Só gaan dit met TV-kokkedoor wat vir Driehoek stap

Leroux van Vuuren lê die 1600 km met plakkies af. (Foto: Facebook)

“Dit is ʼn wonderlike ervaring. As ek dit as ʼn beroep kon doen, sou ek dit elke dag doen. Ek was nog nog nooit so positief nie.”

Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam trek by Williston in die Noord-Kaap nadat hy op 6 April die pad na sy kinders in die Wes-Kaap te voet vanaf Gauteng aangedurf het –  en dit met visplakkies.

Maroela Media het vroeër berig Van Vuuren beplan om 1 600 km af te lê –  vanaf Vanderbijlpark na Tygerberg –  om geld vir die slagoffers van die Hoërskool Driehoek-tragedie in te samel.

Van Vuuren het reeds oor die 1000 km in die afgelope drie weke afgelê en hoop om teen Sondagaand in Calvinia te oornag, het hy aan Maroela Media gesê.

Hy het Saterdagaand op die plaas Brandwag buite Williston oornag met sowat 500 km wat nog voorlê voordat hy by sy eindbestemming aankom.

Van Vuuren loop elke dag vanaf 07:00 sowat 40 km na die volgende dorp op sy roete waar hy volgende sal oornag. “Daar was twee dae wat ek 68 km geloop het, maar dit was uitmergelend. Ek was flenters,” erken hy.

Die roete is vooraf haarfyn beplan en akkommodasie is vooraf gereël, tog het hy al ʼn bloutjie geloop aangesien sein op die pad maar sleg is en hy sukkel om verdere reëlings te tref soos hy aangaan.

“Ek het nie gister verblyf gehad nie, maar almal ken almal hier en die dorpsmense het vinnig gehelp en toe eindig ek by [Brandwag] op. Die plaasmense het nie vooraf geweet van my nie, maar toe ek gisteraand daar aankom, is ek soos ʼn koning behandel!

“Ek word oral op die pad só behandel. Mens word binne ʼn uur soos familie en teen die volgende oggend wil hulle my nie laat gaan nie,” vertel Van Vuuren.

Leroux van Vuuren

“Ek wil vir mense wat dink Suid-Afrika is net sleg sê dat ek alles nog net positief ervaar het. Ek was nog nie een sekond op die pad bang nie. Almal wat ek langs die pad kry, hetsy swart, bruin of wit, stop by my om te gesels. Almal bied aan om te help. Party bied water aan en loop dan kilometers om vir my water te gaan haal en dan kom hulle daarmee terug.”

Van Vuuren het wel sowat tien dae gelede drie dae agter skedule geraak toe hy gemaan is om sy voete te rus. “Dit het al by Bothaville gebeur. Dit gaan goed met die plakkies aangesien ek daarmee geoefen het voordat ek begin stap het. Ek wou net vir ʼn oomblik my voete rus en toe ek tekkies aantrek, het dit my velle afgetrek.”

Hy het ook geweldig met ʼn blaas onder sy voet gesukkel waarna hy gemaan is om ʼn paar dae op Williston te rus voordat hy verder stap.

“Ek het ʼn dokter gesien en nou so twee dae gerus, maar hulle moes my eintlik aan die bed vasgemaak het want hoe moet ek op só ʼn dorpie rus? Daar is so baie om te sien,” skerts hy.

Hy vertel dat hy ook goed na sy heup kyk wat seergekry het gedurende die ernstige motorongeluk  waarin hy verlede jaar betrokke was. Van Vuuren het sy heup en pelvis tydens die ongeluk gebreek.

“Ek het myself van die begin af belowe dat ek sal stop as my heup my pla, maar dit is die laaste ding wat my pla.”

Van Vuuren vertel dat hy hartseer word wanneer hy dink dat dié reis tot ʼn einde moet kom aangesien hy reeds oor die halfpadmerk op pad na sy bestemming is.

“Ek het vir Ruan [Theron], die staatmaker wat alles agter die skerms vir my reël, gesê ek wil nie weet wat in die fondsinsameling aangaan nie. Op die stadium is dit ʼn persoonlike reis. Elke persoon het bagasie en soos ek loop, wil ek dit afskud. As ek daar aankom, wil ek ʼn splinternuwe mens wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries du Toit

Sterkte ou maat. Ons bid vir jou veiligheid. Dankie namens driehoek. Jy is n brawe man

My c

Jy is n yster!! Dankie vir jou pakkie kilometers. Ek sou so graag ook my “baggage” wou afstap. Ek dink dis n baie persoonlike ervaring en mens kry oopkop en geweldige baie inspirasie en lewenslesse. Ek is seker mens waardeer God se skepping en handewerk dan soveel meer. Sterkte. ❣️

Marietjie P

Wat ‘n wonderlike gebaar. Sal glo dat net jy alleen in God se wonderlike skepping ‘n wonderlike ervaring . Ek sal ook wat wil gee vir so geleentheid om onselfsugtig iets vir ander te doen en so ook terselfdertyd geestelik te groei en soos jy se van onnodige baggasie ontsla te raak. Sterkte met die laaste stuk pad, jy is amper daar!

Bloudrom

Moet maar nie te positief oor die land en jou veiligheid wees nie. Jy ken die ware toedrag van sake. n Positiewe houding verander nie die realiteit nie.

Essa

Jou deursettingsvermoë is ongelooflik – jy is beslis ‘n baie spesiale mens. Ek hoop jou reis word ryklik beloon; vir jou op ‘n persoonlike vlak en ook ten opsigte van die fondsinsameling.
Sterkte vir jou en almal betrokke – voorspoed, veilig reis!