Só gaan e-tolpaneel te werk

Argieffoto

Argieffoto

Die paneel wat aangestel is om die impak van e-tol in Gauteng te ondersoek, sal later die maand voorleggings van verskeie belangegroepe aanhoor.

Thabo Masebe, woordvoerder van die provinsiale regering, sê die verhore sal op 25 Augustus begin.

Arbeidsorganisasies se voorleggings sal op 26 en 27 Augustus aangehoor word, sake-groepe op 28 en 29 Augustus, burgerlike instellings van 1 tot 3 September, inligting- en kennisinstellings op 4 September, en vervoerorganisasies se voorleggings sal op 8 en 9 September aangehoor word.

Masebe sê enige organisasie wat ‘n voorlegging aan die paneel wil doen, moet ‘n skriftelike versoek aan die paneel se sekretaris rig.

Die paneel sal ook in September openbare vergaderings in Pretoria, Johannesburg, Ekurhuleni, Sedibeng en aan die Wes-Rand hou.

Masebe sê ‘n kennisgewing met besonderhede rakende die openbare vergaderings en ‘n beroep vir geskrewe voorleggings sal op 31 Augustus gepubliseer word.

“Teen vroeg Oktober 2014 sal die paneel vergader met politieke partye wat in die Gautengse wetgewer verteenwoordig word.”

Premier David Makhura het die paneel verlede maand op die been gebring om die sosio-ekonomiese impak van e-tol in Gauteng te ondersoek.

Die paneel sal maandelikse verslae indien en moet teen 30 November ’n finale verslag en voorstelle aan Makhura verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.