Só gaan polisie optree teen Covid-wetsoortreders

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die minister van polisie, genl. Bheki Cele, en die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het uiteengesit hoe die staat gaan poog om orde te bewaar te midde van die groeiende krisis rondom die nuwe koronavirus (Covid-19).

Cele het gesê alle polisielede sal met gesigsmaskers, handskoene en saniteerders toegerus word en alle aanklagkantore sal met ʼn saniteerder behandel word deur die departement van openbare werke.

Hy het gevra dat die publiek net polisiestasies sal besoek as dit werklik noodsaaklik is. Die opname van 7 000 rekrute wat opgelei sou word om by die polisie aan te sluit, is onbepaald uitgestel.

Cele het die vakbond Nehawu gewaarsku dat sy beplande massa-optrede op 30 Maart slegs kan voortgaan as minder as 100 mense daaraan deelneem.

By navraag het hy gesê die polisie kan tans enige geregverdigde maatreël instel om orde in skares te handhaaf, maar hulle mag nie patrone gebruik nie.

Die ure waarbinne alkohol in die openbaar verbruik mag word, is bevestig as tussen 09:00 en 18:00 van Maandag tot Saterdag, en tussen 09:00 en 13:00 op Sondag. Polisie en reserviste sal as informante gebruik word indien die wet oortree word.

Waar alkohol na 18:00 of op Sondae na 13:00 in die openbaar (insluitend kroeë, restaurante, tavernes, smokkelkroeë en sjebiens) verbruik word, sal die betrokkenes uiteengejaag, die organiseerder en/of eienaar gearresteer en die goedere op die perseel gekonfiskeer word.

Dieselfde geld vir alle plekke waar drank verkoop en meer as 50 mense byeen is.

Restaurante moet voortaan boek hou van wie daar eet, sodat diegene wat aan die virus blootgestel is, daarvan in kennis gestel kan word. Alle straatpartytjies word verbied.

Alle saamtrekke van meer as 100 mense word verbied en Cele het dit duidelik gemaak dat die regering nie sal huiwer om geestelike leiers wat die regulasies met kerkdienste oortree, te arresteer nie.

Die polisie se eenhede teen gesinsgeweld is versterk en staan gereed om op te tree teen die verwagte toename in voorvalle van gesinsgeweld in hierdie dae.

Ronald Lamola. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Lamola het bevestig dat alle besoektye in tronke vir die volgende dertig dae afgeskaf is. Daar is tans niemand in Suid-Afrikaanse tronke wat positief getoets het vir Covid-19 nie.

Vier amptenare van die departement van korrektiewe dienste wat oorsee gereis het, is wel in afsondering geplaas.

Die kantoor van die meester van die hooggeregshof mag net honderd mense per geleentheid inlaat.

Lamola het gesê net noodsaaklike teenwoordiges soos die partye in die geding, die regspanne, familie, die media en burgerlike organisasies sal in howe toegelaat word. Daar mag nie meer as 50 mense in ʼn hofsaal wees nie.

Die twee ministers meen ʼn noodtoestand is nie nou nodig nie; die uitgevaardigde regulasies gee hulle genoeg magte om mense na behore af te kamp indien nodig. Tans hoef die weermag nog nie betrek te word vir die handhawing van openbare orde nie, met die uitsondering van die Kaapse Vlakte, waar dit maande lank al die geval is.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Estelle ·

Ag dankie tog!! Uiteindelik sal Suid Afrikaners meer higienies word. As die mense tog net geglo het die Corona versprei deur rommelstrooi, hoenderbene en urine dan sou ons weer skoon land gehad het!

Ivana ·

Ek drink nie eers nie, maar wat probeer hulle daardeur bereik. Het die virus sekere ure wat dit jou oorval, want wragtig die maatreels wat hulle inbring is die grootste klomp tjol wat ek in my lewe gehoor het.

DieKriek ·

Ek reken hulle wil hê mense moet huistoe gaan en nie kroeg toe nie, ná werk. Ek is nogal aangenaam verras deur die samewerking van besighede. Dettol of ander handereiniger voordat jy by die deur ingaan en sommige winkels se personeel dra maskers en handskoene.

Oujongvrou ·

Ivana dis my vraag ook. Alkohol maak juis die virus dood. En 100 mense is al klaar 99 te veel byeen. Die spul het geen idee wat om te doen nou bring hulle simpel reels in. China het alles toegemaak en almal moes by die huis bly.

Johan Venter ·

In baie winkelsentrums is die restaurante mos langs mekaar geleë, en as daar nou 5 restaurante is en elkeen mag net 50 kliente maksimum akkommodeer, beteken daar is 250 mense na aan mekaar in daardie selfde gedeelte van die winkelsentrum.

Nou, Bheki Cele het die vakbond Nehawu gewaarsku dat sy beplande massa-optrede op 30 Maart slegs kan voortgaan as minder as 100 mense daaraan deelneem. Ek weet nou nie wat die regulasie sê, as byvoorbeeld ‘n ander vakbond so tweehonderd – vyfhonderd meter verder ‘n ander betoging het nie, en dan nog so tweehonderd – vyfhonderd meter verder ‘n ander vakbond sy eie betoging het nie.

Maar nou verdeel, soos per die voorbeeld hierbo, Nehawu sy troepe in veelvoude, met maksimum 100 persone in ‘n groep ‘n paar honderd meter uitmekaar. En dit is nou nie meer vakbond, x, y of z nie, maar nou betoog hulle met een oogmerk onder die naam Nehawu?

Johan Venter ·

Aha, en ek haal aan uit ‘n berig van vanoggend se Rapport:
“Nehawu wil die 20 000 optoggangers wat hy by Pretoria bymekaar wil kry om protes aan te teken teen die besnoeiing van staatsdiens-salarisse in groepies van 99 verdeel sodat hulle mekaar nie met die nuwe koronavirus aansteek nie.”

twaalfboor ·

So dis nou amptelik. Die tronke is die veiligste plek.

Wynand ·

Ek wonder maar net. Wat is die punt om enterntainment plekke halfpad toe te maak en wat het drank verkope met die virus uit te waai? Indien ‘n mens standpunt in neem teen iets en regtig pro-aktief wil optree, dan was die regte besluit om enige bymekaar koms onwettig te verklaar. Self 30 of 40 mense is genoeg om duisende siek te maak. Nou probeer Restaurante en pubs magteloos planne maak om 40 en 50 mense te akomodeeer. Mis ons dan nie die punt van totale sosiale distansiering nie? Ek se weer. Dit is vir my soos om n swembad te verdeel met n denkbeeldige skeidslyn en te se in die een kant mag mense urineer en in die ander kant nie. Wat is die punt? Ek wonder maar net. Julle is welkom om repliek te lewer!

Vriendelike Frikkie ·

Daar dink ons toe in die tagtigerjare ons gaan vlieënde motors in 2020 he. Min het ons gedink ons sal hele bevolkings wêreldwyd basiese higïene leer. Ons het daai een nie sien kom nie!

koos10 ·

My hoop is dat ons land se misdaad vlakke en staatskaping ook tot nasionale rampe verklaar word. Alle SA burgers word hierdeur geraak en die regering is nie werklik ernstig daaroor nie.

Cerci ·

Is die ure korrek vir Saterdae ? “Die ure waarbinne alkohol in die openbaar verbruik mag word, is bevestig as tussen 09:00 en 18:00 van Maandag tot Saterdag”

Hannes ·

“hulle mag nie patrone gebruik nie” Ek was nie bewus dat die polisie kan brei nie, en hoe sal hulle dan brei sonder’n patroon?

Johan Venter ·

Oormatige alkohol affekteer die immuunsisteem en is die oorsaak van verskeie disfunksies in die liggaam, maar die matige inname tydens ‘n ete by ‘n restaurant sal nie ‘n vaal kol maak nie.

My beskeie opinie is dat die regering wil nou op alle vlakke in beheer wees en hul stempel op ons afdruk, sommer oral waar ons is.

Dit gaan seker nie ordelik in alle restaurante nie, maar dit behoort ‘n saak vir die uitsmyters te wees.

Die minister maak vir die polisie net nog meer werk, terwyl hulle nie eens dit wat tans daar is, kan bemeester nie, mens moet oral waar jy loop oor jou skouer kyk en is nie elke dag van jou lewe seker nie, vra die boere.

Die gemiddelde moordsyfer in die land is tans 60 moorde per dag, terwyl diegene wat plaaslik positief vir die virus toets nou al amper daarby is, maar sonder enige lewensverlies.

Die polisiediens behoort in ‘n noodtoestand te wees.

Oujongvrou ·

Nou moet ons nie net koes om vermoor te word nie, ons moet koes vir die virus ook.

Michael ·

Ek vind hierdie ministers van SA skreeusnaaks en hulle moet julle lei,vriende my innige simpatie want julle is in die moeilikheid.

Johan Venter ·

Maar daar is nie noodmaatreels teen die misdaad in plek nie, en intussen maak minister Bheki Cele ongelisensieerde vuurwapens van wetsgehoorsame burgers bymekaar soos mens veldblomme pluk!

Johan Venter ·

Willem, dis nie sommer enige ‘n hoed nie, dis ‘n Klassiek Fedora hoed.

Johan Venter ·

En dis ‘n hoë kwaliteit vilthoed – kleure beskikbaar: swart, grys, vlootblou, koffie, kakie, rooi, wynrooi.
Dit lyk my die minister het net ‘n swarte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.