼn Facebook-ondersteuningsgroep is intussen begin om familie, vriende en kennisse op die hoogte te hou. Vir meer inligting, besoek die Elmien Fourie Hulpfonds Facebook-blad.

Lees alle vorige berigte oor Elmien Fourie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hans ·

Sjoe dit is goeie nuus. Ek is bly vir die familie se part. Sterkte vir die pad voorentoe.

Vra net ·

MM lees net die paragraaf onder die foto van Elmien en Jaco. Is Manie nou ontslaan of nog nie?

Will ·

Ons is saam met julle dankbaar vir Elmien en haar pa se vordering en weet ons dien ‘n Groot Geneesheer wat ons lewens in Sy hande hou. Baie sterkte!

Carmen ·

‘rondtes dialise’… nie ‘rondes’ soos hierbo geskryf…?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Carmen
Dankie vir jou kommentaar! ‘Rondes’ is volgens die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) die regte woordkeuse in dié konteks.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Anton ·

So dankbaar aan ons liewe Jesus vir die beterskap tot dusver. Ons hou aan bid vir Elmien se volkome genesing! Sterkte en liefde aan die familie.

LB S ·

Hoe hartseer word ek nou. Die broer wat so mooi boodskap skryf, ai. En hoe wonderbaarlik dat die mense soveel bydraes kon maak en die familie laat weet het dat dit genoeg was.
Wonderwerke gebeur nog!
Ek dink net dat haar foto’s nie elke keer so geplaas moet word nie. Ek sou nie daarvan gehou het as dit ek is nie. Gee ons eerder ‘n foto wanneer sy weer kan glimlag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.