Só gaan SA lughawens voortaan funksioneer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het Maandagmiddag tydens ‘n virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer ‘n fassinerende blik gebied op hoe lughawens voortaan gaan funksioneer.

Die maatskappy, wat in ‘n gesonde finansiële posisie is, het reeds alle nodige veranderinge by die OR Tambo-lughawe in Gauteng, die Koning Shaka-lughawe in Durban en die Kaapstadse lughawe aangebring en is gereed om reeds vanaf 1 Junie daardie lughawens te heropen.

Alhoewel dit met die maatskappy goed gaan, voorsien hulle vanjaar ‘n verlaging van 40% aan inkomste weens die koronavirus, en is sulke vooruitskattings moeilik om akkuraat te doen omdat soveel lugdienste wêreldwyd in die knyp is. Emirates, wat verlede jaar R2 miljard wins gemaak het, het byvoorbeeld pas om staatshulp aansoek gedoen.

Wanneer Acsa hul lughawens heropen, sal dit aanvanklik net in Kaapstad, Durban en Johannesburg wees, en vlugte sal na verwagting aanvanklik slegs van sesuur tot negeuur soggens vertrek, asook tussen drieuur en sesuur saans.

Die huidige verstandhouding is dat geen kos aan boord vlugte verkoop sal word nie, en dat wegneemkos dus op lughawens verkoop sal word.

Aankomssale, vertreksale en bagasiesale sal uurliks gesaniteer word, alle bagasie sal voor en ná vlugte gesaniteer word en geen fisieke menslike kontak met ander mense sal toegelaat word nie. Elke mens sal trouens te alle tye 2 meter van die volgende mens af moet bly en die tersaaklike merke op die vloere van lughawens is reeds aangebring. Elke tweede stoel op elke lughawe sal vakant gelaat moet word en die nodige afsperrings is reeds aangebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Die 3 uur tot 6 uur saans is seker namiddagure .Dis ook goed om te hoor Acsa is in n goeie finansiele posisie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.